ʼn Nuwe era vir Porsche …

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Ek is ʼn Porsche-liefhebber. Ek smag om een van my eie te besit, en indien ek ooit die voorreg het om een te koop, sal ek nie huiwer nie. Tans pluk die 718 Cayman GT4 verskriklik hard aan my hartsnare.

In die sewentigerjare het Porsche sy eerste sukses by Le Mans behaal met die ikoniese Porsche 917 en het nou al altesaam 19 algehele- en talle-klasoorwinnings opgeraap. Ek sou reken dat die Porsche 911 een van die suksesvolste sportmotors in motorresies ooit is. Nick Tandy het in sy Porsche 911 GT3 R die nege uur lange 2019-Kyalami-uithouren gewen, en daardeur die renjaer- en vervaardigertitels vir die jaar opgeraap. Ek was daar, en om daai 911 te hoor veg vir die eerste plek ná ʼn verskriklike hoëveld-donderstorm was asemrowend.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Dit is onweerlegbaar dat Porsche al talle ikoniese voertuie oor die jare vervaardig het … maar soos die wêreld die besoedelingmonster begin aanpak, só ook kom fossielbrandstof in die spervuur. Ons weet wat ʼn moontlike oplossing is – elektrisiteit. Ja, tans word baie van ons krag in Suid-Afrika deur fossielbrandstowwe opgewek, maar al hoe meer word danksy die son en wind verskaf. Ek hoor wat party gil: “Dit sal nooit in Suid-Afrika werk nie!” Ek stem nie saam nie. Daar was ʼn tyd toe daar gesê is dat batterye nooit goeie reikafstand sal kan bied nie … dis onwaar. Kom ek verduidelik.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Ons was onlangs by die bekendstelling van die splinternuwe Porsche Taycan. ʼn Ten volle battery-aangedrewe elektriese voertuig, of BEV (Battery Electric Vehicle). Die Taycan Turbo S het ʼn 93.4 kWh-battery. Hier op die platorand, met my agter die stuur van Fourways af noord, af met die N14, deur Magaliesberg, óm Harties na die N4 – verby my huis in Montana en terug Fourways toe – gee die Taycan Turbo S ʼn kragverbruiksyfer van 24 kWh/100 km. Ek sal dus 389 km kan ry in ʼn Taycan … dan is sy battery pap. Ons het nie die Taycan met sagte handskoentjies hanteer nie.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Die ontwerp is vir my indrukwekkend in die sin dat dit ʼn doodgewone motor is. Dit lyk nie soos ʼn vlieënde piering nie. Dis ʼn goeie ding. Die voorste ligte is vir my ʼn bietjie vol fiemies, maar dit dra wel by tot ʼn fantastiese lae windweerstand, Cd 0.22 – die laagste van enige Porsche. Van agter laat die Taycan my baie aan ʼn Panamera dink … en dis nie ʼn slegte ding nie.

Dis aan die binneruim waar dinge verder eg Porsche is. As mens inklim, is dit steeds ʼn Porsche, en nie ʼn vlieënde piering nie. Weereens is dit ʼn goeie ding. Daar is tog ʼn nuwe drywende paneelbord ontwerp, maar dit lyk bitter mooi, en werk fantasties. Ek sê al ʼn geruime tyd … enige Porsche voel min of meer dieselfde. As mens inklim, is jy vinnig gemaklik, en weet waar om alles te kry. Daai ergonomie word oorgedra in die Taycan.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Dit bring my by die mees asemrowende deel van ʼn Taycan Turbo S. Die 800 V- elektriese motor en batterye kan tot 560 kW en 1 050 Nm bied. Oor ʼn duisend Newton-meter! Let wel, 0–100 km/h neem ʼn belaglike 2,8 sekondes, en 200 km/h slegs 9,8 sekondes. Die Turbo S sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 260 km/h. Fantasties.

Die Taycan kan teen 270 kW laai. En 100 km se reikafstand sal slegs vyf minute en 30 sekondes neem op die sterkste laaiers. Die sterkste laaiers tans in Suid-Afrika is egter 80 kW. Indien mens ʼn Taycan koop, kry mens gratis ʼn 22 kW-laaier wat by jou huis geïnstalleer word.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Daai laaier vat slegs vier uur en 30 minute om te laai van leeg tot vol. Mens moet onthou dat jy waarskynlik so min soos 20% van die battery sal gebruik elke dag werk toe en terug. Ek hoor die volgende ou gil: “Wat van beurtkrag!?” Die ergste beurtkrag wat ek al teëgekom het, is ses uur per dag. Dit los 18 uur om jou voertuig te laai … heeltemal genoeg.

GridCars het al ‘n omvattende netwerk van laaistasies in Suid-Afrika en mens kan tussen die grootste dele van die land reis, behalwe dalk die verre Noord-Kaap.

Die Porsche Taycan. Foto: Verskaf

Op die pad is die Taycan ietwat van ʼn verrassing. Dit is vinniger tot 100 km/h as die meeste supermotors – dog so gemaklik soos ʼn Panamera. As mens so op die oop pad toer, is ʼn stil vuurpyl ʼn droom. Die stilte is uiters ontspannend … terwyl jy weet daar skuil ʼn atoombom onder die versneller. Daar is geen ander voertuig wat verbysteek soos ʼn Taycan Turbo S nie. Dit is só vinnig dat mens eers agter die kar voor jou moet uitskuif voordat jy die versneller trap – anders sal jy teen hom vasjaag.

Die Taycan is bitter maklik om op te som. Dit is ʼn algehele nuwe rigting vir Porsche. Die Porsche DNS is nog daar – net met ʼn ander hart. ʼn Hart wat klop soos enige ander, die een het net 800 V in plaas van petrol. Die sukses van voertuie soos Taycan gaan die voortbestaan van voertuie soos die GT3 waarborg, en dít is nog ʼn rede hoekom die Taycan so fantasties is.

Die reeks lyk só:

Porsche Taycan 4SPorsche Taycan TurboPorsche Taycan Turbo S
Krag390 kW/640 Nm500 kW/850 Nm560 kW/1 050 Nm
Topspoed250 km/h260 km/h260 km/h
0–100 km/h4 sek3.2 sek2.8 sek
0–200 km/h12.9 sek10.6 sek9.8 sek
Reikafstand463 km450 km412 km
PrysR2 586 000R3 426 000R4 027 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan. Die battery word gedek deur ʼn 8 jaar-waarborg. Diensintervalle is elke twee jaar/30 000 km. Reikafstande is op die WLTP-protokol gebaseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boortor ·

Turbo S?? Turbo op n elektriese motor? Dis ook net Porsche wat dit kan regkry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.