ʼn Nuwe rigting vir Hyundai se i20

Hyundai se i20 is ʼn uiters gewilde motor in Suid-Afrika. Daar is al byna 110 000 i20’s verkoop in Suid-Afrika sedert sy bekendstelling in 2009. Ek was nie gaande oor die eerste weergawe nie – maar die publiek het hom uiters geniet, al was hy aan die einde van die vorige model se leeftyd heel duur teen sy mededingers.

Die nuwe i20 spog met ʼn splinternuwe ontwerp. Tydens ʼn toets het ons die reeksleidende 1.0TGDi Fluid DCT onder hande gehad. Dit is ʼn 1.0 driesilinderturbopetrolenjin met ʼn dubbelkoppelaarratkas. Indrukwekkend. Die voorkant se ontwerp is vir my mooi, en sportief. Die agterkant is waar Hyundai se ontwerpers my verloor.

Die binneruim het ʼn vars ontwerp met hoekige lyne. Die materiale is nie van ʼn uiters luukse gehalte nie, maar die bougehalte voel darem goed. Vir ʼn klein luikrug is daar lekker toerusting en al die luukshede wat ʼn mens deesdae van ʼn nuwe motor verwag. Selfs lugopenings vir agterste passasiers sowel as ʼn selfoonlaaiprop. Voor in die kajuit is leer bekleedsel, klimaatbeheer, Apple CarPlay en Android Auto en dan al die standaarde luukshede soos kragstuur, elektriese vensters en dies meer. Die klein Hyundai spog met draadlose verbintenis tussen jou foon en Apple CarPlay of Android Auto. Dit ís inderdaad lekker, maar die tegnologie kan soms vol fiemies wees – hoewel dit nie uniek aan Hyundai is nie. Die meeste van die draadlose weergawes sukkel soms. Ek verkies steeds om die draad te gebruik.

Die nuwe turboaangejaagde driesilinder bied ʼn indrukwekkende 90 kW en 172 Nm. Dit, gepaard met ʼn sewespoed dubbelkoppelaar ratkas bied ʼn lekker ervaring op die pad. Turboaangejaagde enjins voel werklik lekker sterk hier bó op die platorand, maar ʼn mens moet weet dat indien jy al daai krag die heel tyd gebruik, die voertuig soms swaar kan raak op brandstof. Die i20 tref ʼn lekker middeweg tussen verrigting en verbruik.

Aan die veiligheidskant het die i20 ses lugsakke en sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding sowel as vastrap en stabiliteitsbeheer. Die vering is net soepel genoeg, tog hanteer die i20 soos sy sportiewe voorkoms beloof.

Dit is vir my moeilik om die i20 op te som. Dit is ʼn lekker alternatief in die B-luikrug-segment vir Polo en Fiesta – maar ek is nie oortuig dat ek wel een sou koop nie. Ek sien die sjarme van ʼn unieke voertuig, wat juis nie ʼn Polo is nie – en Hyundai se waarborgverbrandingskoers op i20 is indrukwekkend laag – so die voertuie is betroubaar, en omdat daar nie derduisende op die paaie is nie – word dit ʼn laer diefstal en kapingsrisiko. In daardie geval dink ek sou my keuse swaai na Citroën se C3.

Die reeks lyk só:

Hyundai i20 1.2 Motion handrat 61 kW/115 Nm 5,9 ℓ/100 km R275 900
Hyundai i20 1.2 Fluid handrat 61 kW/115 Nm 5,9 ℓ/100 km R289 900
Hyundai i20 1.2 Fluid handrat tweekleur 61 kW/115 Nm 5,9 ℓ/100 km R294 900
Hyundai i20 1.4 Motion outo 74 kW/133 Nm 6,9 ℓ/100 km R305 900
Hyundai i20 1.0 TGDI Fluid handrat 90 kW/172 Nm 6,5 ℓ/100 km R330 900
Hyundai i20 1.0 TGDI Fluid handrat tweekleur 90 kW/172 Nm 6,5 ℓ/100 km R335 900
Hyundai i20 1.0 TGDI Fluid DCT 90 kW/172 Nm 6,9 ℓ/100 km R355 900
Hyundai i20 1.0 TGDI Fluid DCT tweekleur 90 kW/172 Nm 6,9 ℓ/100 km R360 900

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan sowel at 7 jaar/ 150 000 km padbystand.

Die kompetisie lyk só:

Citroën C3 1.2T Shine 81 kW/ 205 Nm 6 ℓ/100 km 5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R352 900
Volkwagen Polo Life 1.0TSI 85 kW DSG 85 kW/ 200 Nm 5,4 ℓ/100 km 3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R370 700
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo 92 kW/ 170 Nm 5,2 ℓ/100 km 4 jaar/ 120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R382 900
Suzuki Swift 1.4T Sport outo 103 kW/ 230 Nm 6,1 ℓ/100 km 5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R382 900
Peugeot 208 1.2T Allure outo 96 kW/ 230 Nm 6,3 ℓ/100 km 5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R396 900

Dié voertuie is almal bitter sterk mededingers. Ek persoonlik vrek oor die Citroën C3, én dis ʼn winskoop teen daardie prys met ʼn lae diefstal- en kapingsrisiko. Die splinternuwe Peugeot 208 self is ʼn pragtige voertuig. Die Suzuki Swift Sport bied die beste verrigting, en ʼn bitter sterk waarborg – teen ʼn billike prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Hulle gaan nog 100kW moet bysit voor ek my Subaru gaan inruil, maar ek hou rerig baie van die kajuit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.