’n Onderskatte klein juweeltjie

Wanneer dit by motors kom, het die Italianers darem maar ʼn ryk geskiedenis met spesifiek twee soorte voertuie – piepklein motors en vuurvretende supermotors. Ek het nog nooit ʼn Ferrari gery nie, maar wel ʼn paar Lamborghini’s en een ding is vir seker, die Italianers is nie gepla met die gebruiklike nie.

Die pragtige klein Fiat 500 is al ʼn klompie jare in Suid-Afrika beskikbaar. Daar is egter nou vier spesifikasievlakke en twee ratkaste beskikbaar. Die enjin is ʼn fantastiese klein 900 cc‑tweesilinder. Hy klink soos ʼn BMW GS-motorfiets as jy hom bietjie trap. Die enjintjie bied 63 kW en 145 Nm. Dis lekker sterk, veral in ʼn tjorrie wat nie veel groter as ʼn skoen is nie.

Die Cult-, Connect- en Sport-modelle is almal met ʼn handrat toegerus. Die Dolcevita maak gebruik van ʼn AMT, of ʼn outomatiese handrat. Binne werk hy nes ʼn handrat, maar hy wissel self ratte. Die handrat is beslis my keuse, maar vir diegene wat geensins ʼn handrat kan ry nie – en nie jare se ervaring het nie – sal die AMT heel goed wees.

Die Fiat 500 het ʼn paar dinge om mee te spog. Die tweesilinderenjin is voorwaar lig op brandstof. Die kajuit is luuks toegerus met spoedkontrole, elektriese vensters, Bluetooth op die Cult en CarPlay en Android Auto op die Connect, Sport en Dolcevita. Die 500 spog met sewe lugsakke, ongeëwenaard in dié segment.

Dit is maklik om die Fiat 500 op te som – dit ʼn pragtige klein dingetjie. Hy is luuks, veilig én bekostigbaar. Sjoe. Ek dink die intree-Cult-model se prys is ʼn ware winskoop. Ons gaan weer tyd met die 500 deurbring, maar indien jy in die mark is vir ʼn klein motor – moet hom nie miskyk nie.

Die reeks lyk só:

Fiat 500 CultR219 900
Fiat 500 ConnectR260 900
Fiat 500 SportR269 900
Fiat 500 Dolcevita outoR274 900
Fiat 500 Sport cabrioletR319 900
Fiat 500 Dolcevita cabrioletR324 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg.

Ons sal weer tyd met die Fiat 500 deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wiehan ·

Ja nee Hardekwas, jy moet maar liewer by jou Toyota bly, of is dit dalk ‘n Suzuki, Subaru of dalk ‘n Daihatsu. Sal op die internet moet gaan kyk wie eintlik die kar gebou het. Wonder maar net.

Wielspore ·

Baie jare terug is die Fiat 500 gebou as brood en botter klein stads voertuig vir die Europese mark. Van die modelle is ook na SA ingevoer en dit was nogal ‘n klein voertuig in vergelyking met die ander modelle soos Valiant, Chevrolet, Studibaker en Mercedes wat te koop was.
Vandag kry is die Fiat 500 weer beskikbaar wat gemik is op die mode mark maar beslis nie teen ‘n goedkoop prys soos sy voorganger. Al is dit ‘n mooi voertuig is sy mark beperk tot bekostigbaarheid deur die koper. Sal ek so baie betaal vir ‘n mode voertuige, nee.
Lekker ry.

Riaan ·

Ek kyk nie eers meer na die “normale” motors nie. Ek val in die mark van make en modelle wat nie gewild is onder die diewe en highjackers nie. Ek dink dit is ‘n goeie keuse vir ‘n vroulike student

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.