ʼn Opwindende luikrug

Clio is ʼn gewilde naam as mens aan ʼn modieuse luikrug dink. Die Clio is waarskynlik die model wat vir Renault in Suid-Afrika naam gemaak het met hul terugkeer na die land. Ons het nie die eerste generasie gekry nie, maar eers van die tweede af, en nou het Renault so pas die vyfde generasie plaaslik bekendgestel.

Ek hou baie van die ontwerp. Dit bly ʼn mooi tjor, en in die regte kleur trek hy vreeslik aandag. Die binneruim is gemaklik en die bougehalte netjies. Die paneelbord vertoon selfs luuks, net soos die bekleedsel op die sitplekke. Ek hou nie van nagemaakte leer nie.

Namate mens die kajuit betree, is mens gou gemaklik. Die pedale is nie té ver vorentoe soos met die meeste Franse buksies nie, en die stuurwiel is verstelbaar, so mens is vinnig gemaklik.

Die digitale instrumente vertoon mooi en bevat al die inligting wat mens graag sou wil weet. Dít, gepaard met die groot raakskerm vir die inligtingstelsel werk goed saam. Daar is vele luukshede soos outomatiese elektriese vensters, klimaatbeheer, spoedkontrole, Apple CarPlay en Android Auto – om ʼn paar te noem.

Daar is ʼn nuwe 1.0-driesilinderturbopetrolenjin onder die kap, en hy gaan gepaard met ʼn 5-spoed-handrat. Die enjin bied 74 kW en 160 Nm. Heel goed. Renault sê die Clio sal 5,7 ℓ/100 km om die gekombineerde siklus kan handhaaf. Die ratkas se koppelaar werk mooi, en die ratwisselingsaksie is glad, maar ek kan nie help om te wonder hoekom daar slegs ʼn handrat beskikbaar is nie. Renault sê dat die B-luikrugsegment 80% handrat is, maar ek stem nie saam nie. As ons vra waar is die handrat, dan sê ander vervaardigers meestal die mark is 80% outomaties.

Aan die veiligheidskant bied die Clio ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en vastrap, asook stabiliteitsbeheer. Daar is aktiewe stelsels soos noodremhulp, wegtrekhulp en baandwaalwaarskuwing.

Op die pad toer die Clio lekker. Sy vering is soepel genoeg, en as mens net begin wonder of die vering nie dalk bietjie hard is nie, dan kom mens by ʼn bergpas en dié 1.0-driesilinder betower. Die nuwe Clio vlieg teen Franschhoekpas af, glo my.

Dit is baie maklik om die Clio op te som. Dis ʼn pragtige ontwerp, en die binneruim is luuks. Renault het al goeie naam gemaak in Suid-Afrika, veral met die Clio. Die luikrugsegment is nou besig om baie opwindend te raak met nuwe modelle soos die opgeknapte Polo, splinternuwe Peugeot 208 en ander B-luikrugmededingers. Al wat ek hoop, is dat die Clio nie seergemaak gaan word deur die feit dat daar nie ʼn outo beskikbaar is nie. Toetsbestuur beslis ʼn Clio – dis ʼn fantastiese tjor.

Die reeks lyk só:

Renault Clio 1.0 Turbo LifeR309 900
Renault Clio 1.0 Turbo ZenR324 900
Renault Clio 1.0 Turbo IntensR349 900

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/150 000 km-waarborg en ʼn tweejaar/30 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Clio deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.