ʼn Perd van ʼn ander kleur

Deur Carl Kritzinger

Die Ford Mustang. (Foto: Verskaf)

Jy kry twee soorte perde: die een is mooi en lekker om teen die strand af te ry; die ander perd blaas vuur en is soos ʼn dier wat uit ʼn hok wil ontsnap. Die nuwe Ford Mustang, met sy opgeknapte binneruim en sterker enjins, is sonder twyfel ʼn perd van ʼn ander kleur wat jy met entoesiasme sal wil opsaal.

Hierdie ikoon het ʼn nuwe baadjie gekry, of sal ek sê klerekas. Die splinternuwe Ford Mustang pronk met meer aggressiewe lyne. Van voor af is dit te danke aan die herontwerp van die enjinkap. Soos van ouds – waar dit hoog mode was op Amerikaanse “muscle cars” – het Ford twee lug-inlate aangebring wat nie net help met verkoeling nie, maar jou ook onmiddellik terugvat na die 70’s. Hoewel daar heelwat veranderinge voor en agter aangebring is, behou die Mustang steeds sy onmisbare voorkoms wat oud en jonk se harte vinniger sal laat klop.

Die Ford Mustang. (Foto: Verskaf)

Met die toevoeg van ʼn verstelbare digitale instrumentepaneel het die binneruim ʼn meer luukse gevoel met afwerking van hoë gehalte. Die inligtingstelsel is ook opgeknap en maak dit maklik om alles, van klimaatbeheer tot jou selfoon, moeiteloos te sinkroniseer en beheer.

Die Mustang is ook veiliger as ooit, met die toevoeg van volgafstand- en baanbeheer asook ʼn stelsel wat die perd in sy spore stop, as ʼn voetganger dalk in sy pad sal staan.

Die Mustang is nog steeds beskikbaar in ʼn 2.3-liter-EcoBoost-petrolenjin en my persoonlike keuse – die 5-liter-V8-petrolenjin. Die 2.3-liter-EcoBoost se wringkrag skuif op na 441 Nm terwyl die 5.0-liter-V8 331 kW en 529 Nm lewer. Die grootste verandering is die nuwe tienspoed- outomatiese ratkas. Die gladde ratwisseling maak die Mustang ʼn droom om te bestuur teen enige snelheid en help die ratkas ook met brandstofverbruik.

‘n Kykie onder die kap van die Ford Mustang. (Foto: Verskaf)

Die 2.3-liter doen alles reg. Hantering en versnelling is baie goed, maar ek kan nie help om te dink dat ʼn Mustang niks anders as ʼn 5.0-liter-V8 moet wees nie. Dink aan “Eleanor” in die fliek Gone in 60 Seconds of Steve McQueen in Bullitt – die rou klank van ʼn V8, met bande wat swart strepe op die teer trek en die brullende klank van ʼn V8 wat net vra vir meer! Die 5.0-liter is soos om ʼn geweer se sneller te trek: eers is daar stilte en dan kom die knal.

Ford het besluit om so bietjie donderweer by die knal te voeg met die bekendstelling van die Mustang Bullitt. Dié perd pronk met ʼn unieke groen en swart kleur en met net 50 wat beskikbaar is in Suid-Afrika, is die Bullitt sonder twyfel dié een om te koop as jy ʼn legende wil besit.

Die nuwe Ford Mustang sal sommer weer ʼn huppel in jou stap sit en ʼn Steve McQueen in jou wakker maak – op pad werk toe of iewers in ʼn bergpas, dié perd sal sorg dat jy nie kan ophou glimlag en runnik nie.

Die Ford Mustang-reeks lyk só:

Mustang 2.3 Fastback 10ATR768 000
Mustang 2.3 Convertible 10ATR831 000
Mustang 5.0 GT Fastback 10ATR915 800
Mustang 5.0 GT Convertible 10ATR978 400
Mustang Bullitt 5.0 V8 GT Fastback 6MTR995 400

Die reeks word gedek deur Ford se Ford Protect 4 jaar/120 000 km-waarborg en ʼn 6 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrit ·

Daar is min dinge so mooi soos n mooi kar, geweer, vliegtuig en motorfiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.