ʼn Petrolkop-paradys?

Elke kind word groot met ʼn sekere droomkar. Meeste laaities droom oor Ferrari’s, Lamborghini’s, Porsche’s en dies meer. Ek was omtrent 11 jaar oud toe BMW die eerste M3 in Suid-Afrika bekendgestel het. Die E36 M3 was ʼn vuurvretende 3,0 inlynsessilinder met ʼn 5-spoed handrat en 211 kW. Hy kon 100 km/h in ses sekondes haal, en daar was geen vastrap of stabiliteitsbeheer nie. Daai kar het my aandag gegryp…

Die opgeknapte E36 het toe 3,2 liters gekry, 237 kW, ʼn sesspoed handrat en vastrap sowel as stabiliteitsbeheer. Toe ek net begin werk het ʼn kollega een besit. Dit was ʼn pragtige kar, en blitsvinnig vir daai tyd. In 2001 het BMW die E46 M3 bekendgestel. Ek was net klaar met skool, en daar was geen ander kar wat ek wou hê nie. Die E46 het 252 kW gebied, en was vir die eerste keer beskikbaar met ʼn tipe outomatiese ratkas. Die CSL weergawe was ʼn bioniese liggewigweergawe wat ʼn pragtige geluid gemaak het.

Die E46 M3 CSL was die toppunt van die M3 vir my. Die E90-reeks was die eerste V8-weergawe, en net só mooi. 309 kW was aan die orde van die dag, en weereens ʼn beter outomatiese ratkas. Nou begin ons na moderne M3’s kyk, en in 2014 het BMW hul F80 M3 bekendgestel. Die motorwêreld was op sy kop gedraai deur die turboaangejaagde inlynsessilinder BMW… ʼn BMW het nie turbo’s nie. Ek was gek oor die F80-weergawe. Dit turbo-enjin trek soos ʼn trein, en die dubbelkoppelaar-ratkas was puik.

Dan kom ons by BMW se spiksplinternuwe G80 M3 en M4. Die M3 is ʼn vierdeur sedan, en die M4 ʼn tweedeur koepee. BMW maak weereens gebruik van ʼn fantastiese 3,0 inlynsessilinder met twee turbo’s. Daar is wel nou ʼn gewone ZF-wringkragomsitter outomatiese ratkas, en daar sal later vierwielaangedrewe weergawes beskikbaar wees. Wat my hartseer maak is dat ons nie die sesspoed handratweergawe in Suid-Afrika sal kry nie, en ook net die sterker Competition-weergawes.

Die ontwerp van die nuwe G80-reeks het mense in rep en roer. Daar is polariserende opinies daaroor. Ek’t vinnig beoordeel, maar sodra jy hom in die lewende lywe sien is hy beter. Die nuwe enjin is fantasties en bied 375 kW en 650 Nm. Die puik enjin gepaard met ZF se 8-spoed outo maak wel vir my dinge in die G80 M3 en M4 té maklik. Dit is asof die voertuig té bekwaam geraak het. Ek wil harder werk vir die verrigting, en wanneer mens dit regkry – dat daar meer vreugde is in die bemeestering van die monster.

Verder is die kajuit pure BMW. Die gehalte is puik, en die spesifikasievlak is uit die boonste rakke. Daar is koolstofvesel ren-sitplekke beskikbaar, wat fantasties lyk – maar indien jy nie ʼn maer ou sportsmodel is nie, sou ek dit nie aanbeveel nie.

Op die pad is die M3 en M4 ʼn pure wapen. Indien ʼn mens nie oplet nie, is daar in ʼn oogwink verskriklike spoed op die spoedmeter. Die padhouvermoë is verskriklik goed, dalk té goed. Dit laat my dink dat ʼn mens harder en harder gaan druk en soek, tot jy die limiet vind – en dan is die gort gaar. Ná my rondes om die baan vra ek vir Gennaro Bonafede, ʼn professionele renjaer en die hoof van M in Suid-Afrika, om vir my te wys hoe mens dit werklik doen. Sjoe. Die M4 se vermoë is ver bó myne… en as mens sien waartoe hy werklik in staat is – dan is ʼn mens verstom.

Dit is vir my moeilik om die M3 en M4 op te som. Tussen die twee is die M3 beslis my voorkeur. Die enjin en ratkas is té bekwaam, en dus verloor die M ʼn bietjie van sy sjarme vir my. Die pakket is al só puik, dat dit té maklik is. Die handrat is nie vir Suid-Afrika beskore nie – maar ek dink dat ʼn gewone M, nie die Competition – met ʼn handrat is moontlik die een wat in die kol is.

Die reeks lyk só:

BMW M3 CompetitionR1 860 000
BMW M4 CompetitionR1 940 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar / onbeperkte km waarborg en 5 jaar / 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Ons sal weer tyd met die M3 en die M4 deurbring. Dalk as ek ʼn bietjie meer tyd met elkeen in ʼn bekende omgewing deurbring kom die sjarme na vore. Ons sal hulle dán met hul mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.