ʼn Praktiese Mini?

Die Mini Cooper S Clubman. Foto: Verskaf

Kyk, daar is min dinge so vreesaanjaend soos ouer word. Is dit nie vreemd hoe ons as tjokkertjies tog net wil ouer wees, en soos ons ouer word tog net weer jonk en sorgvry wil wees nie.

ʼn Mens gaan deur fases. Ná skool wil jy die coolste kar hê. Dan kom kinders. Vir party nóg kinders. Skielik is ʼn mens se oulike droomtjor nie meer voldoende nie.

Ek dink Mini het die perfekte oplossing vir sy liefhebbers. Ek kan elkeen van die jong vroue in die kantoor in ʼn Mini Cooper sien, en ek dink nie een sal sê nee dankie nie.

Die Mini Cooper S Clubman. Foto: Verskaf

Maar daar is tans twee swangerskappe in ons kantoor. Waarheen dán? Ek sal nie kinders in ʼn Mini wil rondkarwy nie.

Die Mini Cooper S Clubman is egter die perfekte oplossing. Dink aan ʼn sjiek, modieuse klein stasiewa. Vier deure. ʼn Billike kattebak en sitplek vir vyf. ʼn Ware gesinsbuks. Mini se ingenieurs was regtig slim. Hulle kon ʼn praktiese voertuig maak sonder om die wese van Mini te verloor. Die Clubman is net só rats soos die klein luikrug.

Die Mini Cooper S Clubman. Foto: Verskaf

Die binneruim is presies dieselfde as die klein Mini sʼn – hy hou net langer aan agter. Die bougehalte in ʼn Mini is indrukwekkend – onthou, dit sal aan dieselfde standaarde gehou word as ʼn BMW. Die sitplekke is gemaklik en as ʼn mens eers gewoond is aan hoe ʼn Mini werk, ergonomies.

Die Cooper S-gedeelte van die naam moet vir mens ʼn aanduiding gee dat daar ʼn 2,0 turboviersilinder bomklapper onder die kap skuil. Die 2,0 bied 141 kW en 280 Nm. 100 km/h word van stilstand af in 7,2 sekondes bereik. Dis blitsig. Die agtspoed outokas verrig wonders, en sodra ʼn mens op die oop pad toer met die Mini is hy fantasties lig op brandstof.

Die Mini Cooper S Clubman. Foto: Verskaf

Die ritgehalte in die Cooper S Clubman is getrou aan die kern van ʼn Mini. Hy is rats en klou soos ʼn neet. Ja, dit kan effe hard raak op slegte paaie – maar indien jy in ʼn Mini belangstel sal dit jou waarskynlik nie pla nie. Die padhouvermoë is waar die Mini uitblink. ʼn Cooper S Mini kan sy stewels vasmaak en by enige van die beste warm luikrûe bly as die paaie begin wandel. My enigste probleem met die Mini is weens sy runflat bande en verskriklike sensitiewe stuur. Die stuur trek baie maklik in jou hande soos hy skarrel om vas te trap.

Dis maklik om die Clubman op te som. Dis ʼn mammakar vir die ma wat nie meer haar kroos in ʼn klein Mini kan pas nie. Dis veilig, ry lekker en lyk bitter oulik. Ek sien geen nadeel nie. Indien pappa ook van tyd tot tyd ʼn beurt wil hê is daar altyd die vierwielaangedrewe vuurpyl in die vorm van die Cooper Works ALL4 Clubman. Maar wees versigtig om hom te gebruik vir die kindertjies rondry – hulle sal moontlik klein renjaers word.

Die reeks lyk só:

Mini Cooper Clubman100 kW/ 220 Nm6.1 ℓ/ 100 kmR450 633
Mini Cooper S Clubman141 kW/ 280 Nm6.2 ℓ/ 100 kmR532 277
Mini Cooper Works ALL4 Clubman225 kW/ 450 Nm7.7 ℓ/ 100 kmR669 566

Die Mini Clubman is uiters uniek en het nie een direkte mededinger nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dr Pieter ·

Eishh! Teen daardie prys kan mens ‘n regte kar koop! ☺

Stof ·

Erfgeld… Maar gaan hy, met al die elektroniese en “mooi” foefies, so lank hou soos ‘n Uno?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.