ʼn Presidensiële pluimpie vir Toyota

Toyota het Dinsdag amptelik sy eerste plaaslik vervaardigde hibriede motor, die Toyota Corolla Cross, van die produksiebaan by die Prospecton-aanleg in Durban laat rol.

Toyota het die afgelope paar jaar sowat R6,5 miljard in Prospecton belê en pres. Cyril Ramaphosa was gister by die aanleg vir die amptelike bekendstelling.

Die Toyota Corolla Cross word op Toyota se nuwe TNGA-onderstel (dit staan vir Toyota New Global Architecture) gebou. Dit is die eerste keer wat Toyota hibridiese dryfstelsels by dié aanleg installeer. Die fokus is daarop om meer onderdele plaaslik te verkry en Toyota het 621 verskillende onderdele by 56 plaaslike verskaffers aangeskaf. Die ekonomiese inspuiting van dié projek met plaaslike verskaffers is meer as R1,4 miljard per jaar.

“Ek het die Japannese motorvervaardigers gevra om hul beleggings in Suid-Afrika te versterk. Andrew Kirby [hoof van Toyota SA] het ʼn paar maande later by die tweede beleggingskonferensie na die verhoog gekom om Toyota se belegging van R2,6 miljard aan te kondig,” het Ramaphosa gesê.

Die produksiekapasiteit vir die Corolla Cross is 30 000 eenhede per jaar – 5 000 van daardie eenhede is vir uitvoer na 40 lande in Afrika en die res vir plaaslike verkope. Toyota wil ook teen 2025 meer hibriede Cross-modelle as binnebrandweergawes verkoop. Suid-Afrika het vir vanjaar sover slegs 322 nuwe skoon-energie-voertuie verkoop, waarvan 169 hibried‑, 46 inprophibried‑ en 107 battery elektriese voertuie. Die meeste hiervan is Lexus-motors.

Dié stap is belangrik om wêreldwyd relevant te bly met Europa wat binne enkele dekades nie meer binnebrandenjins sal invoer nie.

Toyota Suid-Afrika beplan om ’n bykomende R2 miljard te belê in sy strewe na koolstofneutraliteit, met die mikpunt om teen 2028 slegs van hernubare energie gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Richard ·

Pft! Ramap….ol wil sowaar die eer inoes vir Toyota se innoverende besluite. Tipies!

Kirst ·

Interessant om te sien nie een van hulle dra ‘n masker op die lint knip foto nie. Maar vir die res van ons is dit wet?

SjN ·

hoop CR en sy mense raak ontslae van die duur luukse swart modelle met die blou ligte ek vervang dit met toyotas.

Wielspore ·

Al is dit ‘n politieke waagtoertjie deur CR vir die verkiesing bly dit nog steeds ‘n prestasie vir Toyota SA en vir SA as ‘n land. Die voertuie wat uitgevoer word bring buitelandse kapitaal in. Ons sien ook uit na die werks ooreenkoms tussen Ford en Volkswagen met die bou en uitvoer van die nuwe Ranger en Amarok. Vervaardiging en uitvoere is goed vir SA.

Richard ·

Ek sien beslis nie uit na die samewerking tussen VW en Ford nie. Nou gaan die Amarok vir seker net so swak soos die Ford wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.