ʼn Verfrissende B-sportnuts

Nog ʼn segment waar dit voel asof daar weekliks nuwe mededingers bekendgestel word, is die B-sportnutssegment. Dink aan klein luikrûe wat effens opgepomp is. Nie heeltemal ʼn sportnuts nie, maar effens hoër en dalk ietwat groter as hul luikrug kleinboeties.

Ek is gek oor Citroën se C3. Ek het self al drie besit. Dit is ʼn gemaklike luikrug, met lekker spasie, ʼn billike kattebak en ʼn enjin wat voel asof hy op skoon lug loop eerder as brandstof. Myne was almal diesel, en die nuwe petrolweergawes is nie heeltemal so lig soos myne was nie, maar nietemin.

Nou het ons Citroën se C3 Aircross. ʼn Klein sportnutsvoertuig, of só sê hulle. Ek dink nie dat die Aircross enigsins meer spasie bied as die doodgewone C3 nie – dalk behalwe kopruimte, maar steeds vyf sitplekke, en dieselfde voetspoor op die pad.

Die binneruim is eenvoudig, dog luuks toegerus. Daar is klimaat- en spoedbeheer, ʼn raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied. Twee pluimpies vir Citroën is die puik ritgehalte en die sitplekke. Lekker breë, plat sitvlakke met oorgenoeg spasie vir dié van ons sonder ʼn supermodelmiddeltjie.

Onder die kap is ʼn 1.2 driesilinderturbopetrolenjin. Hy stoot 81 kW en 205 Nm deur ʼn sesspoed outomatiese ratkas. Versnelling is heel in die kol vir dié soort voertuig, maar dis op die oop pad waar hy verbasend gemaklik is. Citroën sê dat hy 6,5 ℓ/100 km kan haal om die gekombineerde siklus. Ons het hom effens swaarder ervaar met 7,2 ℓ/100 km.

Die C3 Aircross spog met ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer – die lot. Dít, gepaard met die lekker vering en sitplekke, sit mens met ʼn lekker tjor. Ek is net nie oortuig dat ek hom sou vat bó die gewone C3 wat R70 000 goedkoper is nie.

Die reeks lyk só:

Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 kmR401 900
Citroën C3 Aircross 1.2T Shine81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 kmR424 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en 3 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX outo77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km waarborg

4 jaar/60 000 km diensplan

R313 900
Mahindra XUV300 1.2T W881 kW/ 200 Nm6,1 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R316 999
Kia Sonet 1.5 EX outo85 kW/ 144 Nm7,2 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km waarborg

4 jaar/60 000 km diensplan

R331 995
Chery Tiggo 4 Pro 1.5T Elite SE108 kW/ 210 Nm6,8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km voertuigwaarborg

1 000 000 km enjinwaarborg vir eerste eienaar

5 jaar/60 000 km diensplan

R364 900
Renault Duster 1.5dCi Intens80 kW/ 250 Nm4,8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R389 900
Opel Crossland 1.2T Edition81 kW/ 205 Nm6,2 ℓ / 100 km3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/60 000 km diensplan

R407 900
Ford EcoSport 1.0T Titanium outo92 kW/ 170 Nm6,3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R408 700
Hyundai Venue 1.0T Glide88 kW/ 172 Nm6,9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R415 500
Peugeot 2008 1.2T Allure96 kW/ 230 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

3 jaar/60 000 km diensplan

R458 900
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85kW Highline85 kW/ 200 Nm5,3 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km waarborg

3 jaar/45 000 km diensplan

R448 200
Mazda CX-3 2.0 Hikari115 kW/ 206 Nm6,7 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km waarborg en diensplanR509 300

Die drie goedkoopste kompeteerders maak ʼn sterk saak vir hulself uit. Die Vitara Brezza is ʼn puik opsie teen die prys. Teen R390 000 is die Duster ook ʼn puik opsie. Die enigste een wat geheel en al uit die bus uit val is die Mazda bó R500 000. Almal is puik opsies, gaan toetsbestuur soveel jy kan – een gaan met jou hart praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.