ʼn Voorvereiste vir ʼn epiese reistog?

“Ses provinsies, 36 dorpe, 5 000 km, 73 uur oor 15 dae saam met my man, ʼn tiener, ʼn amper-tiener en ʼn koffiefles. Dis die wye draaie wat ek en my gesin die Julievakansie met dié Ford Thunder gery het.”

“Ek is huiwerig om die term ‘epiese reis’ te gebruik, maar as ek soek na woorde om ons reis te beskryf, is dit elke keer die uitdrukking waarheen my gedagtes terugkeer. Elke gesin moet minstens een so ʼn vakansie hê waarna hulle jare later nog sal kan terugverwys – die een toe hulle geen ander keuse gehad het nie as om in mekaar se geselskap te wees vir dae aaneen, in die intieme binneruimte van ʼn voertuig. Waar hulle geleer het om mekaar se musieksmaak en sin vir humor te waardeer.

“Ons is deur bergpasse wat ons na ons asem laat snak het; ons het onbekende stofpaaie tussen goudgeel kanolavelde deur gery. Ons het verdwaal in die Karoovlaktes waar die piekniekbankies langs die pad nog verwelkomend bak in die winterson, en ons net mekaar en die stilte en die wind vir geselskap gehad het.

“Ons het afdraaipaaie sonder naambordjies gevat op plekke waar ons sein weggeraak het. By Witsand en De Hoop het ons walvisse gekyk en getel tot ons moeg getel was; by Eersterivier het die dolfyne soggens vroeg sommer op ons voorstoep kom speel.

“By Malgas het ons met die pont die Breederivier oorgesteek. Ons het in die sneeu gespeel tot ons hande potblou was. Ons het gery waar ons wou, gestop waar ons wou; musiek geluister, gekuier, stil geword, flesse koffie uit blikbekers opgedrink en verwonderd gekyk en gekyk na ons mooie land.

“Die Ford Thunder het ons gevat waar ons wou wees en waar ons herinneringe kon maak wat ons sal bybly…”

Só skryf Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, oor haar en haar gesin se onlangse vakansie.

Met die inperking en ʼn enorme werklading was Susan amper twee jaar laas saam met haar gesin op ʼn behoorlike vakansie.

Toe ek van die reistog hoor, het ek voorgestel dat Susan met ons langtermynbakkie die reis aanpak. Ek was self op ʼn ander reistog met ʼn Ford Ranger Stormtrak – die bakkie wat die Thunder gaan vervang, en ons volgende langtermyntoetsbakkie. Ons het so om en by ʼn duisend kilometer op grondpaaie in die Karoo deurgebring en toe wonder ek…

Hoe lyk die hedendaagse voertuig vir ’n reistog deur Suid-Afrika? Kan dit werklik enige iets anders as ʼn dubbelkajuit wees? In ʼn bakkie wat met 4×4 en ʼn taai stel bande toegerus is, hoef ʼn mens doodeenvoudig nét oor die brandstof te dink. Daar is min wat oor jou pad gaan kom wat ʼn dubbelkajuit nie kan hanteer nie.

Ons het reeds ons opsomming van die Ford Ranger Thunder gepubliseer en ek sien uit na die volgende ses maande met die Stormtrak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Dis goed dat FORD weer vertroue wen. Dit bly ‘n goeie bakkie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.