ʼn Vuurwa op stelte…

Die BMW X4M. Foto: Verskaf

Die motorwêreld is besig om op sy kop te draai. Dis waarskynlik al die wringkrag wat ʼn mens deesdae in al die turboaangejaagde motors kry. Nie net is enjins nou beter as ooit tevore nie – maar bande kan geensins vergelyk word met die kruislaagbande van destyds nie.

Ons het onlangs ʼn BMW X4M getoets. Die X4M los my met ietwat van ʼn penarie. Ek is gaande oor ʼn BMW M-kar. Dit was nog altyd die toonbeeld van verrigting vir my. Maar nou is daar ʼn X3, X4, X5 en X6 … almal vol vet M-karre.

Nou, my penarie. Sê ek dan dat ʼn X M nie ʼn ware M is nie? Glad nie. Wat die X’e kan doen is uiters indrukwekkend. Daar is ʼn foto van ʼn X5M wat by Zwartkops in die hande van Gennaro Bonafede, ʼn Suid-Afrikaanse renjaer en instrukteur by BMW se bestuurskool, só kan loop dat sy regtervoorwiel van die grond af klim.

Die BMW X4M. Foto: Verskaf

Die X4 is nie my gunsteling-ontwerp nie, ek verkies ʼn X3 sonder die stomp boude en beter kopruimte vir my drie kinders. Verder – die ontwerp van die X4 is pragtig vir dié wat van daai styl hou. Die Bee Em spog met fantastiese bougehalte, soos ʼn mens verwag van die Duitse vervaardiger.

Verrigting kom van ʼn turboaangejaagde 3.0 inlynsessilinderpetrolenjin. 375 kW en 600 Nm is waarmee dié X4M oorlog toe gaan. BMW beweer 0 – 100 km/h in 4,1 sekondes, maar ek dink dis effe optimisties. Die opset met die X4M se lanseerbeheer hou die omwentelinge net-net té laag om ʼn vurige lansering te kry. Ek is oortuig dit sal 100% wees by seevlak.

Die BMW X4M. Foto: Verskaf

Die X4M bied goeie dele van twee wêrelde. ʼn Mens kry ʼn vurige sportmotor, én beter grondvryhoogte – seker om oor spoedhobbels te jaag…? Ek persoonlik sal nie met dié M grondpaaie en só aandurf nie. Ritgehalte op teer is heel soepel met aanpasbare vering – en as ʼn mens soos ʼn nar begin jaag is daar amper geen bakrol om van te praat nie.

Die X4M is ʼn bekwame supersportnuts. Ek persoonlik sal eerder twee ander BMW’s koop vir amper dieselfde bedrag. Die X4M kos R1,75 miljoen. ʼn X3 30d én ʼn M2 Competition is net meer as R2m … dís wat ek sou koop…

Die reeks lyk só:

BMW M2 Competition302 kW/ 550 Nm4.4 sek250 km/h

(beperk)

9.8 ℓ/ 100 kmR1 091 164
BMW M4317 kW/ 550 Nm4.1 sek250 km/h

(beperk)

8.3 ℓ/ 100 kmR1 474 362
BMW X3M Competition375 kW/ 600 Nm4.1 sek285 km/h10.6 ℓ/ 100 kmR1 641 162
BMW X4M Competition375 kW/ 600 Nm4.1 sek285 km/h10.6 ℓ/ 100 kmR1 744 762
BMW M5460 kW/ 750 Nm3.3 sek305 km/h10.6 ℓ/ 100 kmR2 119 286
BMW X5M Competition460 kW/ 750 Nm3.8 sek290 km/h12.5 ℓ/ 100 kmR2 632 258
BMW X6M Competition460 kW/ 750 Nm3.8 sek290 km/h12.5 ℓ/ 100 kmR2 733 420
BMW M8 Competition460 kW/ 750 Nm3.2 sek309 km/h10.4 ℓ/ 100 kmR3 300 272

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die X4M se kompetisie lyk só:

Alfa Romeo Stelvio Quadrifoglio Q4375 kW/ 600 Nm3.8 sek

283 km/h

9.8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 679 485
Jaguar F-Pace SVR405 kW/ 680 Nm4.3 sek

283 km/h

11.9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 655 726
Porsche Macan Turbo324 kW/ 550 Nm4.3 sek

270 km/h

9.8 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 699 000
Mercedes-AMG GLC63 S coupé 4Matic+375 kW/ 700 Nm3.8 sek

280 km/h

12.3 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 062 480

Die mededingers is almal bitter spesiaal. Indien jy bevoorreg genoeg is om in dié klas te speel, toetsbestuur almal en kies die een wat vir jou die stoutste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.