Neem só beheer wanneer jou voertuig gly

Foto: Pixabay, Public Domain Pictures

Foto: Pixabay, Public Domain Pictures

Nat paaie is dikwels die oorsaak van talle ongelukke. Maroela Media deel ʼn klomp nuttige wenke wat jou kan help om in beheer van jou motor te bly op die nat paaie in die komende lente- en somerreën.

Dawid Botha, Virseker-woordvoerder,  het in ʼn verklaring gesê wanneer motors in die reënseisoen oor die nat pad gly, in Engels bekend as “aquaplane”, veroorsaak dit dikwels ongelukke, omdat mense nie weet hoe om die motor te hanteer wanneer dit gebeur nie.

“Voertuie gly oor die pad wanneer die bande van die padoppervlak gelig word as dié met ʼn plas water in aanraking kom. Die bande loop dan effektief op ʼn waterkussing, in plaas van op die pad self. Dit belemmer die bande se vermoë om aan die pad te klou en gevolglik die bestuurder se vermoë om die voertuig te beheer,” het hy gesê.

Bande wat oor plasse gly, word hoofsaaklik deur drie dinge veroorsaak: spoed, wat effektief die hoeveelheid water wat jou voertuig se bande moet verplaas binne ʼn sekere tyd verhoog; bande met onvoldoende loopvlakke, wat die vermoë van die band om water te verplaas beperk en waterdiepte, waar die hoeveelheid water op die padoppervlak eenvoudig te veel is vir ʼn band, selfs een met ʼn goeie loopvlak, om betyds verplaas te word.

Dit word verder vererger deur olie en stof wat na die padoppervlak styg in reënweer en hoogs glibberige en gevaarlike toestande tot gevolg het.

Neem só beheer wanneer jou voertuig gly:

  • Moenie impulsief hard rem trap of aan die stuurwiel pluk nie, omdat dit kan veroorsaak dat jou voertuig verder gly.
  • Los die versneller egalig om die voertuig se spoed te verminder.
  • Draai die stuurwiel liggies in die rigting waarin jy wil stuur.
  • Wanneer jy voel die bande kry hul greep op die pad terug, kan jy die rem liggies trap om verder spoed te verminder.

Botha meen voorkoming is egter in dié geval ook beter as genesing. “Dit is beter om seker te maak jou voertuig se bande het voldoende loopvlak, die rem- en stabiliteitstelsels werk effektief, dat jy spoed verminder in reënerige omstandighede en die pad fyn dophou vir glibberige kolle en plasse,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Goeie advies. ‘n Mens het ongelukkig slegs een tot twee sekondes om hierdie besluite uit te voer en dit gebeur so min met ‘n individu dat die ervaring hierin dikwels ontbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.