Nie nét mooi

Daar word gesê dat jy slegs ʼn ware petrolkop is indien jy al ʼn Alfa Romeo besit het. Ek is vas oortuig dat daar brandstof in my are vloei en dat ek ʼn ware petrolkop is – maar ek’t nog nooit ʼn Alfa besit nie. Ongelukkig het ek van hul beste jare gemis. Ek praat van die ou Giulia… en voertuie soos die GT Junior. Daai was Alfas; nie die voorwielaangedrewe onbetroubare buksies wat rondgerits het toe ek ʼn laaitie was nie.

My ma het ʼn Alfa 1.5 Export gehad. ʼn Rooie. Dit was ʼn plaaslike weergawe van die Alfa Sud… blykbaar een van die beste buksies van die era wat hantering betref met sy bokserviersilinderenjin. Helaas, ek het nog nooit ʼn werklike liefde vir ʼn moderne Alfa aangeleer nie… tot nou.

Dit, lesers, is Alfa Romeo se opgeknapte Giulia Velocé. Dié ding is pragtig. Die buiteproporsies is perfek vir my, en die sierwiele presies wat dit op ʼn Alfa moet wees met die sirkels. Met die vorige Giulia het die binneruim my effens koud gelaat, maar dit is heelwat beter in hierdie een.

Daar is ʼn nuwe raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied. Verder is die binneruim lekker luuks. Daar is pragtige Italiaanse leersitplekke en die bougehalte is verbasend goed. Nog ʼn item wat my opval, is die ratwisselingspane agter die stuurwiel. Dit is vas aan die stuurkolom en draai nie saam die stuurwiel nie. Dit is ook van aluminium gemaak en gee die perfekte kliek-geluid elke keer as jy ratte wissel. Die bestuursposisie is vir my nommerpas. Ek kan die stuurwiel ver uittrek, tot lekker naby my, en die stoel gemaklik laag stel.

Op die pad toer die Giulia heerlik. Die 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin bied 206 kW en 400 Nm. Die enjin is gepaard met ʼn 8-spoed ZF‑ outomatiese ratkas – beslis een van die beste in die bedryf aangesien die ratkas in ʼn magdom produkte – van BMW’s tot VW’s – gevind word. Van 0‑100 km/h neem ʼn blitsige 5,7 sekondes, en die Giulia sal 240 km/h haal voluit.

Dit is egter op die pad waar die Alfa se sterkste eienskap na vore kom. Dit is sy ritgehalte en padhouvermoë. Die meeste motors se ritgehalte is deesdae onaanvaarbaar. Die goed ry eenvoudig heeltemal té hard. Ja, dit voorkom bakrol, en bied goeie klouvermoë, maar as Alfa dit perfek kan regkry, kan die res ook.

Rakende veiligheid staan dié Italianer vir niemand terug nie. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap- en stabiliteitsbeheer, elektroniese remkragverspreiding, blindekolwaarskuwing, botsingswaarskuwing met noodremhulp – die lot.

Dit is vir my aangenaam om die Giulia op te som. Die voertuig is so te sê perfek. Ja, ek sou graag die pragtige gebrul van hul 3.2 Busso V6 verkies het onder die kap, maar daai enjin is al stokoud en ʼn mens sal vind dat die nuwe 2.0‑viersilinder met sy turbo’s die V6 se alie sal skop!

Afgesien van moontlike waardevermindering en betroubaarheid wat nog nie bekend is nie, is daar darem die gemoedsrus van Alfa-Romeo wat nou aan Stellantis behoort. Die Stellantis-groep het al wondere verrig in Suid-Afrika met Peugeot, Citroën en Opel; ek sit en wag op aandag om te sien hoe hulle met Alfa gaan toor.

Die reeks lyk só:

Alfa Romeo Giulia 2.0T Velocé206 kW/400 Nm6 l/100 kmR989 900
Alfa Romeo 2.9 V6 Quadrifoglio375 kW/600 Nm8,2 l/100 kmR1 599 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Ons sal weer tyd met die Giulia deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Ek glo nie met daai pryse gaan die Alfa enige ander vervaardiger, veral van Duitsland, laat wakker lê nie.

MakersMark

Is ‘n olie lek en foutiewe solenoid deel van die standaard pakket ?

VaalDonkie

Ek sal ‘n Alfa huur om mee rond te speel vir ‘n dag. Maar ek sal nooit een koop nie. ‘n Alfa is soos ‘n Land Rover vir teerpaaie: baie vernuftig AS HY DIE DAG WERK.

Grens

As jy ‘n ford ry, sal jy gewoond wees aan die een se moeilikheid, met die ford wat net baie goedkoper is.

JohanR

My keuse as ek ooit daai soort geld sou he sou liewer ‘n Lexus LC 500 Convertible wees.