Nissan wys sy kaarte

Nissan het onlangs van sy planne vir die toekoms met die media gedeel.

Die motorvervaardiger het in 2019 R3 miljard belê om die huidige Nissan Navara plaaslik te kan vervaardig. Dié besluit het reeds goeie vrugte afgewerp aangesien die Navara nou een van sy staatmakers is. Nissan het in April 435 Navaras verkoop. Sy Magnite is ook baie gewild en daar is in April 395 daarvan verkoop.

Ons het weer tyd agter die stuur van albei voertuie deurgebring en ʼn mens vergeet vinnig hoe voortreflik ʼn Navara is. Sy kronkelvere bied ʼn ritgehalte wat slegs deur Ford se Raptor geëwenaar word. Die tjoepstil 2.5‑viersilinderturbodiesel toer ook stil. Die stil kajuit, tesame met klasleidende ritgehalte, bied ʼn ervaring wat geen ander bakkie kan bied nie, behalwe die Raptor.

Die Magnite se gehalte voel vir my effens beter as wat ek dit van die bekendstelling af onthou. Wat die Magnite egter teen so min as R287 700 bied, is nie te versmaai nie. Die Kiger, wat ʼn platform met die Magnite deel, bied egter meer lugsakke en is boonop goedkoper ook.

Dit bring ons by ʼn ander voertuig wat uiters gewild vir Nissan is – die Qashqai. Die Qashqai is ʼn voertuig waarmee Nissan die kruismodelsegment geskep het. Dit was waarskynlik een van die eerste luikrugmotors wat op groter vering gesit is om eerder ’n sportnuts as ’n luikrug te wees. Ons wag tans vir die nuwe Qashqai en volgens Kabelo Rabotho, besturende direkteur van Nissan Suid-Afrika, behoort ons hom teen einde vanjaar hier te siene te kry.

Die Qashqai sal die voertuig wees waarmee Nissan sy toekomstige nuwe energieplanne uitstal. Die Qashqai het ʼn e-POWER‑model. Dit is ʼn basies ʼn hibriede motor, maar die dryfkrag kom geensins van die binnebrandenjin af nie. Die enjin dien slegs as ʼn kragopwekker, en die elektroniese motors bied die dryfkrag. Nissan sê ʼn mens kan in die stad ʼn 30%-verbetering in brandstofverbruik verwag, en 20% op die oop pad.

In hierdie stadium is ontwikkeling in Afrika ʼn fokuspunt vir Nissan Suid-Afrika, en vir die nabye toekoms sal ons nie hul volle elektriese voertuie soos die Leaf hier sien nie, maar eerder e-POWER‑voertuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duck ·

en jy vergeet om te noem dat dit eintlik ‘n Renault is. Nissan gebruik al vir jare die Renault engine, nou gebruik Mercedes dit ook in sy A klas diesel voertuie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.