Nog ʼn baba in die Suzuki-stal

Foto: Suzuki Splash (Quickpic)

Foto: Suzuki Splash (Quickpic)

Suzuki Auto Suid-Afrika het sy plaaslike modelreeks met die veelsydige, ratse en bekostigbare Suzuki Splash-luikrugmotor aangevul. Die Splash brei Suzuki se reeds volledige modelaanbod – wat ’n keuse van passasiermotors, meerdoelers en sportnutsvoertuie insluit – nog verder uit, en behoort die vraag na die maak se produkte verder te versterk.

Die wakker nuweling se vars, jeugdige stilering en veelsydige uitleg sal na verwagting by ’n verskeidenheid kopers byval vind – van enkellopendes en jong gesinne tot leënes-paartjies. Die Splash se kompakte afmetings, hoë daklyn, relatief lang asafstand en kort bakoorhange skep ’n verrassend ruim en prakties binneruim.

In SA word die Suzuki Splash deur die reeds bekender viersilinderenjin van 1,2 liter aangedryf wat ook in intreevlakweergawes van die Swift-luikrugmotor aangewend word. ’n Vyfgang-handratkas is standaard, maar ’n outomatiese viergangratkas is opsioneel beskikbaar.

In lyn met Suzuki se reputasie vir uitsonderlike waarde bied die Splash ’n nuttige lys standaardtoerusting. Selfs die bekostigbare GA-weergawe bied dubbele lugsakke voor en ABS-sluitweerremme, terwyl die GL-model met bykomende geriefkenmerke spog.

“Die nuwe Suzuki Splash pas netjies in die gaping tussen ons gewilde Alto-intreevlakmotortjie en die uiters suksesvolle, subkompakte Swift-luikrugmotor,” sê Francois van Eeden, Suzuki Auto SA se nasionale bemarkingsbestuurder.

Hoewel nutswaarde en veelsydigheid belangrike aspekte van die Splash se ontwerp is, het dit nie die estetiese voorkoms van die klein luikrug belemmer nie. Terwyl die bakvorm tog deur funksionaliteit bepaal word, is die ontwerp steeds aantreklik.

Die Splash is 3 775 mm lank, 1 680 mm breed en 1 620 mm hoog: kompakte afmetings wat sorg dat die Suzuki beknopte parkeerruimtes maklik baasraak, en boonop rats hanteer. Terselfdertyd bied die relatief lang asafstand van 2 360 mm en die breë wielsporing voor en agter (1 470 en 1 480 mm onderskeidelik) vasvoetige stabiliteit.

Die kort bakoorhange, lang asafstand en hoë daklyn beteken ook dat daar soveel ruimte moontlik binne geskep word. Dit dra ook by tot die Splash se jong, parmantige voorkoms. Voor is dit veral die groot koplig-samestellings wat aandag trek, terwyl die slanke sierrooster en die groot, laaggeplaaste luginlate ’n doelgerigte indruk skep.

Alle Splash-modelle word met staalvellings van 14 duim voorsien wat met volgrootte, gestileerde wieldoppe toegerus is.

Die kajuit van die nuwe Splash weerspieël die motor se jong persoonlikheid, maar voeg ook gerief, styl en veelsydigheid by die resep. Die algehele gevoel van ruimte is indrukwekkend, en word verder deur die hoë daklyn benadruk.

Die daklyn is ’n sleutelkenmerk van die nuwe Splash, omdat dit toelaat dat die sitplekke hoër gemonteer kan word, wat nie net die uitsig na buite verbeter nie, maar ook vir groter deure sorg, wat op hul beurt in- en uitklim makliker maak.

Die voorsitplekke is gerieflik en bied goeie ondersteuning, terwyl die sitbank agter sitplek vir drie volwassenes bied, en 60/40 verdeel is sodat die laairuim indien nodig vergroot kan word. Nekstutte voor en agter is standaardtoerusting.

Die uitleg van die kontroles en instrumente plaas die klem op gebruiksvriendelike ergonomika, met ’n enkele, groot snelheidsmeter wat reg voor die bestuurder geplaas is.

Die ronde wyserinstrument het ’n wit gesig, en sluit ook ’n digitale ritrekenaar in wat inligting oor die reikafstand, gemiddelde en oombliklike brandstofverbruik verskaf, en ook twee ritafstandmeters insluit. Die GL-modelle is met ’n afsonderlike toereteller toegerus, wat ’n tikkie sportiwiteit bydra.

Die kontroles vir die lugversorging en die geïntegreerde klankstelsel (in die geval van die Splash GL) is sentraal geplaas vir gerieflike gebruik, terwyl die ratkierie ter wille van maklike toegang hoog geplaas is. ’n Dikraam-driespeekstuurwiel is standaard, en GL-weergawes spog met stuurwielgemonteerde kontroles vir die klankstelsel.

Die kajuit se deftige, duursame afwerkings skep ’n swierige indruk. Die instrumentepaneel is in donkergrys uitgevat (met metaalkleurige aksente in die GL-weergawes), terwyl die sitplekke met aantreklike, duursame doekstofbekleedsel oorgetrek is.

Die Splash se binneruim bied ’n groot verskeidenheid bêreplekke en bergruimtes, insluitende ’n kassie met ’n deksel aan die bopunt van die middelste instrumente-paneel, ’n rakkie vir klein voorwerpe agter die ratkierie, ’n paneelkissie met ’n deksel wat ondertoe oopmaak, en ’n lekker groot bêrerak direk voor die voorste passasier.

Die nuwe Suzuki Splash bied ’n uitvoerige reeks veiligheidskenmerke. Aldrie weergawes is met dubbele lugsakke voor toegerus, asook met botsingwerende stawe in die deure.

Rukstopgordels word vir die voorste sitplekke, asook die twee buitenste sitposisies agter voorsien, terwyl die middelsitplek agter met ’n skootgordel toegerus is.

Al drie Splash-weergawes is met ABS-sluitwering vir die voorste skyfremme en remtrommels agter toegerus. Daar is kinderslotte vir die agterdeure en sentrale sluiting is eweneens standaardtoerusting, gekoppel aan sleutelvrye toegang in die geval van die GL-modelle.

Die Splash-reeks in Suid-Afrika word deur ʼn viersilinderenjin van 1,2 liter aangedryf. Die 1 197 cc-eenheid lewer maksimumkrag van 63 kW by 6 000 r/min, gekoppel aan ’n wringkragpiek van 113 Nm by 4 500 r/min.

Dié kragbron se indrukwekkende kombinasie van geesdrif en ekonomie is reeds deeglik in die groter Swift-luikrug bewys. Die viersilinder se toergierigheid sorg vir gladde, gewillige werkverrigting, en die ratverhoudings is spesifiek gekies om die beste kombinasie van ratsheid en ekonomie te bied.

’n Vyfgang-handratkas is standaardtoerusting, maar ’n outomatiese viergangratkas kan opsioneel bestel word. Die Splash is voorwielaangedrewe.

Die Splash se onderstel is op die Swift-platform gegrond, en bied daarom die groter luikrug se gladde rit en ratse padgedrag. Die stuurstelsel is ter wille van doeltreffendheid met elektriese kraghulp toegerus, terwyl die draaisirkel van net 9,4 meter ’n verdere bewys van die Splash se flink hantering is.

Die onafhanklike voorvering maak van MacPherson-veerstutte en ’n teenkantelstaaf gebruik, terwyl ’n ruimtedoeltreffende wringstaaf met kronkelvere en dempers agter ingespan word.

Met ’n massa van net meer as een ton, en ’n lewendige kragbron van 1,2 liter, lewer die nuwe Splash sprankelende verrigting. Die vyfgang-handratmodel versnel in 12,3 sekondes van 0 to 100 km/h, en behaal ’n topsnelheid van 160 km/h.

Die brandstofverbruik is indrukwekkend, met ’n syfer van net 5,6 liter/100 km vir die gekombineerde siklus in die geval van die handratmodel, en 6,4 liter/100 km vir die outomatiese weergawe. Die CO2-uitlaatgasvlakke beloop 133 en 150 g/km onderskeidelik.

Die Splash-modelreeks bestaan uit drie weergawes wat almal deur dieselfde petrolenjin van 1,2 liter aangedryf word. Daar is egter ’n keuse van twee ratkaste, en twee spesifikasievlakke.

Die mees bekostigbare lid in die reeks is die Splash 1.2 GA, wat steeds ’n indrukwekkende lys standaardkenmerke bied. Dié model is net met die vyfgang-handratkas beskikbaar.

Die GA se lys geriefgerigte kenmerke sluit ’n syferhorlosie, lugversorging, sleutelgeaktiveerde sentrale sluiting, doekstofbekleedsel en ’n 60/40-verdeelde banksitplek agter in.

Dié model bied ook dieselfde, volledige lys veiligheidskenmerke waarmee aldrie Splash-weeergawes toegerus is. Daaronder tel dubbele lugsakke voor, ABS-sluitweerremme, botsweerstawe in die deure, nekstutte voor en agter, rukstop-sitplekgordels, en kinderslotte vir die agterdeure.

Splash 1.2 GL-kopers kan tussen die vyfgang-handratkas en ’n outomatiese viergangratkas kies. Wat buitevoorkoms betref, is die belangrikste kenmerke die kleurbypassende deurhandvatsels, die misligte voor, en ’n sportiewe drukvlerk agter.

Die GL se nog meer volledige lys standaardkenmerke sluit ’n afsonderlike toereteller in, asook ’n geïntegreerde klankstelsel met instemmer, skyfspeler en vier luidsprekers. Die klankstelsel maak ook voorsiening vir ’n USB-koppeling en ’n addisionele koppeling vir musiekbronne.

Die kantelverstelbare stuurwiel is met kontroles vir die klankstelsel toegerus. Die GL-weergawe bied boonop sentrale sluiting met sleutelvrye werking, elektries beheerde kantruite, en ’n verhitte agterruit met ’n was/vee-stelsel. Daar is ook ’n uitskuiflaai onder die voorste passasiersitplek vir bykomende bergruimte.

Al drie Suzuki Splash-modelle word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km gedek, terwyl ’n diensplan van twee jaar/30 000 km ook ingesluit word. Die diensinterval is elke 15 000 km.

Laaste woord
Sodra Maroela Motors hierdie nuweling onder hande gehad het, sal ons ʼn volledige padverslag doen. Of daar egter werklik ʼn model tussen die Alto en die intreevlak Swift ingeskuif moes word, sal net die tyd leer. Nietemin, voornemende kopers sal darem op Suzuki se tradisionele gehalte kan staatmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.