Nóg ʼn BMW-blitsbuksie

BMW het ʼn geskiedenis van allerhande interessante rygoed.

Ek was ʼn klein tjokker toe die E30-boksvorm-325i die Bee-Em van die dag was. Ek was nog op skool toe die E36 dolphin shape M3 in Suid-Afrika bekendgestel is. Elke petrolkop wou een hê!

Dinge het egter verander en mense soek nou óf ʼn warm luikrug soos VW se GTI, óf ʼn sportnutsvoertuig. Waar dinge ook heelwat verander het, is wat ʼn mens as “warm” beskou. Toe ek ʼn laaitie was, was ʼn CTi Golfie warm. Groot manne het met Cortina XR6’e gespeel. ʼn XR6 het maar 90 kW gehad. ʼn Warm luikrug het vandag oor die 200 kW.

Toe kom Mercedes-Benz met sy belaglike A45 AMG vorendag. 280 kW … van ʼn viersilinder. Já – hy het wel vierwielaandrywing, maar steeds – dis mal. Toe skuif die mikpunt vir ʼn “warm” luikrug aan en nou is minder as 200 kW maar bietjie flou.

BMW glo hy het die antwoord vir die matige “warm” luikrug. Die M135i. Dis nie ʼn volbloed-M-kar nie, maar amper daar. Dit is ʼn 1-reeks BMW wat ʼn voorwielaangedrewe platform deel met die MINI Countryman. Nou, daar is vir my die eerste probleem. ʼn BMW is agterwielaangedrewe … of was nog altyd. Ek sal sê dat BMW vierwielaandrywing regkry in produkte soos sy M5, maar die M135i het nie vierwielaandrywing nodig nie. Nie in Suid-Afrika waar dit nie sneeu nie, in elk geval.

Verder is die M135i ʼn doodgewone BMW-luikrug. Die stilering is mooierig, so ook die binneruim. As jy BMW’s gewoond is, is alles ergonomies uitgelê en presies waar dit hoort. Die sitplekke is voorwaar gemaklik en die bougehalte uit die boonste gestoeltes.

Wat van die enjin? Dit is BMW se warmste weergawe van sy 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 225 kW en 450 Nm. En 0–100 km/h duik op in ʼn ratse 4,8 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende, dog elektronies beperkte 250 km/h.

Ritgehalte is ietwat van ʼn probleem vir my deesdae. Almal is agter padhouvermoë aan. Gepaardgaande daarmee én die alewige vraag na groter wiele word ritgehalte lelik belemmer. Die M135i loop op enorme 19”-wiele. Ja, dit lyk mooi – maar daar is amper geen profiel op die band nie. Maak geen fout – waar die teer mooi is en jy dynamic traction kies, kan die M135i nogal mooi dans.

Dit is moeilik om die M135i op te som. Dis mooi, loop soos ʼn windhond, klou soos ʼn neet én is lig op brandstof op die oop pad, maar hy laat my effe koud. Die sjarme van ʼn sessilinderenjin en agterwielaandrywing is weg, en ek soek dit. Dit was BMW se resep, al vir dekades.

Die M135i is ook nie goedkoop nie. Ek is oortuig daarvan dat die R73 000 meer vir ʼn M240i, eerder die beter besluit sal wees.

Die reeks lyk só:

BMW 118i103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR486 898
BMW 118i Sport Line103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR510 498
BMW 118i M Sport103 kW/220 Nm5.9 ℓ/100 kmR519 598
BMW M135i xDrive225 kW/450 Nm7.5 ℓ/100 kmR711 452

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Renault Megane RS 280 Cup205 kW/ 390 Nm255 km/h5.8 sek7.2 ℓ/ 100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R589 900
Audi S3 Sportback Quattro228 kW/ 400 Nm250 km/h4.6 sek6.5 ℓ/ 100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R679 189
Volkswagen Golf R228 kW/ 400 Nm250 km/h4.6 sek7.2 ℓ/ 100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R685 400
Honda Civic Type R228 kW/ 400 Nm272 km/h5.8 sek8.4 ℓ/ 100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R699 999
Mercedes-AMG A35 4Matic225 kW/ 400 Nm250 km/h4.7 sek7.4 ℓ/ 100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R758 946
Subaru WRX STi Premium221 kW/ 407 Nm255 km/h5.2 sek10.4 ℓ/ 100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/75 000 km- diensplan

R793 000

Die mark is wyd in dié segment. My gunsteling is die Golf R en Honda Civic, maar ek’t nog nie die Mercedes-AMG gery nie. Gaan toetsbestuur almal, een van hulle sal met jou gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.