Nuwe 2.8-Fortuner sleep ʼn hond uit ʼn bos!

(Foto: Verskaf)

Toyota het einde 2020 sy 2.8-kragbron bygewerk en heelwat meer krag gegee. Die blikbrein is nie nét oopgedraai om die 150 kW en 500 Nm wringkrag te lewer nie. Toyota het verskeie verbeterings diep in die enjin aangebring – een van my gunstelinge is die balanseringstaaf wat die enjin lieflik stil maak.

Ek’t ʼn wyle terug gesê dat ek sal verkies as hulle die wringkragomsitter programmeer om vas te trap in sesde rat sodat die ratkas nie vat en los op die snelweg as ʼn mens rustig toer nie. Dit is nou perfek.

Ons het onlangs die geleentheid gehad om ʼn sleepvoertuig te soek vir ons jaarlikse wintervakansie by die ATKV-Eiland-Spa naby Tzaneen in die lieflike, warm winterson van Limpopo. Ek wil al ʼn wyle met die opgeknapte 2.8 sleep, en dít was die perfekte geleentheid.

Met die eerste oogopslag is die nuwe sierwiele en chroom-wenkbrou óm die ligte al leidrade dat dit ʼn VX Fortuner is. Aan die binneruim is daar ʼn mooi nuwe swart leerbekleedsel, sitplekverwarmers en ʼn nuwe raakskerminligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied met ʼn knoppie vir die volume, een van my gunsteling-opknappings!

(Foto: Brendon Staniforth)

Sodra jy die Fortuner aanskakel, weet jy beslis die 2.8 is bitter stil. Ons haak ons ou Super-Pandok, ʼn 1992- Sprite SuperSport. Hy weeg so 1,1 ton wanneer hy gelaai is, min vir die Fortuner wat 3,3 ton sleepvermoë het. Ons wys die Fortuner se neus rigting noord … volgende halte – Eiland!

Ek sleep deesdae maar stadig ná ek oor die vingers getik is deur die werktuigkundige wat Super-Pandok die vorige keer herstel het. Hy sê die ligte struktuur van die Sprite wil nie vinnig sleep nie, liefs 100 km/h maksimum. Nou goed. Teen 100 km/h op die spoedkontrole toer die Fortuner in sesde rat teen 1 750 r/min, en handhaaf so net-net by die 12 l/ 100 km. Die spoedkontrole is aanpasbaar, so as daar verkeer aankom, verminder hy self spoed, en as jy die rigtingwyser aansit, begin hy versnel sodat jy kan verbysteek.

(Foto: Verskaf)

Die drie rye sitplekke en 220 V-kragprop agter hou al die kinders ver genoeg uit mekaar, met ʼn gelaaide toestel om rustig te bly vir die vyf uur wat dit neem om by die Eiland te kom. Voor Polokwane is daar twee lang bulte. Die eerste een is nie te steil nie, maar die tweede een is kwaai. Die Fortuner hou mooi vas aan sesde teen 100 km/h vir die eerste een, en skakel terug vyfde toe vir die tweede een terwyl hy maklik 100 km/h handhaaf teen so 2 300 r/min.

Ná Polokwane word die wêreld by Magoebaskloof bitter mooi. Die Fortuner sleep ʼn hond uit ʼn bos uit, en selfs die remme werk puik in die pas. In ʼn oogwink is ons by die ATKV-Eiland-Spa. Niemand het lyfseer nie, en almal is lekker rustig. Die Fortuner het 12,1 l/100 km gebruik oor die 413 km tot by my staanplek van die huis af. Dit wil gedoen wees.

Ná nege dae haak ons weer en durf die pad aan terug huis toe. Die wind en weer werk nóg beter saam en ons haal 11,9 l/100 km oor dieselfde 415 km. Die Fortuner trek vir Super-Pandok rekmerke soos ons Magoebaskloof klim.

Is Toyota se Fortuner dan die perfekte sleepvoertuig? Seker nie perfek nie, maar bitter naby. Ek self verkies effens harder vering as ek sleep – soos met ʼn bakkie, maar die sagter Fortuner is bitter gemaklik. Ek dink as ouens baie swaar waens verkeerd pak, sal die agterste vering erg gedruk word. Die haak met die Sprite aan het so 50 mm gesak, en perfek gelyk gesleep. Indien jy baie sleep en jy’s in die mark, moet beslis nie die Fortuner miskyk nie – dis werklik ʼn lekker sleeptuig, met fantastiese betroubaarheid.

Die reeks lyk só:

Toyota Fortuner 2.4GD-6110 kW/400 Nm6.8 l/100 km2.5 tonR589 700
Toyota Fortuner 2.4GD-6 outo110 kW/400 Nm7.2 l/100 km2.5 tonR611 800
Toyota Fortuner 2.4GD-6 4×4110 kW/400 Nm7.6 l/100 km3.3 tonR641 700
Toyota Fortuner 2.8GD-6150 kW/500 Nm7.6 l/100 km2.5 tonR721 200
Toyota Fortuner 2.8GD-6 VX150 kW/500 Nm7.6 l/100 km2.5 tonR741 900
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4150 kW/500 Nm7.9 l/100 km3.3 tonR793 700
Toyota Fortuner 2.8GD-6 4×4 VX150 kW/500 Nm7.9 l/100 km3.3 tonR814 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en negedienste-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4DI-D 4×4 Exceed133 kW/430 Nm8.1 l/100 km2.7 ton3 jaar/ 100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R704 995
Isuzu MU-X 3.0 4×4130 kW/380 Nm7.9 l/100 km3 ton5 jaar/ 120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R770 400
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD Limited157 kW/500 Nm7.6 l/100 km3.1 ton4 jaar/ 120 000 km- waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R848 600

Daar is tans net die vier mededingers in dié segment. Daar is sprake dat Nissan sy Pathfinder-vervanger, die Terra, gaan bring – en daar is ʼn nuwe MU-X wat binnekort bekendgestel word. Indien dié voertuie almal ver bo jou vuurmaakplek is, sal ek die Mahindra Scorpio oorweeg teen R375 000, en as jy iets so ʼn bietjie duurder soek, is die Prado my keuse, net meer as R1 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Meeste kenners raai jou af om in ‘n rat met ‘n verhouding laer as een tot een te sleep. Is dit raadsaam om die sleepvoertuig self te laat besluit watter rat dit wil gebruik, en veral om teen ‘n opdraende te sleep in vyfde of sesde rat? As jy ‘n outomatiese ratkas te hard laat werk wanneer dit sleep, oorverhit die olie en dit kan groot skade veroorsaak as die gebruik volgehou word.

koos10 ·

Is die toets met die 4×4 gedoen? Die 2×4 Everest is aansienlik goedkoper as die 4×4.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.