Nuwe baas van die Toyota-plaas

Toyota is moontlik die sterkste handelsmerk in Suid-Afrika, met ʼn markaandeel van net meer as 25%. Ek dink dit is moontlik omdat daar ʼn Toyota in elke pryskategorie is, met ʼn buksie vir elke beursie.

Ek was bevoorreg om onlangs genooi te word om die splinternuwe Land Cruiser 300 se bekendstelling by te woon. Na my mening het die 300 groot skoene gehad om te vul, want die 200 is reeds ʼn fantastiese produk.

Met die digitale onthulling het menings verskil. Ek hou van die vierkantige silhoeët, dit lyk taai – tog elegant. In lewende lywe is die ZX-spesifikasievlak in die kol vir my. Dit is ʼn pragtige voertuig.

Dan betree jy die kajuit – en Toyota se beloftes van ʼn gemakliker en luukser Cruiser is dadelik duidelik. Die ergonomie en nuwe skakelaars op die paneelbord werk fantasties.

Daar is twee nuwe enjins, én ʼn nuwe ratkas. Daar is ʼn 3.3 V6‑turbodiesel met 225 kW en ʼn enorme 700 Nm wringkrag. Die ander enjin het my betower. Dit is ʼn 3.5 V6‑turbopetrol met 305 kW en 650 Nm. Albei enjins is gepaard met die nuwe 10-spoed outomatiese ratkas. In die ou dae was die sterk model altyd lekker, maar bitter dors. Die petrolweergawe kan gemiddeld 12,1 l/100 km bereik en die diesel 8,9 l/100 km. Dis nie ʼn reuseverskil nie. Albei modelle het ʼn topspoed van 210 km/h.

Op die pad blink twee ervarings uit – en dit is as gevolg van een stuk tegnologie. Toyota noem dit E-KDSS (Evolution Kinetic Dynamic Suspension System).

Die Cruiser 200 se padmaniere was nie fantasties nie, veral as ʼn mens effens vinnig in draaie ingeploeg het. Die 300 se padmaniere is egter ʼn openbaring. Ja, daar is nog ʼn bietjie bakrol, maar dit is nie in dieselfde sonnestelsel as sy voorganger nie. Dieselfde stelsel ontkoppel die rolstawe as jy ʼn hindernis trotseer en verbeter die wiele se artikulasie met ʼn reusemarge. Die Cruiser 300 seil oor die Paternoster-duinroete met groot bekwaamheid, soveel só dat ʼn mens skaars die kruisassituasies voel. Die hele reeks kan 3,5 ton sleep.

Wat veiligheid betref, spog die 300 met elke truuk. Daar is die volle suite van Toyota se veiligheidstelsels, naamlik ʼn magdom lugsakke, blindekolwaarskuwing, baanhulp, agterkruisverkeerwaarskuwing, outomatiese helderligte, vastrap en stabiliteitsbeheer, afdraandebeheer, wegtrekhulp en sleepwa-swaai-beheer met die gewone sluitweerremme en dies meer.

Ons gaan weer tyd met die Cruiser deurbring en ʼn bietjie met hom karavaan sleep. Tot dán is dit maklik om die 300 op te som. Dit is pragtig aanmekaargesit en uiters bekwaam. Die nuwe enjins en dryfstelsel is fantasties – en ʼn Cruiser het moontlik die beste waardevermindering van enige voertuig in Suid-Afrika.

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser 300 GX-R 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 283 200
Toyota Land Cruiser 300 ZX 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 765 500
Toyota Land Cruiser 300 ZX 3.5T305 kW/650 Nm12,1 l/100 kmR1 797 100
Toyota Land Cruiser 300 GR Sport 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 811 900
Toyota Land Cruiser 300 GR Sport 3.5T305 kW/650 Nm12,1 l/100 kmR1 842 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis nie ‘n Land Cruiser nie, dis ‘n Lexus LX. Maar dis oukei. Moet net nie dink hierdie is ‘n plaasbakkie of ‘n Afrika-toer voertuig nie.

andre ·

die GX is goeie waarde. n Beter keuse as die intree Defender

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.