Nuwe BMW-luikrug het GTI in sy visier

Die BMW 128ti. (Foto: Verskaf)

BMW is nie ʼn nuwe mededinger in die hoëverrigtingafdeling nie. Van die vinnigste buksies wat ek al in my lewe teëgekom het, is BMW’s. Maar nie almal wil ʼn vuurvreter monsterbuks hê nie. Party soek net ʼn lekker luikrug wat ʼn paar naelloopskoene in die kattebak het en BMW het dié deur nou al te lank vir VW en sy GTI oopgelos.

Die ti-naamplaatjie is nie nuut nie. In die sestigerjare het BMW hul eerste ti bekendgestel. Dit staan vir Turismo Internazionale. Dit was nog altyd op ʼn BM geplak wat heel sportiewe intensies het. Die nuwe 128ti is ʼn doodgewone luikrug. Daar is sitplek vir vyf en BMW se verstommende bougehalte.

As mens by die kajuit inklim, kom jy wel agter dat die 1-reeks nou ʼn jonger mark teiken, maar dit pas perfek by die 128ti se karakter. Die kajuit is gepeper met al die funksionaliteit waarvan ek in ʼn voertuig hou, soos die raakskerminligtingstelsel met Apple CarPlay en Android Auto. BMW koppel dié diens al deur Bluetooth en dit is nie meer nodig vir ʼn draad nie – ʼn fantastiese funksie wat nie alle vervaardigers bied nie. Die sitplekke bied goeie ondersteuning en hou ʼn mens lekker styf om die lyf vas.

Die BMW 128ti. (Foto: Verskaf)

Die 128ti word aangedryf deur BMW se puik 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Dié enjin bied 180 kW en 380 Nm. Daai krag word aan die voorwiele gestoot deur BMW se 8-spoed-sport- outomatiese ratkas. Daar is ʼn beperkte glip-ewenaar (limited slip diff) om wieltol te beperk en seker te maak die voorwielaangedrewe BMW vlieg soos ʼn vuurpyl deur die draaie. Die motor kan 100 km/h in 6,3 sekondes bereik en hy sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende 243 km/h. Selfs meer indrukwekkend as die verrigtingsyfers, is die brandstofverbruik. BMW handhaaf ʼn gemiddeld van 6,8 ℓ/100 km en ek dink dit is heeltemal haalbaar. Ons het op die bekendstelling 9 ℓ/100 km gehandhaaf – en ons het nie sag met hom gewerk nie.

Op die pad is die 128ti soos die meeste BMW’s. Dit is lekker gemaklik en soos ʼn gepantserde tenk gebou. Ritgehalte is sportief, maar heelwat sagter as van sy mededingers. Padhouvermoë is indrukwekkend as ʼn mens eers verby die wringkragstuur kom wat kenmerkend is van voorwielaangedrewe BMW’s en MINI’s weens die runflat-bande.

Dit is bitter maklik om die 128ti op te som. Dit is ʼn welkome mededinger in dié segment. Sy prys is sterk teen die Golf, en dis ʼn BMW. Dit is mooi, en die binneruim is ʼn aangename plek met ʼn sterk spesifikasie. Ons sal weer tyd met die 128ti deurbring en sien hoe hy hom dan in die daaglikse roetine gedra en hom daarna met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

BMW 118i103 kW/220 Nm5,9 ℓ/100 km8,5 sek

213 km/h

R553 220
BMW 118d110 kW/350 Nm4,8 ℓ/100 km8,4 sek

214 km/h

R644 178
BMW 128ti180 kW/380 Nm6,8 ℓ/100 km6,3 sek

243 km/h

R687 418
BMW M135i xDrive225 kW/ 50 Nm7,5 ℓ/100 km4,5 sek

250 km/h

R808 188

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Gaan maar verby, Die man op straat wat nie ‘n maatskappy toelaag het nie, sal maar moet aanhou om tweedehands te koop. Die enigste’s wat jy deesdae in nuwe karre sien rond ry is al die wat tender bedrog gepleeg het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.