Nuwe Chery Tiggo het ʼn miljoen kilometer-waarborg

Dit is geen geheim nie dat ek die Chinese kritiseer oor foefies hier en daar, maar sjoe, die splinternuwe Chery Tiggo 8 het my onkant betrap. Nee, hy is nie perfek nie, maar as jy die prys en die produk vergelyk, dan is dit niks minder as ʼn winskoop nie.

Die ontwerp van die nuwe Tiggo 8 Pro is werklik mooi. Konserwatiewe lyne, maar elegant afgerond. Dit is ʼn ontwerp waaraan ʼn mens vinnig gewoond sal raak, maar nie maklik voor sal moeg word nie.

Dit is egter aan die binneruim waar Chery ʼn ses geslaan het. Die rusbanke vir voorste sitplekke en die leerbekleedsel voel asof dit uit ʼn voertuig kom wat maklik veel meer as R1 miljoen kos. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar, en daar is ʼn enorme panoramiese sondak. Onder die middelkonsole skuil ʼn draadlose laaimatjie vir jou foon en die klimaatbeheer het drie sones – voor, middel en agter vir die derde ry se sesde en sewende sitplek. Indrukwekkend.

Onder die kap sit Chery se 1.6‑ turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin. Hy bied 145 kW en 290 Nm. Die enjin maak gebruik van ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Dit is by die enjin waar my enigste krapplek met die Tiggo lê. Die enjin ís lekker sterk, maar versnellerkalibrasie kan verbeter, en as jy hard ry, kom die enjin grof voor. Die enjin is ook nie fantasties lig op brandstof nie, maar tog ʼn verbetering op Haval se H6 wat min of meer dieselfde krag bied.

Op die pad toer die Tiggo 8 lekker, sy rit is soepel en gemaklik, maar sodra jy in daardie sitplekke wegsink, is alles reg met die wêreld. Die padhouvermoë voel heel goed vir dié soort voertuig en die veiligheidstelsels beïndruk met ses lugsakke, sluitweerremme en goed soos baandwaalwaarskuwing, noodremhulp en aanpasbare spoedkontrole.

As ek werklik iets moes soek om oor te kla, sou ek sê ek hou nie van die truspieëltjie nie. Dit is amper asof jy deur ʼn visooglens kyk sodat jy die kinders agter in die voertuig kan sien, maar dit maak dit moeilik om agter buite die motor te sien. Die stuur se kalibrasie kan verbeter, en die geluide wat die baandwaalwaarskuwing maak, sal ek graag wil kan afskakel. Kom ek stel dit in perspektief: Ons het ʼn groot, sewesitplek-sportnuts wat uiters luuks is. Hy het ʼn lekker enjin – en hy is mooi, en dit teen minder as R500 000 vir die intreemodel. En R546 900 vir die luukse Executive-model.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 8 Pro DistinctiveR496 900
Chery Tiggo 8 Pro ExecutiveR546 900

Die reeks word gedek deur ʼn allemintige tien jaar/1 000 000 km-enjinwaarborg vir die eerste eienaar, vyf jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en vyf jaar/60 000 km-diensplan.

Chery het gefaal toe hy die eerste keer in Suid-Afrika onder die Imperial-handelsmerk was, maar hy is nou ʼn volfiliaal van Chery China. Die verskil is verstommend en Chery spog reeds met 50 handelaars landwyd.

Indien jy tans in die mark is, gaan toetsbestuur beslis een. Ons sal weer tyd saam met die Chery deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

krodedil ·

Die voertuig se lyne trek vinnig die oog. Die prys is reg saam met ‘n goeie waarborg. Regtig luuks vir ‘n goeie prys. Well done Chery. Dit wys ander vervaardigers dat ‘n mooi produk gelewer kan word teen ‘n bekostigbare prys.

piet ·

Bekostigbaar? Hoeveel is die maandelikse paaiementjie om die kar vir 5 jaar te huur (ja jy huur eintlik die kar, is nie rerig joune nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.