Renault het onlangs sy nuwe vyfdegenerasie-Clio bekendgestel.
Die Clio is ʼn enorme handelsmerk vir Renault – des te meer in Europa, maar selfs in Suid-Afrika. Die Franse het nog altyd ʼn oog gehad vir ʼn lekker luikrug. Die ontwerp van die nuwe Clio is werklik mooi, maar dis onder die vel waar hy kan verbeter.
Die binneruim is netjies aanmekaargesit, met materiale van goeie gehalte en ʼn werklik goeie spesifikasievlak. Daar is ʼn groot raakskerminligtingstelsel wat nou slegs ʼn draadlose verbinding met mens se foon inspan om Apple CarPlay en Android Auto te gebruik. Dit is ʼn groot frustrasie, want CarPlay is slegs werklik betroubaar wanneer dit met ʼn draad gekoppel word. Dit is egter nie net ʼn probleem in die Clio nie, maar met alle voertuie wat draadloos verbind.
Fisieke knoppies vir die lugreëling is ʼn welkome toevoeging en as mens eers gewoond is aan die stafie agter die stuurwiel vir die klankstelsel, dan hoef mens darem minder met die raakskerm te sukkel. Die bestuursposisie is gemaklik, en die sitplekke bied lekker steun.
Onder die kap sit Renault se 1.0-driesilinderturbopetrolenjin. Hy bied 74 kW en 160 Nm. Heel billik. Die wringkragpiek is beskikbaar teen 2 750 r/min – lekker in die kol, maar die vyfspoedhandrat loop teen amper 3 500 r/min teen 120 km/h. Dit is té hoog. ʼn Sesde rat sou die verbruik baie op die oop pad verbeter, sou die omwentelinge dan by 2 500 r/min op die oop pad kon wees.
Du Preez de Villiers, Maroela Media se landboujoernalis, het talle grondpaaie met die Clio aangedurf en meen die Clio het sy man puik gestaan. Hy was ook beïndruk met hoe die vastrap- en stabiliteitsbeheer alles in toom hou sodra die oppervlak glad raak.
Die Clio geniet ʼn sterk veiligheidspesifikasievlak. Daar is ses lugsakke en sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding. Aan die aktiewe kant is daar baanbeheer, vastrap- en stabiliteitsbeheer, blindekolwaarskuwing en botsingwaarskuwing met noodremhulp, terwyl die truratkamera speletjies maak van parkeer.
Op die pad beïndruk die Clio met sy ritgehalte, maar op die kalibrasiefront stel hy teleur. Die koppelaar, versneller en enjinreaksie kort verfyning. Ons het onlangs ʼn Polo onder hande gehad, ook ʼn driesilinder met ʼn handratkas, en hy is verreweg makliker om te bestuur en lekkerder om mee saam te leef. Sy kattebak is ook heelwat groter as die Clio s’n.
Ek sal dus die Clio só opsom: Dit is bitter mooi en het ʼn indrukwekkende spesifikasievlak. Die Polo is makliker om te bestuur, maar het beslis ʼn hoër diefstal- en kapingsrisiko. As mens heelwat tyd met die Clio deurbring, trap mens dalk die skoen uit tot hy lekker sit. Ek sou eerder een gaan kies tussen die mededingers.
Die reeks lyk só:
Renault Clio 1.0 Turbo Life | R309 900 |
Renault Clio 1.0 Turbo Zen | R324 900 |
Renault Clio 1.0 Turbo Intens | R349 900 |
Die kompetisie lyk só:
Opel Corsa 1.2T Edition | 74 kW/205 Nm | 5,7 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R339 900 |
Citroën C3 1.2T Shine | 81 kW/205 Nm | 6 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km- diensplan | R352 900 |
Volkswagen Polo 1.0TSI 70 kW Life | 70 kW/175 Nm | 5,4 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R353 600 |
Peugeot 208 1.2T Allure | 74 kW/205 Nm | 5,8 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km- diensplan | R371 900 |
Elkeen van dié mededingers is ʼn B-luikrug met ʼn turboaangejaagde enjin. Die Citroën is die enigste outo. Almal het ses lugsakke en indrukwekkende veiligheidstelsels. Daar is nie ʼn slegte motor tussen hulle nie, maar die Polo is perfek.