Nuwe Ducati Monster is steeds hope pret

(Foto: Brian Cheyne)

Il Mostro is Italiaans vir “Die Monster”. Ducati het in 1993 hierdie naam toegeken aan een van hul nuutste skeppings. Die fiets is ontwerp deur Miguel Galluzzi en een van die fiets se treffende kenmerke was ’n ontblote traliewerk-raam. Die fiets was ’n wegholsukses vir Ducati en teen 2005 was meer as die helfte van Ducati’s wat verkoop is, Monsters.

Sedertdien was daar verskeie modelle met verskillende enjingroottes, maar die ontwerp het nie veel afgewyk van die oorspronklike nie. Puriste was verstaanbaar omgekrap toe die nuwe Monster sy buiging in Maart 2021 gemaak het, want sien, die traliewerk-raam was nie meer daar nie. Die fiets is ook net Monster genoem, sonder enige aanduiding van sy enjingrootte. Dalk was dit tyd vir ’n hernuwing. Dalk is dit nou tyd om ’n hele nuwe generasie na die Monster te lok.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Monster het ’n 937 cc‑Testastressa-enjin wat 111 pk. lewer. Die voorste deel van die raam heg direk aan die enjin en so ook die agterste subraam. Die enjin is dus deel van die raam en dit het groot gewigsbesparings teweeggebring. In totaal weeg die nuwe Monster amper 18 kg ligter as die vorige een. Sonder brandstof en olie weeg die nuwe een slegs 166 kg. Die fiets behou egter sy onmiskenbare Monster-lyne.

Ek het die nuwe Monster die eerste keer gesien toe die eerste besending by Ducati in Centurion afgelaai is. Die fiets het baie klein vertoon, en as jy op hom klim, lyk hy nog kleiner. Die fiets is uiters kompak en tog is die voetrusse op ’n gemaklike hoogte. Ek onthou die Monster 1200 het my bene styf opgevou – amper soos ’n superfiets. Die tenk het steeds die bekende boggel in en gee jou genoeg plek vir jou bene om in te pas. Die ryposisie is effe vooroor, reg om draaie met mening aan te pak.

Die model wat ek gekry het om te toets, was met ’n Termignoni-uitlaatpyp toegerus. Ek wou dit eers ’n knaldemper noem, maar dit is duidelik nie hierdie pyp se werk nie. Met die aansitslag het ek geweet dat ek nie vroegoggend sou kon gaan ry nie. Die bure sou my kwalik neem.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Monster luier ongeduldig terwyl ek ’n ryprogram kies wat by my bui pas. Daar is drie om van te kies en ek besluit op die Sport-program. Daar verskyn ’n stophorlosie op die skerm en dan weet jy sommer, hierdie Monster het ’n stoute kant. Êrens in die menige verstellings is daar ook lanseerbeheer, wat verseker dat die fiets maksimum versnelling lewer terwyl jy net vasklou. Ek was nog nie so dapper om hierdie funksie te toets nie.

Die koppelaar is swaar en vat ver voor, maar nadat jy weggetrek het, het jy nie weer nodig om aan die koppelaar te raak totdat jy weer moet stop nie. Ratte word seepglad met Ducati se snelskakeling gewissel. Elke weergawe van hierdie stelsel word net beter en beter. Saam met die Termignoni-pyp maak die Monster pragtige musiek. Elke ratskakeling word perfek met ’n kort blaf uitgevoer.

(Foto: Brian Cheyne)

Terugskakelings het ’n harder blaf. Ek het so ent op die snelweg gevorder, maar ry toe liewers deur die stad, net sodat ek kan na die klankbaan luister. Daar is ’n weergawe van hierdie fiets wat bekend staan as die Monster Plus. Dit het ’n kort windskermpie en ander kosmetiese aanhangsels, maar ek glo selfs met hom sal die roete deur die stad aanlokliker as die snelweg wees.

Daar is bitter min aan die Monster waarmee ek fout kan vind. Die enigste ding is dalk dat die enjin redelik hitte afgee in swaar verkeer, maar dit is omtrent dit. Een van die vroue wat saam met ons op die Ducati Mystery Ride was, het vir haar ook so ʼn een aangeskaf, en sy was baie beïndruk met die ligte gewig van die fiets.  Die uitwerking wat hierdie fiets op jou het, kan ek ook moeilik beskryf. Jy kan eenvoudig net nie besadig met hom ry nie. Hy hits jou aan om die grense te toets.

Ducati het besluit om hierdie fiets net eenvoudig Monster te doop. Dit laat my wonder wat gaan van die Monster 1200 word. Een ding is seker: hierdie fiets, met hierdie enjin en sy ligte gewig, maak hom een van die lekkerste fietse wat ek in ’n lang tyd gery het. Ek is ook oortuig dat ’n 1200 cc‑enjin nie die partytjie prettiger sal maak nie. Die nuwe Ducati Monster is eenvoudig die perfekte balans van krag en pure pret!

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SjN

Mooi bertroubare fiets en ryding, hoop net sy dienste is so duur soos die 1200 Monster nie.