Nuwe Fiat 500X laat die wind deur jou hare waai

Deur Martin Pretorius

Die Fiat 500X-reeks is vir 2023 verfris deur die bekendstelling van ʼn nuwe sagtedak-weergawe, en alle modelle in hierdie reeks kry terselfdertyd ʼn paar klein kosmetiese verbeteringe. Hierdie wysigings gee die 500X ʼn unieke aantrekkingskrag, want geen ander kompakte sportnutsvoertuig kan met so ʼn groot oop dak spog nie.

Ontwerp

Die Fiat 500X se vooraansig word minimaal maar doeltreffend vernuwe deur ʼn hersiene buffer en nuwe kopligte. Die ouer model se Fiat-kenteken op die neus word vervang deur ʼn 500‑kenteken soortgelyk aan die klein 500-stadsmotortjie, en sy LED-kopligte ontvang nuwe omhulsels. Daar is geen ander radikale veranderinge nie, maar hierdie wysigings hou die 500X se voorkoms heel modern. Die intreevlakmodel het 18 duim‑allooiwiele, terwyl die twee Sport-variante 19 duim‑allooiwiele het.

Die groot oopvoudak van die nuwe 500X Sport EST is egter sy grootste aantreklikheid, al is hy in alle ander opsigte identies aan die gewone 500X Sport. Die seil-insetsel het elektriese beheer, en as hy al die pad teruggeskuif is, gee hy ʼn oop ruimte wat 775 mm lank van voor na agter strek. Hy’s egter nie ʼn ware kabriolet nie omdat sy agterste luik en deurrame steeds in posisie bly. Twee knelpunte is ongelukkig ʼn woeste wind-gesuis op die snelweg met die dak oop, en die feit dat sy meganisme net werk teen 100 km/h of laer.

Binneruim

Twee afwerkingsvlakke is beskikbaar vir die 2023 Fiat 500X, met die Cross-variant as intreevlak-variant. Albei is goed toegerus, met die uitstekende UConnect‑raakskermnavigasiestelsel en outomatiese dubbelsone lugversorging as hoogtepunte.

Die Cross het materiaal-bekleedsel, terwyl die Sport en sy EST-sussie sagte sintetiese leerbekleedsel gebruik. Die Sport-variante se kajuite word verder opgekikker met voorpaneel-afwerking wat na titaan lyk, en hulle kry Alcantara-doppies oor die instrumente en op hul stuurwiele.

Enjin, ratkas, en dryfstelsel

Die Fiat 500X is nou glad nie meer beskikbaar met ʼn handratkas nie, wat beteken dat alle variante toegerus is met ʼn sesspoeddubbelkoppelaarratkas. Voorwielaandrywing word regdeur die reeks gebruik, en krag word verskaf deur die bekende 1.4 liter‑turbo- aangejaagde viersilinder wat 103 kW en 230 Nm lewer. Die kombinasie werk meestal goed, maar die ratkas raak soms verward wanneer die bestuurder skielik meer krag nodig het. Saam met ʼn merkbare hoeveelheid turbotraagheid is die uiteinde ʼn dryfstelsel wat nie altyd presies weet wat om te doen nie.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

Ons eerste blootstelling aan die 2023 Fiat 500X was in ʼn Sport EST op ʼn roete wat snelweg- en landelike paaie bevat het. Die karretjie is heel vasvoetig deur die draaie en stabiel op die snelweg, maar sy stylvolle 19 duim‑allooiwiele het beslis ʼn negatiewe uitwerking op rygerief. Klein versteurings word direk na die kajuit gelei, en groter hobbels en gate kan die insittendes se tande laat klap. Die terugrit was in ʼn Cross met 18 duim‑wiele, en hy was heelwat gemakliker. Gegewe die toestand van ons paaie, is dit dalk wys om eerder die intreevlak-model te kies.

Daar is egter geen fout te vind met ʼn Fiat 500X se veiligheidstoerusting nie, want saam met die gebruiklike ABS-remme en stabiliteitsbeheer is daar ook ses lugsakke en ʼn stelsel wat die 500X help om in sy baan te bly. Hy help ook om wegtrek-pogings teen opdraandes makliker te maak deur self die remme vas te hou totdat die kar begin beweeg – ʼn welkome stukkie toerusting, gegewe die elektriese handrem.

Opsomming

Daar is baie redes om van die nuutste Fiat 500X te hou. Hy is goed toegerus, stewig aanmekaargesit met materiaal van ʼn hoë gehalte, redelik lewendig, en sy stilering is steeds uniek in sy marksegment. Daar is egter een ding wat ernstig teen hom tel, en dit is sy prys.

Die intreevlak Cross sal R509 900 uit jou sak skud, die normale Sport kos R560 900, en die Sport EST sal ʼn gat van R580 900 in jou sak brand. Daardie soort geld kan ʼn Mazda CX-5, ʼn Kia Seltos of hoë-spesifikasie VW T-Cross koop, wat almal sterker verrigting bied en praktieser is. Maar as jy ʼn amper-oopdak-ervaring in jou sportnutsvoertuig verlang, is die Fiat 500X beslis nie te versmaai nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.