Nuwe goedkoper C3 vul leemte in mark

In die intreesegment van die motorbedryf is die mededinging rateltaai en om ʼn billike motor te vervaardig teen ʼn bekostigbare prys is bitter moeilik.

Citroën het nou sy splinternuwe C3 aan die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel. Hy kom uit hul fabriek in Indië. Op foto’s lyk strook die ontwerp met die vorige C3 wat ons ken. Ek ken hulle baie goed aangesien ek lief vir ʼn C3 is en al drie van hulle besit het. Dit was almal 1.4 Hdi-dieselmodelle en dit was fantastiese rygoed wat uiters lig op brandstof is met ʼn lekker kattebak.

As ʼn mens mooi begin kyk sien jy die nuwe C3 en sy voorganger is nie van dieselfde gehalte nie. ʼn Mens moet dit egter verwag. Die huidige 1.2T Shine kos R374 900 en die nuwe C3 amper R150 000 minder teen R229 900.

Die ontwerp is heel goed en dit lyk darem nie soos ʼn begrotingsbuksie nie. Die binneruim is goed aanmekaargesit teen die prys, en vir ʼn B-segment luikrug is die spasie heel aanvaarbaar. Die paneelbord en materiale voel beslis eerder duursaam as luuks maar daar is ʼn indrukwekkende 10” raakskerm wat draadlose Apple CarPlay of Android Auto bied – puik vir die segment waarin dié voertuig gaan meeding.

Onder die kap sit ʼn atmosferiese 1.2 driesilinderpetrolenjin wat 61 kW en 115 Nm bied. Heel in die kol vir dié segment. Die 5-spoed handrat werk glad en die koppelaar is nie moeilik om baas te raak nie. Die karretjie is lieflik lig op brandstof en bereik maklik syfers in die omgewing van 5 ℓ/100 km.

Op die pad moet ʼn mens erken dat die C3 nie sleg ry nie. Sy ritgehalte is lekker sag en sy padhouvermoë aanvaarbaar vir ʼn intreemotor. Die binneruim bied lugreëling en elektriese vensters om passasiers gerieflik te hou. Die feit dat daar net twee lugsakke is, is nie fantasties nie, maar ʼn mens kan teen dié prys nie veel meer verwag nie.

Ek kan mense al hoor stry dat R230 000 nie min geld is nie, maar aan die ander kant moet jy onthou dat omdat hy ingevoer is bestaan ongeveer 43% van sy koopprys uit belasting wat na die regering toe gaan. Dit is amper R100 000 in belasting – invoer, BTW en dies meer. Dus het Citroën ʼn voertuig gebou wat eintlik R130 000 kos. Vir daai geld moet die fabriek hom bou, aan Citroën Suid-Afrika verkoop, vervoer, hier land, vervoer na die handelaar toe, die hoofkantoor moet hul bietjie wins maak en só ook die handelaar. ʼn Mens kan dit amper nie indink nie.

Ek sal die C3 só opsom: Dit is ʼn billike voertuig teen ʼn goeie prys. Hy ry heel goed en bied ʼn alternatief vir ander intreevoertuie en mededinging is altyd goed om almal op hul tone te hou.

Die reeks lyk só:

Citroën C3 1.2 Feel-handrat61 kW/115 Nm5,6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km waarborg

2 jaar/30 000 km diensplan

R229 900

Ons sal weer tyd met die C3 deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wat ‘n verblydende gedagte om te weet dat amper die helfte van ‘n ingevoerde voertuig se verkoopprys na die regering gaan. Geen meer ingevoerde karre vir my nie!

Willem ·

Maar hoekom kos plaaslike voertuie dan die selfde as ingevoerde modelle? Wys jou net hoe rook die plaaslike vervaardigers ons. Ranger en Polo net om ‘n paar te noem. Dan koop ek eerder ingevoer as om die plaaslike vervaardigers te ondersteun.

ViperTS1 ·

Die plaaslike modelle word gebruik om die ingevoerde modelle te kruis-subsidieër (goedkoper te maak). En ‘n maak wat in SA vervaardig betaal baie aan “gemeenskapsinisiatiewe” omdat hulle nie van hul belang mag opgee in BEE-transaksies nie. Ford SA word 100% deur Ford internasionaal besit, maar betaal gaan jy iewers betaal vir die gebrek aan ‘n BEE-vennoot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.