Nuwe Hyundai i20 tree aan vir B-segment-wedloop

Deur Liana Reyners

Die eerste generasie van Hyundai se i20 is in 2009 plaaslik bekendgestel en sedertdien is 106 712 eenhede van dié duidelik gewilde ryding in Suid-Afrika verkoop. Die derde generasie van die klein Koreaan is nou hier beskikbaar en Hyundai is vol vertroue dat hy sy verkoopsukses in die uiters mededingende B-segment van die mark sal voortsit.

Sy vervaardigers voer aan dat gehalte en betroubaarheid twee van die nuwe i20 se vernaamste eienskappe is, en dat hy boonop baie prakties ook is. Ek dink hulle kon aantreklikheid ook by die lysie gevoeg het, want die nuweling is allesbehalwe hard op die oog. Boonop tel ʼn nuwe enjin en ʼn verbasend ruim kajuit ook in sy guns.

Die nuwe i20 lyk gewis meer dinamies as sy voorganger en is effens groter – 41 mm wyer, 10 mm langer, 20 mm hoër van die grond af en met ʼn asafstand wat met 10 mm gerek is.

Daar is twee atmosferiese petrolenjins beskikbaar. Die eerste is die 1.2-Kappa en die ander die 1.4-MPi. Die kroonjuweel in die i20-reeks is egter die nuwe turbo-aangejaagde driesilinder-petroleenheid met ʼn kapasiteit van een liter.

Hierdie enjin lewer 90 kW en 172 Nm wringkrag en is gekoppel aan ʼn 7-spoed-dubbelkoppelaarratkas of ʼn 6-spoed-handratkas. Met eersgenoemde sal die i20 aandraf tot ʼn maksimumspoed van 187 km/h, terwyl die handratmodel se topspoed ʼn effens vinniger 190 km/h is. Volgens amptelike syfers gebruik die handratmodel 6,5 l brandstof/100 km, met die outomatiese weergawe wat effens gulsiger is teen 6,9 l/100 km.

Die 4-silinder-, 1.2 l-Kappa lewer 61 kW en 115 Nm wringkrag en het ʼn topspoed van 169 km/h. Die 4-silinder-, 1.4 l-MPi lewer 74 kW en 133 Nm wringkrag en kan tot 173 km/h versnel. Brandstofverbruik is 5,9 l/100 km vir die 1.2 l-enjin en 6,9 l/100 km vir die 1.4 l-enjin.

Terloops, die 1.2-Kappa is gekoppel aan ʼn 5-spoed-handratkas en die 1.4-MPi aan ʼn 6-gang- outomatiese ratkas.

Tydens die mediabekendstelling het ons die geleentheid gekry om die nuwe 1 l-enjin deeglik op die proef te stel en soos die meeste hedendaagse turbo-aangejaagde eenhede met ʼn klein kapasiteit is hy nie skaam om sy tekkies af te stof en te laat spaander nie. My kollegas was skynbaar so beïndruk met die dubbelkoppelaarratkas dat party van hulle hom sommer twee keer gery het in plaas daarvan om by die halfpadmerk van ons roete na ʼn handratmodel oor te skuif. Ek kan dus nie ingeligte kommentaar oor hom lewer nie.

Wat ek wel kan sê, is dat die handrat-i20 ʼn plesier op die pad was en ek was nie té vies dat ek heelpad in hom moes ry nie. Die stuur is lig en direk en hoewel die vering aan die ferm kant is, is die rit tog gemaklik.

Net soos met ʼn goed gebalanseerde, ingeloopte paar hardloopskoene voel ʼn mens sommer tuis in die i20. Die binneruim is gerieflik, prakties en duursaam. Danksy slim ontwerpwerk spog die nuweling met meer ruimte as sy voorganger, veral vir passasiers op die agtersitplek. Daar is 80 mm meer beenruimte en 40 mm meer skouerruimte, wat beteken dat dié luikrug plek vir vyf insittendes het. Twee grootmense kan gemaklik agter sit, maar drie boerseuns sal hulle sit moet ken om gemaklik te wees.

Soos wat dit enige hedendaagse motor betaam, is die i20 toegerus met Apple CarPlay en Android Auto. Daar is ook twee USB-punte voor, terwyl daar ʼn baie handige koordlose laaigleuf vir selfone in die middelkonsole is.

Wat spesifikasievlakke betref, is die i20 in Motion en Fluid beskikbaar. Laasgenoemde spog met 16″-allooiwiele, terwyl Motion-modelle 15″-staalwiele het. Fluid-modelle het ses lugsakke, Motion-modelle het twee. Alle variante is toegerus met ʼn sluitweerremstelsel met EBD- en Isofix-monteerpunte vir ʼn babastoeltjie.

Met drie enjinopsies en drie ratkaste om van te kies, glo Hyundai dat hy by ʼn wye mark sal aanklank vind. O, en amper vergeet ek, sekere van die modelle kan met ʼn twee-kleur-afwerking gespesifiseer word, wat beteken die bakwerk is een kleur en die dak ʼn ander.

Die reeks van agt modelle sien só daaruit:

1.2 Motion manualR275 900
1.4 Motion automaticR305 900
1.2 Fluid manualR289 900
1.2 Fluid manual – 2-ToneR294 900
1.0 TGDI Fluid manualR330 900
1.0 TGDI Fluid manual – 2-ToneR335 900
1.0 TGDI Fluid DCTR355 900
1.0 TGDI Fluid DCT – 2-ToneR360 900

Danksy ʼn indrukwekkende lys standaardtoerusting en ʼn 7-jaar/200 000 km-waarborg, wat aan die nuwe eienaar oorgedra kan word indien die motor van eienaar sou verander, behoort die i20 ʼn goeie herverkoopwaarde te hê. Boonop is ʼn 4-jaar/60 000 km-diensplan en 7-jaar/150 000 km-padbystand ook deel van die standaardpakket.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

7 jaar/20 000km waarborg. Dus ry ek van die garage tot by die hek om binne waarborg te bly?

Nico Strydom ·

Dagsê Francois

Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Vriendelike groete
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.