Nuwe reismaat vir avonturiers

Die Suzuki DL 1050 XT V-Strom. (Foto: Brian Cheyne)

So paar kilometer voor Nelspruit, weg van die N4, lê Kaapsehoop. Ek dreig nou al lank om ’n paar dae daar te gaan vertoef. Toe kry ek ’n oproep van Suzuki om te hoor of ek die nuwe DL 1050 XT vir ’n paar dae wil hê. Ek het nie ’n tweede uitnodiging nodig gehad nie. Dit was langnaweek, en ’n kort rit van 850 km sou seker genoeg wees om die nuwe V-Strom ordentlik te beoordeel.

Suzuki het vir 2020 heelwat verbeteringe na die groot DL gebring. Die meeste van die veranderinge was om aan Euro 5-standaarde te voldoen. Suzuki het ook die benaming van die fiets na DL 1050 verander om hom te onderskei van sy voorganger.

Wat jou eerste opval is die stilering. Waar die vorige model kurwes gehad het, het die nuwe een strak, reguit lyne.

Die Suzuki DL 1050 XT V-Strom. (Foto: Brian Cheyne)

Die voorlig is nou vierkantig en die voorkoms is meer aggressief. Anders as wat die Duitsers wil glo is die kenmerkende snawel van avontuurfietse nie hulle idee nie. Nee, daardie eer behoort aan Ichiro Miyata wat Suzuki se Dakar-deelnemers ontwerp het in die laat 80’s. Suzuki het hom weer genader om die nuwe 1050 te stileer en die resultaat is, volgens my, ’n groot sukses.

Die enjin is steeds die 1037 cc V-twee- eenheid van die vorige model, maar Suzuki het gaan peuter met, onder meer, die profiel van die nokaste wat die kraglewering nou op 107 pk te staan bring. Die wringkragpiek is nou hoër, en plat heelwat later eers af. Dit beteken dat die nuwe Strom ’n lewendige skop aan hom het as jy die versneller groot oopdraai. Die versneller is ook nou elektronies en dit het beteken dat Suzuki die fiets behoorlik kon toerus met allerhande elektroniese hulpmiddels.

Die Suzuki DL 1050 XT V-Strom. (Foto: Brian Cheyne)

Die eerste item waaroor ek baie bly was, is spoedbeheer. Op die vervelige N4 maak hierdie byvoeging die rit die moeite werd. Ek het die spoedbeheer op 125 km/h vasgemaak en my gemiddelde brandstofverbruik was ’n raps onder 20 km/ℓ. Ek was beïndruk. Ek het maar weer by my eie reëls gehou deur nie verder as 100 km te ry sonder om te stop nie, maar met die V-Strom se plat saal was dit amper nie eers nodig nie. Die saal is verstelbaar vir hoogte, maar jy moet behendig wees met gereedskap om die eenvoudige takie te verrig. Ek het die saal op sy hoogste verstelling gehad wat die rit uiters gemaklik gemaak het.

’n Verdere elektroniese toevoeging is Suzuki se Intelligent Ride System. Hierdie stelsel monitor deurlopend die fiets en tree in as nodig. Byvoorbeeld, as jy teen ’n steilte afry en die voorrem trek, sal die fiets self van die druk verskuif na die agterrem om te keer dat die agterwiel lig. Net so, as jy teen ’n opdraand stop, hou die fiets die agterrem outomaties in om te keer dat die fiets terugrol. Daar is ook verkillende ryprogramme beskikbaar vir verskeie vlakke van inmenging. Alles het seker baie goed gewerk want ek kon nêrens voel dat die fiets inmeng in hoe ek ry nie.

Die Suzuki DL 1050 XT V-Strom. (Foto: Brian Cheyne)

Die skerm is verstelbaar, maar dit het ’n ongewone meganisme. Jy kan dit nie verstel as jy ry nie. Die sluitmeganisme sit voor op die fiets, so jy sal moet stop en afklim om die skerm te verstel. Suzuki se verweer is natuurlik dat jy dit net eenkeer sal verstel en so laat. Wat seker waar is. Agter die skerm sit Suzuki se splinternuwe vloeikristal instrumentepaneel. Die eenheid is helder en leesbaar, maar deesdae is volkleur TFT skerms amper die norm.

Op die pad het die nuwe Strom my weer tuis laat voel. Dit is net ’n moeitevrye, gemaklike fiets. Ek weet ook dat hierdie enjin uiters betroubaar is. Nader aan Kaapsehoop het die lang kronkelpaaie begin en hier het die Suzuki regtig uitgeblink. Op die klein stukkies grondpad wat ek wel aangedurf het, was die groot Strom net so tuis. Hierdie fiets is egter ’n langpad toerfiets waarmee jy die verdwaalde grondpad kan aandurf.

Die Suzuki DL 1050 XT V-Strom. (Foto: Brian Cheyne)

Die hoofingenieur op die V-Strom projek, Satora Terada, se uitgangspunt was dat die nuwe V-Strom meer as net ’n fiets moet wees. Dit moet jou reismaat word. Vir hom wil ek sê: “Jy het geslaag.” Die V-Stom het nie tierlantyntjies nie. Jy kry wat jy op die pakkie sien. Die enigste ding wat pla van die pakkie is die prys. Teen R221 950 ding hy mee in ’n baie kompeterende mark en ek weet nie of die nuwe Suzuki genoeg bied om die ander fietse slapelose nagte te gee nie. Tyd sal leer.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies:

Enjin kapasiteit1037 cc
Gewig (Droog)236 kg
Kraglewering79 kW @ 8 500 rpm
Tenkkapasiteit20 ℓ
Saalhoogte850 mm
Grondvryhoogte160 mm
PrysR221 950

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Morné ·

So vinnig na die foto gekyk en gedink dit is n nuwe GS…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.