Nuwe X-Trail bied hope tegnologie in stylvolle baadjie

Deur Martin Pretorius

Met ʼn praktiese en baie aantreklike ontwerp het die nuwe Nissan X-Trail ʼn goeie kans om ʼn groot stuk van die middelslag-sportnutsvoertuigmark oor te neem. Die vierdegeslag-X-Trail is nie net aangenaam om te aanskou nie – sy kajuit is volgepak met moderne tegnologie en sy rygerief is uit die boonste rakke.

In teenstelling met sy voorganger se ronde ontwerp, is die nuwe X-Trail aansienlik meer hoekig, met heelwat skerp hoeke agterom en langs sy blaaie en ʼn fronsende vooraansig wat ʼn moderne gevoel aan die ontwerp verleen. Die dubbelvlak-kopligte volg hedendaagse modes en pas netjies by die prominente sierrooster se dubbelraamontwerp, en ʼn swart dak kan opsioneel bestel word met vyf van die tien moontlike buitekleure op die twee duurste variante.

Die nuwe X-Trail is met drie toerustingsvlakke beskikbaar. Die Visia is die intreevlakmodel en die Acenta is die luukser alternatief, maar hierdie modelle gebruik albei voorwielaandrywing en het net vyf sitplekke elk. Die Acenta Plus AWD is die topmodel, en hy kry ʼn viertrekstelsel, sewe sitplekke, en ʼn hoop ekstra standaardtoerusting om sy stywe prys te help regverdig. Allooiwiele is standaard, en hul deursnee wissel tussen 17 en 19 duim, na gelang van die variant.

Alle X-Trails gebruik verbeterde weergawes van die ou model se 2.5 liter-petrolenjin en palwisselratkas (CVT). Hierdie enjin lewer nou 135 kW en 244 Nm, maar omdat daar geen turbo aan die enjin gekoppel is nie, is sy wringkraglewering nie op dieselfde standaard as sy kompetisie nie. Die CVT se nuwe programmering versteek egter sy oorsprong heel goed, en beïnvloed nie die bestuurservaring veel tydens normale gebruik nie. Teen seevlak is die nuwe X-Trail-verrigting heel bevredigend, ten minste in vergelyking met sy kompetisie.

Rygerief is beslis ʼn X-Trail se beste eienskap, en kajuitgeruis is besonder min selfs aan die verkeerde kant van die spoedgrens. Hy hanteer nie soos ʼn blitsbuks nie, maar dit pla eintlik maar min in hierdie marksegment. Sy verfynde karakter maak egter die X-Trail ʼn uitsonderlike langafstand-toermotor, terwyl die hope kajuitruimte sorg dat al die insittendes gemaklik sal wees. Die enigste uitsondering hier is die Acenta Plus se derde ry sitplekke, waar kop- en beenruimte veels te beperk is vir volwassenes.

Die X-Trail se binneruim is net so modern soos sy buitekant, met die gebruiklike raakskerm in die middel van die voorpaneel, maar Nissan gebruik dit slegs om navigasie- en sekondêre stelsels te beheer. In teenstelling met vele opponente se ontwerpe, is die X-Trail se klankstelsel en lugversorging albei toegerus met tradisionele druk- en draaiknoppe, en hierdie eienskap maak die nuwe X-Trail se kajuit ʼn baie gebruikersvriendelike omgewing.

Bou- en materiaalgehalte is deurgaans baie goed, met sagte afwerking op die voorpaneel en deure, en getekstureerde insetsels waar ander vervaardigers nagemaakte aluminium of blinkswart plastiek sou gebruik. Materiaalbekleedsel word gebruik in die Visia, maar albei Acenta-variante kry ʼn leeroorgetrekte stuurwielraam en kunsleer-sitplekbekleedsel.

Die X-Trail Visia en Acenta gebruik ʼn 8″-kleurraakskerm om funksies soos die Bluetooth-verbindings, Apple CarPlay en Android Auto te hanteer, terwyl die Acenta Plus ʼn 12.3″-skerm en ingeboude navigasie ontvang. Ons het heelwat tyd met die Acenta Plus deurgebring tydens die bekendstellingsrit, en sy standaard- digitale instrumentpaneel en oë-na-bo-projekteerder vir die bestuurder was indrukwekkend. Die verhitte voorsitplekke verdien spesiale vermelding, want hulle is ongelooflik gemaklik oor lang afstande, en die bestuurdersitplek se elektriese verstellings is ʼn welkome byvoeging tot die topmodel se toerusting.

Die nuwe X-Trail beskik ook oor ʼn heel volledige veiligheidsuite, met die gebruiklike ABS, stabiliteitsbeheer, intelligente (aanpassende) spoedbeheer, outomatiese noodremme, ʼn truratkamera en agterste parkeersensors standaard in elke model. Acenta-variante sit voorste parkeersensors, blindekol-monitering, baanbly-beheer, ʼn 360-grade-kamerastelsel en agterste kruisverkeer-waarskuwing by.

Met ʼn ordentlike lys standaardtoerusting, baie aangename kajuitatmosfeer en algehele verfyndheid, is daar baie redes om ʼn Nissan X-Trail ernstig te oorweeg. Hy’s beslis nie ʼn sportiewe sportnutsvoertuig nie, maar dit is bes moontlik nie ʼn ernstige oorweging vir die meeste kopers nie – gerief en gemaklikheid is veel belangriker.

Wees net bereid om jou sak te skud, want hierdie tegnologie en relatiewe luuksheid gaan jou heelwat meer kos as waarvoor sy Koreaanse, Japannese of selfs Duitse kompetisie vra. Die Acenta Plus kos net-net minder as R760 000, en selfs die middelvlak-Acenta verkoop vir soortgelyke geld as ʼn VW Tiguan AllSpace of ʼn Toyota RAV4-hibried. Die pryse sluit wel ʼn waarborg vir ses jaar/150 000 km in, plus ʼn diensplan vir drie jaar/90 000 km.

Die reeks lyk so:

X-Trail Visia CVTR649 900
X-Trail Acenta CVTR709 900
X-Trail Acenta Plus CVTR759 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.