Ons skuif agter die nuwe Ranger se stuur in

Ford is oor die hond se stert met die bekendstelling van sy nuwe Ranger.

Nie veel is meer geheim oor die nuwe Ranger rakende detail nie – ons weet so te sê alles… maar is dit ʼn verbetering op die huidige model?

Kom ons skuif gou betroubaarheid en die handelsmerk opsy. Wat spasie, sleepkapasiteit, gemak en luuksheid betref – as ʼn mens appels met appels vergelyk – is daar nie ʼn ander bakkie wat kers vashou by ʼn Ranger nie, veral as ʼn mens heel bó in hul reeks na ʼn Wildtrak kyk. Ek praat van funksionaliteit soos die aktiewe botsingwaarskuwingstelsel. Dit was op Ranger voor enige ander bakkie. Om nie eers te praat van die aktiewe teenklankstelsel wat die kajuit lieflik stil maak nie.

Já, daar was al probleme in die Ranger se geskiedenis. ʼn Nylon-ratjie in die 10-spoed‑ratkas en die 2.2 is nie die betroubaarste kragbron op aarde nie, maar al daai dinge gaan binne weke op hul kop gedraai word.

Ons het pas twee Rangers onder hande gehad. Ford praat van die TT (tooling trial)-fase en dán PP (pre-production) en daarna volg massaproduksie. Die twee was TT-modelle. Dit is die eerste bakkies wat in die lyn begin afbeweeg, dan word hul gemeet en gepas totdat hulle tevrede is met die installasie van die gereedskapstuk in die pers.

Die twee TT’s lyk soos regte egte Rangers. Ek kan nie fout sien nie. Já, een se paneelgaping by die voorste ligte is nie perfek nie, maar sjoe, dit verstom my hoe Ford ʼn kolskoot skiet nog voor die visier klaar gestel is.

Ek het aspris eerste met die XL gery. Dubbelkajuit, 2.0‑viersilinderturbodiesel enkelturbo. Die huidige 2.0‑enkelturbo bied 132 kW en 420 Nm. Ons weet nie wat die enjin in die nuwe model sal bied nie. Een ding wat ek wel hier kan deel, en dis vir my ʼn openbaring, is dat die 2.0‑enkelturbo-modelle die 6-spoed‑ratkas terugkry in die handrat en die outo. Albei is vir my ʼn doring in die vlees op die huidige model weens die ongelyke ratverhoudings. Eerste en tweede was bitter kort met ʼn enorme gaping tussen tweede en derde. Dié is reggestel in die handrat wat ek gery het.

Die ingenieurs sê ook vir my dat die outo met die 6R-ratkas toegerus is. Dit is dieselfde enjin en ratkaskombinasie wat jy in die Ford Tourneo Custom Limited-bussie kry en dit is puik. Ek is oortuig dat dit vir duisende Ranger-eienaars uit die veld gaan slaan wanneer hulle na die nuwer model opgradeer.

Die bergroete by Gerotek is nie vir sissies nie, maar die twee Rangers het pragtig in hul spoor getrap. Daar is ʼn massiewe bult – ek skat hom waarskynlik steiler as 30 grade. Die enkelturbo klim hom lag-lag in derde rat uit. Die versnellerkalibrasie in die nuwe Ranger is werklik goed.

Ná die bergroete skuif ons na die hoëspoedbaan. Toe die instrukteur sê ons moet mik vir so 160 km/h, rek Minesh Bhagaloo, kommunikasiedirekteur by Ford, se oë groter as die Wildtrak se wiele. Nietemin. Ons skuif agter die stuur in en by 120 km/h klim jy in die heel boonste baan. Jy kan in dié baan die stuur los op 120 km/h en hy sal net om en om en om gaan sonder enige insette indien die onderstel reg gekalibreer is. Ek gebruik seker 30%-versneller en soos mens van die skuinsvlug afkom aan die ander kant, sien ek 150 km/h. Ek hou koers en op 160 km/h is twee dinge opvallend – die Ranger ry soos ʼn puik gekalibreerde gesinsmotor en nie ʼn bakkie nie en dit is verskriklik stil in die kajuit.

Ek klim oor in die Wildtrak. Hy is dubbelturbo, met ʼn 10-spoed‑outo. Die binneruim beïndruk met luukshede, maar dit voel aangenaam eenders in vergelyking met die huidige model. Hy voel effens harder geveer – waarskynlik die groter wiele en laer profiel bande maar 160 km/h klink en voel soos 100 km/h.

Dit is die eerste keer wat Ford enigiemand behalwe ʼn ingenieur in ʼn voorproduksievoertuig laat ry. Dit sê twee dinge: Ford kan nie wag om dié voertuig bekend te stel nie, só trots is hulle en tweedens hulle het volle vertroue in die gehalte van die voorproduksiemodelle wat van die lyn af kom. Tyd sal leer oor betroubaarheid, maar as ek na die verkoopsdirekteur luister, gaan die Ranger mededingend geprys bly. In daai geval gaan die mededingers eenvoudig nie by hom kan kers vashou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Klink alles baie goed. Die agterkant is half teleurstellend met eerste oogopslag. Hoop dit lyk beter in lewende lywe!

SjN ·

Ford is besig om sterk markaandeel te kry, kompetisie is nie altyd slegte druk nie.

Wielspore ·

Ford maak van die ander Bakkie vervaardigers die hoenders in. Hier kom ‘n ding wat prysgewys en verkope aanbetref en die verbruiker gaan daarby baatvind.

Chris dupreez ·

Vir my vir seker die mooiste van die bakkies. Ek ry self nie een nie , ek ry n Q7 , maar sal glad nie omgee vir so een nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.