Op pad met die Land Rover Defender D300 X

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het myself altyd voorgestel hoe die ideale bestuurder van die ou Defender moes lyk. Fris bobeenspiere om die koppelaar te trap en verkieslik sonder ’n regterarm, bloot omdat die kajuit so beknop is. Praat jy egter met eienaars van die ou Defender, besef jy hoe lojaal hierdie mense teenoor hulle voertuie is. In 2016 het die laaste Defender van die produksielyn gerol, maar Land Rover het beloof dat daar ’n opvolger sou wees. Daardie opvolger het toe gekom en is nou al geruime tyd plaaslik beskikbaar. Ek is eintlik ’n motorfietsman, maar as die vrou en skoonouers moet saamry op vakansie, dan soek jy iets met meer spasie. Dit is toe dat Land Rover vir my hulle nuwe D300 X aangebied het, en ek moet sê ek is baie beïndruk.

(Foto: Brian Cheyne)

Land Rover het groot moeite gedoen om ’n uiters moderne voertuig te bou, maar wat van buite onmiskenbaar ’n Defender is. Die reguit, vierkantige lyne en selfs die klein geboë venters bokant die agtersitplekke is deel van die ontwerp. Wat hulle egter reggekry het, is om werklik ’n mooi voertuig te skep sonder om afbreuk te doen aan die ikoon wat hy vervang.

Binne loop die Defender oor van luukshede. Sommer met die inklimslag het ek besef dat hierdie lankal nie meer die Defender van ouds is nie. Daar is spasie en oral vashouplek. Die sitplek sak laag as jy die voertuig afskakel en kom dan weer mooi tot op sy plek as jy hom weer aanskakel. Die voertuig kan drie verskillende verstellings onthou vir ander bestuurders, maar as jy eers eenmaal jou sit gekry het in hierdie nuwe Defender, sal jy hom nie maklik met ander wil deel nie.

Die instrumentepaneel is vol pakplekkies vir padkaarte, kameras en ’n sak biltong. Tussen die twee sitplekke is daar ook ’n ruim paneelkissie en nog pakplek vir los goedjies. Langs die kort rathefboompie is daar net twee ronde skakelaars vir die klimaatbeheer en sitplektemperatuur. Ja, die sitplekke kan warm én koud gestel word. Die hele uitleg is minimalisties en uiters intuïtief. Voor die bestuurder is daar ’n groot skerm wat jy kan aanpas soos jy verkies.

(Foto: Brian Cheyne)

Natuurlik is dit nie net die voorste ry mense wat al hierdie luukshede het nie. Die tweede en derde rye het ook hul eie verstellings vir die klimaatbeheer. Dan is daar die USB-poorte – ek het nog nooit soveel kragpunte in een voertuig gesien nie. Daar is selfs ’n 240 V-sok in die bagasieruim. My enigste kritiek wat ek teen hierdie voertuig het, is juis die bagasieruim. Ons moes baie mooi pak vir vier mense vir ’n week, hoewel ek moet toegee dat die derde ry sitplekke sekerlik inbreuk maak op die bagasieruim.

Onder die enjinkap skuil die jongste sessilinderturbo-dieselenjin. Die kraglewering is 221 kW, en die wringkrag draai by 650 Nm. Die 8-spoed outomatiese ratkas sorg dat hierdie yslike voertuig van 0-100 km/h kan versnel in slegs sewe sekondes.

Ons was bevoorreg om ’n week met hierdie voertuig deur te bring en die nuwe Defender was ’n absolute fees om mee te ry.

(Foto: Brian Cheyne)

Daar was genoeg krag vir enige situasie, en selfs die brandstofverbruik was laer as wat ek verwag het. Op die oop pad het die aanpasbare spoedbeheer my bas gered toe ’n voertuig voor my, sonder remligte, begin spoed verminder om af te draai. Die Land Rover het outomaties begin spoed verminder, selfs nog voor ek gereageer het.

Die Defender bly ’n imposante voertuig, en nou met sy nuwe kragbron is dinge net nog beter. As jy ’n ware avontuurvoertuig soek en jy kan na die prys kyk sonder dat jou oë traan, dan is die nuwe Defender D300 X net die voertuig vir jou.

Die reeks lyk só:

Land Rover Defender 90 D240 S177 kW/ 500 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR1 141 966
Land Rover Defender 90 P300 S221 kW/ 400 Nm10,1 ℓ/ 100 kmR1 145 968
Land Rover Defender 110 D240 S177 kW/ 500 Nm7,7 ℓ/ 100 kmR1 174 004
Land Rover Defender 110 P300 S221 kW/ 400 Nm10,2 ℓ/ 100 kmR1 178 282
Land Rover Defender 90 D300 S221 kW/ 650 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR1 232 752
Land Rover Defender 90 P400 S294 kW/ 550 Nm9,9 ℓ/ 100 kmR1 264 430
Land Rover Defender 110 D300 S221 kW/ 650 Nm7,6 l/ 100 kmR1 265 452
Land Rover Defender 110 P400 S294 kW/ 550 Nm9,9 ℓ/ 100 kmR1 298 830
Land Rover Defender P400e S297 kW/ 640 Nm12,8 ℓ/ 100kmR1 554 600
Land Rover Defender 90 V8386 kW/ 625 Nm12,8 ℓ/ 100 kmR2 386 900
Land Rover Defender 110 V8386 kW/ 625 Nm12,8 ℓ/ 100 kmR2 460 500

Slegs die intreemodel van elke enjin/asafstand- opsie is hier gelys. Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar / 100 000 km omvattende instandhoudingsplan en waarborg.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD VX-L150 kW/ 500 Nm7,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R1 175 100
Toyota Land Cruiser 3.3D GX-R225 kW/ 700 Nm8,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R1 283 200

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Pragtige voertuig met pragtige prys! Sal graag eendag so voertuig wil besit, sal maar moet wag tot ek lotto eendag wen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.