Die B-luikrug-segment is enorm. Dit is waar voertuie soos Opel se Corsa, Ford se Fiesta, Volkswagen se Polo, Nissan se Micra, Renault se Clio, Peugeot se 208, Citroën se C3, Hyundai se i20, Kia se Rio, Mazda se 2, Suzuki se Swift en Toyota se Yaris speel. Nie almal is direkte mededingers nie; party het atmosferiese enjins, ander weer turbo’s, vier- of driesilinderenjins.
Hoe het Opel homself uniek gemaak?
Met die eerste oogopslag het die Opel ʼn netjiese ontwerp. Dit lyk effens sportief, met mooi lyne.
Die binneruim voel egter lekker ruim, en die materiale duursaam. Die bestuursposisie vat ʼn oomblik om mooi gemaklik te raak, maar as alles eers ingestel is – dan is dit heel dollies.
Die Corsa het ʼn reusespesifikasievlak. Daar is klimaatbeheer, spoedkontrole, verhitte sitplekke, truratkamera, outomatiese helderligte, ligte en ruitveërs. Dit, gepaard met Apple CarPlay en Android Auto, stel die Corsa in staat om ʼn uiters bekwame, amper luukse motortjie te wees.
Onder die kap is die Stellantis-groep se 1.2-driesilinderturbopetrolenjin. In dié weergawe bied hy ʼn indrukwekkende 96 kW, 230 Nm en stoot die krag aan die voorwiele deur ʼn 6-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Let wel, 0-100 km/h neem ʼn ratse 8,7 sekondes, en voluit sal hy 208 km/h haal. Vir ʼn klein luikrug is dit voorwaar indrukwekkend.
Op die pad voel die rit ʼn raps te hard, maar die padhouvermoë wat daarmee gepaardgaan, is baie goed. Aan die veiligheidskant het Opel ʼn sterk veiligheidspesifikasie met ses lugsakke, sluitweerremme, remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer. Heel goed.
Dit is maklik om die Corsa op te som. Dit is ʼn baie sterk produk en ʼn goeie alternatief teen die Polo.
Die reeks lyk só:
Opel Corsa 1.2 | 55 kW/118 Nm | 5.8 l/100 km | R284 900 |
Opel Corsa 1.2 Edition | 55 kW/118 Nm | 5.8 l/100 km | R299 900 |
Opel Corsa 1.2T Elegance | 96 kW/230 Nm | 6.3 l/100 km | R386 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Citroën C3 1.2T Shine | 81 kW/205 Nm | 6 l/100 km | 5 jaar/100 000 km- waarborg 3 jaar/60 000 km- diensplan | R324 900 |
Hyundai i20 1.0T Fluid outo | 90 kW/172 Nm | 6.9 l/100 km | 5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg 4 jaar/60 000 km- diensplan | R355 900 |
Volkswagen Polo 1.0TSI Highline outo | 85 kW/200 Nm | 4.8 l/100 km | 3 jaar/120 000 km- waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R372 600 |
Peugeot 208 1.2T Allure outo | 96 kW/230 Nm | 6.3 l/100 km | 5 jaar/100 000 km- waarborg 3 jaar/60 000 km- diensplan | R379 900 |
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo | 74 kW/170 Nm | 5.2 l/100 km | 4 jaar/120 000 km- waarborg 4 jaar/60 000 km- diensplan | R383 300 |
Nissan Micra 84kW turbo Tekna Plus | 84 kW/180 Nm | 5 l/100 km | 6 jaar/150 000 km- waarborg 3 jaar/90 000 km- diensplan | R384 000 |
Ek het slegs turboaangejaagde mededingers met outomatiese ratkaste gelys. Almal is werklik sterk uit eie reg. Ek het nog nie die i20 of 208 gery nie, maar is oortuig dat hulle wel sterk mededingers in die segment sal wees. Indien jy in die mark is, gaan toetsbestuur almal, een sal soos ʼn handskoen pas.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Ek het nog altyd van Opel gehou. maar dis nie rerig meer Opel nie. Dis net ‘n Renault met ‘n ander baadjie. Maar ek het in elk geval nie geld vir ‘n nuwe motor nie, so my opinie moet tog niemand beinvloed nie.
Die Suzuki Swift Sport Outo val in dieselde prysklas ,eintlik minder as die meeste , en sal paaie om die klomp hardloop en n glimlag op jou gesig los !