Opel se Mokka uiters modieus

(Foto: Verskaf)

Opel het so pas die derde generasie van Mokka aan die Suid-Afrikaanse media bekendgestel. Dít is die nuutste toevoeging in ʼn hele reeks opwindende produkte wat Opel onlangs bekendgestel het. Dit het begin met die splinternuwe Corsa, gevolg deur die Zafira, en nou die Mokka.

Die Mokka is die eerste vertoning van Opel se heel nuutste ontwerptaal en dis werklik modieus. Die mode is ook nie beperk tot die buitekant van die motor nie, maar die binneruim is baie luuks én goed toegerus. Die bougehalte aan die binneruim is soos mens van ʼn Duitse motor verwag.

Die leerbekleedsel voel werklik luuks, dan is daar die groot skerms vir die inligtingstelsel en instrumente, verhitte sitplekke, Apple CarPlay en Android Auto en aanpasbare spoedkontrole.

Onder die kap vind ons Opel se 1.2-driesilinderturbopetrolenjin wat 96 kW en 230 Nm bied. Dié enjin, gepaard met Opel se 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas, bied egalige versnelling én goeie brandstofverbruik.

Die motor beskik oor die gebruiklike veiligheidsaspekte soos ʼn hele paar lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, asook vastrap- en stabiliteitsbeheer met wegtrekhulp. Dit is egter met die bestuur van die Mokka wat die veiligheidsaspekte werklik ʼn indruk maak, met funksionaliteit soos baanhulp, botsingwaarskuwing met noodremhulp en voetgangeridentifisering.

(Foto: Verskaf)

Op die pad is die soepel ritgehalte aangenaam, met sterk padhouvermoë én indrukwekkende stuurakkuraatheid. Dié aspekte verleen aan die Mokka amper twee persoonlikhede. Jy kan lekker hard ry as die pad dit toelaat, maar ook rustig en gemaklik toer as jy wil.

Ek sal die nuwe Opel Mokka só opsom: Dis werklik ʼn modieuse ontwerp. Die Mokka is effens groter as ʼn B-segment-luikrug en bied ʼn luukser ervaring. Ek sou die Mokka eerder met Volkswagen se T-Roc en Mini se Countryman vergelyk – dán is die Mokka werklik ʼn winskoop. Opel het ʼn puik geskiedenis in Suid-Afrika en het eens op ʼn tyd 9%-markaandeel gehad. Dit is deesdae amper ongehoord. Opel, wat nou onder die Stellantis-groep val, het die afgelope paar maande al die regte voete voor gesit. Dit is lekker opwindend vir dié handelsmerk.

Die reeks lyk só:

Opel Mokka 1.2T EleganceR469 900
Opel Mokka 1.2T GS LineR519 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Ons sal binnekort weer tyd met die Mokka deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanEtz ·

Dis vrek duur vir so klein 1.2l karretjie, selfde prysklas as die Polo 2.0l GTI…….sjoe??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.