Opgetofde Figo onderskatte klein juweel

(Foto: Verskaf)

Ford het onlangs vir sy Figo’tjie ʼn nuwe jassie aangetrek. Hulle noem hom die Figo Freestyle. Daar is heelwat “cross”-tjorre die afgelope tyd, maar dié is een van die min suksesvolle ombouings na my mening.

Die Figo is ʼn oulike buksie wat ʼn verbasende gevoel van gehalte in dié segment bied. Motors in dié segment kan maklik blikkerig en plastiek voel. Die ontwerp is heel oulik en die binneruim is netjies. Die sitplekke is gemaklik en die paneelbord ergonomies. Die skerm op die paneelbord bied CarPlay en Android Auto. Daar is klimaatbeheer en elektriese vensters in al vier deure.

(Foto: Verskaf)

Die enjin in die Figo is ietwat van ʼn juweel. Dit is die romerigste driesilinderenjin tans op die mark. Dit is ʼn atmosferiese 1,5 driesilinder wat 91 kW en 150 Nm bied, een van die sterker tjorre in dié klas. 0 – 100 km/h duik op in 11,8 sekondes en hy sal aanhou tot 175 km/h terwyl hy suutjies teen 5,5ℓ/100 km aan die brandstof teug.

(Foto: Verskaf)

Op die oop pad is ʼn die Figo ʼn lekker reismaat én hy is rats in die dorp. Sy 15”-wiele met ʼn 65-profiel band doen wondere vir die ritgehalte en sy padhouvermoë is in die kol vir dié klas voertuig – al is daar effense bakrol om draaie. Aan die veiligheidskant steek die Figo nóg ʼn veer in sy hoed met ses lugsakke, ABS en ʼn driester veiligheidsgradering.

Ek sal die Ford Figo Freestyle só opsom: Dit is ʼn oulike visuele opknapping van ʼn reeds indrukwekkende buksie. Die prysverhoging sit hom wel tussen stram kompetisie. Gaan toetsbestuur almal, een sal pas soos ʼn handskoen.

Die reeks lyk só:

Ford Figo 1.5 Ambiente luikrug 5-spd handratR215 100
Ford Figo 1.5 Ambiente sedan 5-spoed handratR221 900
Ford Figo 1.5 Trend luikrug 5-spd handratR225 500
Ford Figo 1.5 Trend sedan 5-spoed handratR231 100
Ford Figo Freestyle 1.5 Trend luikrug 5-spd handratR241 100
Ford Figo 1.5 Titanium luikrug 5-spoed handratR250 700
Ford Figo 1.5 Trend luikrug 6-spoed outoR250 900
Ford Figo Freestyle 1.5 Titanium luikrug 5-spd handratR263 200

Die mededinging lyk só:

Renault Sandero Stepway Plus66 kW/ 135 Nm5,4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R251 900
Toyota Starlet 1.4 XR68 kW/ 130 Nm5,1 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R258 500
Citroën C3 1.2 Feel60 kW/ 118 Nm5,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR259 900
Suzuki Baleno 1.4 GLX68 kW/ 130 Nm5,1 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R259 900
Volkswagen Polo Vivo 1.6 Highline77 kW/ 153 Nm6,2 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborgR260 300

Tussen dié mededingers is die Citroën C3 se 5 jaar/100 000 km-diensplan ongeëwenaard. Die voertuig het ook ʼn puik ontwerp, en sterk spesifikasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.