Oppas as jy jou motor verpand

huis-en-kar-flickr

Wees versigting om sommer jou huis en motor te verpand vir ‘n bietjie ekstra geld om jou begroting te laat klop. Foto: Flickr.com

Verbruikers se beursies raak ál dunner en dit raak moeiliker om jou maandelikse verpligtinge na te kom. Daarom sien ʼn mens deesdae dikwels dat verbruikers in advertensies aangemoedig word om hul motors of ander eiendom te verpand om hul begrotings vir ʼn tydjie te laat klop. Min verbruikers weet egter hoe die proses verloop en vind dan dat hulle hul geld en eiendom kwyt is. Ina Opperman verduidelik hoe die Nasionale Kredietwet verbruikers beskerm wanneer hulle hul eiendom verpand.

Die Nasionale Kredietwet beskerm verbruikers se belange in alle vorme van kredietooreenkomste, wat ooreenkomste om goedere te verpand, insluit. Pandhouers of pandjieswinkels moet by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) registreer. Die Nasionale Verbruikerstribunaal kan ‘n boete van tot R100 000 en/of gevangenisstraf van tot tien jaar oplê aan diegene wat nie registreer nie.

Pandhouers en pandjieswinkels moet ook voldoen aan die Wet op Tweedehandse Goed, wat bepaal hoe pandjieswinkels bedryf moet word. Dit sluit in om die polisie in kennis te stel wanneer iemand ʼn pandjieswinkel begin en registrasie by die Raad vir Tweedehandse Handelaars en Pandhouers. Handelaars moet noukeurig boekhou van alle transaksies en die polisie verwittig indien hulle vermoed goedere is gesteel.

Die pandtransaksie

Die wet beskryf ʼn pandtransaksie as enige korttermynooreenkoms waarin ʼn kredietverskaffer aan jou geld voorskiet of krediet gee en in ruil daarvoor besit neem van goedere as sekuriteit en ná ʼn bepaalde tydperk daarop geregtig is om die goedere te verkoop en die volle opbrengs van die verkoping te behou om die bedrag wat jy skuld, te dek.

Pandhouers se verpligtinge

Artikel 99 van die wet bepaal die verpligtinge van pandhouers, wat die kredietverskaffers is. ʼn Kredietverskaffer, wat ʼn pandtransaksie met ʼn verbruiker sluit, moet sorg dat die kredietooreenkoms ʼn datum bepaal waarop die ooreenkoms eindig en moet, tot die einde van die kredietooreenkoms en op sy risiko, die verbruiker se eiendom wat as sekuriteit gegee is, behou en enige tyd aan die verbruiker teruggee voor die bepaalde datum, indien die bedrag volgens die ooreenkoms betaal is.

Verbruiker se regte

Indien die kredietverskaffer nie die verbruiker se eiendom teruggee nadat die bedrag betaal is nie, kan die verbruiker aansoek doen dat die tribunaal gelas dat die kredietverskaffer ʼn bedrag aan die verbruiker betaal, gelykstaande aan die billike markwaarde van die eiendom, minus die bedrag wat die verbruiker skuld, as die eiendom beskadig of vernietig is in omstandighede buite die beheer van die kredietverskaffer.

Indien daar enige ander rede is dat die eiendom nie teruggegee kan word nie, moet die verskaffer dubbel die billike markwaarde van die eiendom, minus die verbruiker se skuld, aan die verbruiker betaal. Indien die kredietverskaffer die eiendom voor die datum in die ooreenkoms verkoop het, kan die tribunaal die prys waarvoor dit verkoop is in ag neem om die billike markwaarde te bepaal.

Verpand van voertuie

Die Verbruikerstribunaal het onlangs die skema van Allied Capital, wat sy diens bemark het met die belofte dat jy jou motor kan verpand en steeds daarmee ry, onwettig verklaar en die maatskappy beveel om verbruikers se motors terug te gee. Die Nasionale Kredietreguleerder (MKR) het die saak na die tribunaal verwys nadat die NKR ondersoek ingestel en gevind het die maatskappy het daarmee die wet oortree.

Verbruikers wat hul motors by Allied Capital verpand het, moes ʼn klomp dokumente teken. Die maatskappy het die eienaarskap dan na homself oorgedra en die verbruiker het dan die motor by die maatskappy “gehuur”. Elke keer as die ooreenkoms hernu is, moes die verbruiker weer ʼn administrasiefooi betaal.

Die tribunaal het bevind die transaksies was wel gesekureerde lenings en nie net koop- en verkoopooreenkomste nie. Allied Capital se advertensies vir die skema het ook verklarings bevat wat deur die wet verbied word. Die maatskappy het ook nie ondersoek ingestel of verbruikers die lenings kan bekostig nie en het rente en fooie gehef wat hoër is as wat die wet vasstel, terwyl die kwotasies en kredietooreenkomste ook nie gedoen is ooreenkomstig die vereistes van die wet nie.

Die tribunaal het bevind dat die skema verbode is in terme van die wet en nie mag voortgaan nie. Allied Capital moet ook onafhanklike ouditeure aanstel om ʼn verslag saam te stel oor al die maatskappy se verbruikers om diegene te identifiseer wat te veel fooie en rente betaal het sodat hulle terugbetaal kan word. Verbruikers se motors, wat teruggeneem is, moet ook teruggegee word. Die tribunaal het ook die maatskappy se registrasie vir 18 maande opgeskort.

“Die transaksies wat Allied Capital met verbruikers gesluit het, is inderdaad nagebootste transaksies, omdat verbruikers nie beplan het om hul motors aan die maatskappy te verkoop en dit terug te huur nie. Verbruikers wou net geld leen by Allied Capital met hul motors as sekuriteit,” sê Jacqueline Peters, bestuurder van ondersoeke en wetstoepassing by die NKR.

Sy het verbruikers gewaarsku om lig te loop vir skemas waarin hul voertuie as sekuriteit gebruik word, omdat hulle die risiko loop om hul voertuie te verloor indien hulle nie betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Is hierdie ‘n ou berig wat net weer geplaas is sonder om die feite na te gaan?

Die 100 transaksies en R500 000 het weggeval. Selfs al het jy een transaksie wat aan die vereistes voldoen moet daar geregisteer word.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Jack

Baie dankie dat jy die fout aan ons uitgewys het. Dit is nou in die berig reggestel.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media.

Jack Russl ·

Mooi ene Maroela. Julle foute word uitgewys en dan word my kommentaar verwyder en julle berig word net so gelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.