Ou getroue kry nuwe lewe

ʼn Wyle terug, tydens die streng inperking, het ons ʼn digitale ontmoeting gehad met Billy Tom, die nuwe man aan stuur van sake by Isuzu Suid-Afrika.

Ek het intussen die geleentheid gehad om Tom te ontmoet en dit tref my dat die man ʼn slimkop is as dit by sake kom, en hy is oopkop as dit by kapasiteit kom. Onder sy leiding het Isuzu die afgelope 24 maande werklik van krag tot krag gegaan – deur ʼn tyd van enorme uitdagings met die onttrekking van GM uit Suid-Afrika, én toe die pandemie.

“Dink julle daar is plek in die Suid-Afrikaanse mark vir die huidige D-Max om voort te bestaan as ʼn goedkoper alternatief wanneer die nuwe sewende generasie D-Max in 2022 hier bekend gestel word?” het ek destyds tydens die aanlyn ontmoeting gevra. Die antwoord toe was effens duister, maar toe ek in 2021 deur die aanleg getoer het, het ek gedink hier is spasie, én die kapasiteit is reeds geïnstalleer. Die manne sal gek wees om die geleentheid deur hul vingers te laat glip.

In Januarie vanjaar het ek by die bekendstelling van die MU-X vir Tom en Dominic Rimmer, senior adjunkpresident van tegniese bedrywighede by Isuzu, met vrae gepeper, maar hulle wou nie enige iets verklap nie.

Vandag het ek die voorreg om vir julle heel eerste in Suid-Afrika te sê – die huidige Isuzu D-Max sal voortbestaan as ʼn Isuzu D-Max GEN 6. Die GEN 6 bou op 10 jaar se verbetering op dié spesifieke produk. Isuzu het 50 jaar se geskiedenis in Suid-Afrika, en het ʼn goeie reputasie opgebou dat dit van die betroubaarste voertuie op ons paaie is. Dit is presies dít wat die GEN 6 gewild gaan maak by vlootbestuurders, en meer konserwatiewe private kopers.

Twee enjins is beskikbaar, albei 2.5‑viersilinder‑diesels – een met ʼn turbo en een daarsonder. Die atmosferiese weergawe bied 58 kW en 176 Nm. Die turbo weergawe bied 100 kW en 320 Nm. Daar is twee ratkaste beskikbaar, ʼn 5-spoed‑handrat en ʼn 5-spoed‑outo.

Altesaam 12 modelle is beskikbaar. Vyf is vir Suid-Afrika bedoel, vier regterhandstuur vir die uitvoermarkte en drie vir linkerhandstuuruitvoere na die res van Afrika.

Die SA-reeks lyk só:

Isuzu D-MAX 250c Enkelkajuit Standard GEN 6

 

58 kW/176 NmR328 400
Isuzu D-MAX 250c Enkelkajuit Fleetside GEN 6

 

58 kW/176 NmR354 900
Isuzu D-MAX 250 HO Enkelkajuit Fleetside Safety GEN 6

 

100 kW/320 NmR380 500
Isuzu D-MAX 250 HO Dubbelkajuit Hi-Ride GEN 6

 

100 kW/320 NmR479 90
Isuzu D-MAX 250 HO Dubbelkajuit Hi-Ride GEN 6 outo

 

100 kW/320 NmR500 000

Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/120 000 km-waarborg vir padbystand en vyf jaar/90 000 km-diensplan. Diensintervalle is elke 15 000 km/12 maande.

Die bakkies is reeds by handelaars beskikbaar. Ek moet bieg dat ʼn uiters betroubare dubbelkajuitbakkie, met ʼn gesogte reputasie vir betroubaarheid en vir minder as R500 000 my uiters opgewonde maak. En hy is hier om te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Ek sal hom wil traai. Ek het nog nooit ‘n probleem met Isuzu gehad nie.

krodedil

Isuzu het te ver agter geraak met engine, tegnologie en luukshede in vergelyking met Ford en Toyota. Op hierdie staduim vergelyk die Isuzu goed met bakkies soos Mahindra wat kraglewering en prys betref.

Wielspore

Teen hierdie prys gooi Isuzu die spanner in die speke van die dubbelkajuit mark en hy gaan ‘n groter kwota verbruikers na hom toe trek. Die pryse is werklig meer beskostigbaar in vergelyking met die ander dubbelkajuit vervaardigers. Dit laat mens wonder of Ford dalk dieselfde gaan doen met sy opkomende bekendmaking van die Ranger reeks. VW sal dit nie kan doen omdat die huidige Amarok ingevoer word en die fabriek alreeds opgehou het om die huidige reeks te bou.
Goeie tye vir verbruikers, lekker ry!