Oulike Venue nou meer aanloklik

Die B-sportnutssegment is tans een van die gewildste segmente in die motorbedryf. Dit sluit motors soos Hyundai se Venue, Kia se Sonet, Volkswagen se T-Cross, Ford se EcoSport en dies meer in. Die meeste vervaardigers het nou al ʼn speler in dié segment en dit is alles goed vir die eindgebruiker.

Ek is gek oor die klein Venue. Spesifiek die 1.0T Fluid-handrat waarmee ek gery het. Sy enjin voel werklik puik met die handrat. Hyundai het nou vir die Venue ʼn bietjie plastiese sjirurgie gereël en die eindresultaat is oulik. Die Venue lyk nou meer volwasse, en pas beter by die res van die Hyundai-reeks in.

Die binneruim is heel gemaklik, die uitleg is eenvoudig en die materiale duursaam. Die N-Line waarmee ons op die bekendstelling gery het, vertoon werklik mooi met sy rooi stiksels en aksente. Die binneruim spog met klimaatbeheer, spoedkontrole, raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied, elektriese vensters en selfs ʼn elektries verstelbare bestuurdersitplek. Lekker luuks.

Daar is nog twee enjins en twee ratkaste om van te kies. Die intreemodel is ʼn atmosferiese 1.2-viersilinder met ʼn 5-spoed-handrat. Dan is daar ʼn 1.0-driesilinderturbopetrolenjin beskikbaar met ʼn handrat of outo, in twee spesifikasievlakke – Fluid en Motion. Die reeksleier dra nou die N-Line-naamplaatjie.

Die 1.2 bied 61 kW en 115 Nm, 0–100 km/h neem 14,2 sekondes en hy sal 158 km/h snol voluit. Hyundai beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6,5 ℓ/100 km. Die 1.0T bied 88 kW en 172 Nm, 0–100 km/h neem 11,4 sekondes en hy sal 180 km/h haal. Sy gemiddelde brandstofverbruiksyfer is 6,9 ℓ/100 km, sê Hyundai. Die outomatiese ratkas is Hyundai se 7-spoed-dubbelkoppelaarouto.

Op die pad toer die Venue heel lekker. Die ritgehalte op die N-Line is vir my ietwat harder as wat nodig is. Te danke aan die harder vering is die padhouvermoë oorgenoeg en meer as wat enige Venue-eienaar sal benodig. Die Venue spog met ʼn sterk veiligheidspesifikasievlak met ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer.

Dit is maklik om die Venue op te som. Hy kan sy man staan tussen enige van die mededingers. Ek verkies die handratmodelle bó die outo weens die manier waarop die nuwer dubbelkoppelaarratkaste deesdae geprogrammeer word wat té vinnig ratte wissel en hulself buite die kragkurwe vind. Dit is ʼn lekker voertuig, maar teen Kia se Sonet wat heelwat vriendeliker geprys is, dink ek hy gaan sy potlood prysgewys iewers moet skerpmaak – maar dan is hy nou weer heelwat goedkoper as Volkswagen se T-Cross.

Die reeks lyk só:

Hyundai Venue 1.2 MotionR294 900
Hyundai Venue 1.0T Motion handratR354 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid handratR389 900
Hyundai Venue 1.0T Motion outoR394 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid outoR429 900
Hyundai Venue 1.0T N LineR449 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 3 jaar/45 0000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met die Venue deurbring en hom dán teen sy direkte mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephen ·

Vergelyk hom aub met die Suzuki Brezza in julle volgende rubriek. Suzuki die beste waarde vir geld met n prys van 260,000 SAR. My tweede Suzuki. Ek sal nooit weer n ander motor koop nie. Jy wens die langpad wil nie ophou met n Brezza nie. Brandstof verbruik 16km per liter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.