Padindrukke: Hyundai Grand i10 1,2 Fluid

hyundai-grand-i10-mainDie afgelope tyd is daar ‘n oplewing in die mark vir intreevlak-motors wat groter as motors soos die Kia Picanto, die Chevrolet Spark en die Suzuki Alto is, maar wat voldoen aan die behoeftes van diegene vir wie ruimte en waarde vir geld van kritieke belang is.

Twee van die gewildste motors in hierdie klas was tot dusver die Toyota Etios en die Renault Sandero, maar nou het Hyundai ook besluit om tot hierdie marksegment toe te tree en sodoende die gaping tussen die i10 en die i20 te vul.
Die Grand i10 kan byna as die opvolger vir die gewilde Getz beskou word, en Hyundai Suid-Afrika wou trouens weer hierdie naam in Suid-Afrika gebruik. Die moedermaatskappy het egter toestemming geweier en wou ook nie gehad het dat hy hier as die i15 bekendstaan nie. Die Xcent-naam, wat in Indië gebruik word, sou om logiese redes ook nie werk nie en daarom is hy met die lomp Grand i10-naam opgeskeep. Die Grand i10 vul nie net ‘n gaping in Hyundai se reeks nie; hy vervang ook die vorige topmodel in die i10-reeks, naamlik die Glide. Hierdie model het egter net twee standaardkenmerke meer as die Fluid-model gehad, naamlik allooiwiele en ‘n sondak, wat vir sommige mense van twyfelagtige waarde is. Daar is twee modelle in die Grand i10-reeks, naamlik die Motion en die Fluid, en ek het die Fluid vir ‘n toetsrit geneem.

Die binne-afwerking van die Grand i10 is ‘n kwessie van persoonlike smaak. Daar is drie kleure beskikbaar, naamlik grys, oranje en rooi. Laasgenoemde twee kleure, wat saam met grys op die paneelbord, deurpanele en sitplekke gebruik word, sal eerder by jonger kopers byval vind, en daar is sekerlik diegene wat sal dink dat dit die binnekant aansienlik ophelder. Die toetsmotor was metaalrooi, maar gelukkig het hy die grys binne-afwerking gehad. Daar is genoeg kop-en beenruimte vir vier mense, en dis goed om te sien dat daar behoorlike bottelhouers in die agterste deure ook is. ‘n Groot teleurstelling is dat die agtersitplek nie verdeel is nie; as jy met vakansie gaan, moet jy mooi dink wat jy saamvat en wat jy agterlaat. Daar is min verskil tussen die Motion en die Fluid; die Fluid kom met elektriese vensters voor en agter, wegvoubare elektriese spieëls en ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer (die Motion se stelsel werk met die sleutel). Albei modelle kom egter met ‘n goeie klankstelsel, allooiwiele, lugversorging en ‘n ritrekenaar.

Die Grand i10 deel sy enjin met die twee modelle aan weerskante van hom in die Hyundai-reeks; die i10 1,2 Fluid en die i20 1,2 Motion. Hoewel ‘n mens nie opwindende werkverrigting kan verwag nie, is die kraglewering voldoende, en is hy ‘n uiters geskikte ekonomiese stadsmotor wat darem nou en dan die lang pad kan aandurf. Daar is ‘n keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n viergang-outomatiese ratkas. Die rathefboom is binne-in die paneelbord, en lekker maklik om by te kom en te gebruik. Selfs jong mense wat nog leer bestuur, sal maklik regkom, terwyl ouer mense wat nie meer groot motors nodig het nie, ook ‘n groot deel van die Grand i10 se teikenmark sal uitmaak. Volgens die ritrekenaar is die gemiddelde brandstofverbruik omtrent 7,4 liter per 100 km, en dit maak ‘n tenkafstand van ongeveer 600 km op sy 43-liter brandstoftenk moontlik. Dit is te vroeg om oor sy topsnelheid te bespiegel, maar dit behoort omtrent 165 km/h te wees.

Die pryse van die twee handratmodelle is R139 900 vir die Motion en R154 900 vir die Fluid. Dit maak dat Hyundai nie net teen ander vervaardigers meeding nie, maar ook teen hulleself. Die prysverskil tussen die i10 Fluid en die Grand i10 Motion is klein genoeg om die aankoop van die groter model te regverdig. Die Fluid is egter ‘n ander saak. Die i20 1,2 Motion se prys is omtrent R8 000 meer as dié van die Fluid, en hier is waar die groot probleem lê. Die goedkoopste i20 is nie te sleg toegerus nie, en die kenmerke warmee hy nie as standaardtoerusting kom nie, is nie juis belangrik nie. Daar is egter een groot verskil; die i20 Motion kom met ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km terwyl dit ‘n opsie vir die Grand i10 is. Dit alleen maak dat die i20 eerder die moeite werd is.

Daar is egter ook ander mededingers om te oorweeg. Die Toyota Etios XS het met reg uiters gewild geword; sy enjin is groter, hy kom met ‘n standaard-diensplan en daar is landwyd handelaars. Die Ford Figo is nog ‘n motor wat baie goed verkoop, en selfs die luukse Trend lyk na uitstekende waarde vir geld. Daar is egter een mededinger wat die Grand i10 bloedneus slaan. Die Renault Sandero het vroeër vanjaar groot veranderinge ondergaan, en veral die Dynamique bied ongelooflike waarde vir geld. Daar is egter vraagtekens oor die langtermyn-betroubaarheid van turbo-aangejaagde enjins en as dit ‘n probleem is, kan ‘n mens dalk eerder die Grand i10 of die Etios oorweeg.

As ‘n mens alles egter in aanmerking neem, hoef jy egter nie eens verder as ‘n Hyundai-vertoonlokaal te soek nie; die i20 Motion is dalk ‘n beter keuse as die Grand i10. Hy is dalk al ‘n rukkie op die mark, maar sy groter binneruim en diensplan behoort deurslaggewend vir enige koopbesluit te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.