Padindrukke: VW Polo 1,2 TSI Highline DSG

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Sedert sy bekendstelling vier jaar gelede was die tweede generasie van die VW Polo wat in Suid-Afrika beskikbaar is, een van die gewildste motors op die plaaslike mark.

Dit was egter al hoe meer duidelik dat hy sy ouderdom begin wys het, hoewel sy gewildheid nog glad nie afgeneem het nie. Volkswagen Suid-Afrika het egter nou ‘n aantal groot veranderinge aan die Polo-reeks aangebring, en die vraag is of hy gereed is om sy mededingers opnuut aan te durf.

Die nuwe Polo se stilering verskil nie veel van sy voorganger nie, maar hy lyk nou meer na ‘n kleiner weergawe van die Golf as voorheen. Daar is klein veranderinge aan sy voorste en agterste stampers aangebring, twee nuwe bakkleure, onder andere die pragtige Conflower-blou, is by die reeks gevoeg en ‘n reeks nuwe allooiwiele is standaardtoerusting op die meeste modelle.

Die groot nuus is egter dat daar weggedoen is met die ou 1,4- en 1,6-liter enjins. In die plek daarvan is daar nou twee turbo-aangejaagde 1,2 liter-enjins met kraglewering van 66 kw vir die Trendline en Comfortline en 81 kw vir die Highline en Cross Polo. Dit is twee weergawes van dieselfde enjin wat reeds in die Golf, Jetta, Touran en Beetle gebruik word, al verskil die kraglewering ietwat. Die Trendline en Comfortline kry ‘n vyfgang-handratkas, die Cross Polo het ‘n sesgang-handratkas as standaardtoerusting en die Highline is beskikbaar met laasgenoemde ratkas, asook ‘n sewegang- DSG-ratkas, waarmee die toetsmodel toegerus is.

Die Polo Highline is besonder goed toegerus, en daar is sekere kenmerke wat nie eens opsionele ekstras vir sy mededingers is nie. Daar is ‘n raakskerm met al die belangrikste funksies, onder meer die klankstelsel en die ritrekenaar, asook ‘n funksie wat jou waarsku wanneer jy besig is om moeg te word en jy ‘n blaaskans moet neem.

Die opsionele spoedbeheer waarsku jou wanneer jy besig om die snelheidsperk te oorskry, en die stabiliteitsbeheer is ‘n welkome kenmerk vir onervare bestuurders. Benewens die groot flikkerligte aan die buitekant van die elektriese truspieëls is daar ook klein flikkerliggies aan die binnekant, waar die bestuurder dit kan sien.

Dit is interessant om daarop te let dat die uitleg van die Highline se instrumentepaneel verskil van dié van die Trendline en Highline-modelle. Om mee te begin, is die petrol- en temperatuurmeters van die Highline by die toereteller en spoedmeter ingesluit en dit is makliker om te lees as die digitale meters waarmee die goedkoper modelle toegerus is. Dit is egter moeilik om vas te stel wat die brandstofverbruik van die Comfortline is, omdat dit die heel tyd verander terwyl ‘n mens ry, terwyl die ritrekenaar van die Highline ‘n gemiddelde syfer wys. Daar is verskeie opsionele ekstras beskikbaar, onder meer klimaatbeheer, parkeerhulp, ‘n tru-kamera en ‘n panoramiese sondak, wat wonderlik is vir warm weer, maar windgeraas verhoog.

Enigiemand wat wonder of ‘n 1,2 liter-enjin genoeg krag lewer vir ‘n motor van die Polo se grootte, hoef net agter die stuurwiel in te skuif. Die Trendline en Comfortline se minder kragtige enjin is alreeds ‘n verbetering op dié van sy voorgangers, maar die 81 kw-enjin is selfs nog meer indrukwekkend. Die DSG-ratkas kom ook op Volkswagen se verrigtingsmodelle soos die Golf GTI en R voor, en kom met spane agter die stuurwiel waarmee ratte sonder ‘n koppelaar gewissel kan word. Wanneer jy hom egter in sy Drive-funksie los, is die ratwisselings glad, en jy kom nie eens agter wanneer dit gebeur nie. Jy hoef die ratkieser net na links te skuif wanneer dit in Drive is en jy kan die spane gebruik. Ongeag watter ratkas jy kies, sal jy, volgens die vervaardigers, ‘n topsnelheid van 196 km/h kan bereik, terwyl ‘n brandstofverbruik van tussen 16 tot 20 kilometer per liter moontlik behoort te wees, afhangende van hoe jy bestuur.

Die toetsmotor se prys is R247 800 sonder enige van die opsionele ekstras. Teen hierdie prys is sy vernaamste mededinger seker die Ford Fiesta 1,0 Eco Boost Trend, ook met ‘n outomatiese ratkas maar met ‘n minder kragtige enjin as die handratmodel. Die Honda Jazz 1,5 Executive is duurder, en daarby word hy binnekort deur ‘n nuwe model vervang. Die Peugeot 208 1,6 Allure is ook ‘n moontlike mededinger, maar Peugeot se naverkoopdiens is nie so goed nie en sy herverkoopwaarde kan nie met dié van die Polo vergelyk word nie. Daar is ook groter mededingers soos die Hyundai Accent- of Kia Cerato-luikrug, maar hierdie twee is dalk nie op dieselfde tipe koper gemik nie. As ‘n mens dit alles in aanmerking neem, het die Polo nie sy gelyke in hierdie klas nie.

Die beste nuus word egter vir heel laaste gelos. Ondanks herhaalde kritiek het Volkswagen Suid-Afrika tot dusver botweg geweier om ‘n diensplan standaardtoerusting vir die Polo te maak. Dit het egter nou verander; elke nuwe Polo kry ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km, wat teen ekstra koste na ‘n onderhoudsplan opgegradeer kan word. Dit alleen maak die nuwe Polo al die moeite werd en ‘n groot verbetering op die vorige model. Die enigste jammerte is dat dit nog net die luikrug-modelle is wat die veranderinge ondergaan het, en dat dit lyk asof die sedan-modelle eers later opgeknap sal word. Daarby word die nuwe dieselmodelle, asook die nuwe GTI, ook eers aanstaande jaar bekendgestel.

Volkswagen Suid-Afrika was al die jare maar skrikkerig om nuwe tegnologie in Suid-Afrika bekend te stel. Dit verklaar hoekom Suid-Afrika vier jaar lank met die oorspronkliike Beetle opgeskeep gesit het terwyl die Golf oorsee beskikbaar was, en hoekom die Citi Golf ‘n kwarteeu lank Volkswagen se Suid-Afrikaanse intreemodel was. Dit lyk egter asof die nuwe Polo die begin van ‘n nuwe era vir Volkswagen in Suid-Afrika gaan wees. Hierdie nuwe reeks is nie net heelwat beter as die vorige model nie; dit is dalk nou die heel beste keuse vir enigiemand wat in ‘n motor in hierdie pryskategorie belangstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.