Padkar voltooi die negeuur-uithouren

(Foto: Verskaf)

Toyota het die afgelope jare werklik hul spiere gebult wanneer dit by motorsport kom.

Toyota het onlangs met Gazoo Racing aan verskeie dissiplines motorsport deelgeneem – onder meer met die veldrenbakkies waarmee hulle Dakar aanpak, die WEC (World Endurance Championship) wat Le Mans insluit, WRC (World Rally Championship) met ʼn Yaris, BTC (British Touring Cars), en GTC (Global Touring Cars) hier in Suid-Afrika met ʼn Corolla. Van dié voertuie word plaaslik vervaardig – spesifiek die Hilux-bakkies wat in Saoedi-Arabië aan die Dakar-uithouren deelneem.

ʼn Ander GR-produk wat plaaslik verstom het, is die GR Yaris. Ses tjorries het heel jaar op Suid-Afrika se gewildste bane gejaag onder die hande van ses van Suid-Afrika se motorjoernaliste. Twee van daardie GR Yaris-karretjies is ingeskryf vir die Killarney negeuur- uithouren in Kaapstad die afgelope naweek.

Dit is twee standaard GR-Yaris-karretjies met ren-tipe bande en briekblokkies. Dis dit. O, en ʼn rolstaaf en rensitplek. Verder lyk die twee GR-Yaris-renmotors nog presies soos hul uit die fabriek gekom het.

(Foto: Verskaf)

Die twee renmotors is deur lede van die media en ʼn paar van die uitvoerende beamptes van Toyota bestuur. Ashley Oldfield (Cars.co.za), Thomas Falkiner (Sunday Times), Mark Jones (The Citizen), en Jeanette Kok-Kritzinger (Wiele2Wiele) was aan stuur van sake vir die eerste motor. Dié kar het derde klaar gemaak in klas D en 8ste algeheel ná nege uur se voluit jaag.

(Foto: Verskaf)

Die tweede Yaris is deur Leon Theron (visepresident van verkope en bemarking), Anand Pather (visepresident van kliëntediens) Mario de Sousa (senior bemarking bestuurder – Motus), Riaan Esterhuysen (bestuurder, produkkommunikasie en bemarking: vloot) en Sean Nurse (AutoTrader) beman. Dié kar het vierde in klas D geëindig en 11de algeheel.

Toyota se GR-Yaris lyk só:

ModelKrag0 – 100 km/hTopspoedPrys
Toyota Yaris 1.6T GR-Four Rally198 kW/ 360 Nm5.5 sek230 km/hR776 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km- waarborg en nege dienste diensplan.

Giniel de Villiers (Foto: Verskaf)

Nuutgekroonde SARRC- (South African Rally-Raid Championship) kampioene, Giniel de Villiers en navigator Dennis Murphy, vlieg laat in Desember na Saoedi-Arabië om aan die 2023 Dakar-uithouren deel te neem. Daar is drie Dakar Hilux-bakkies wat jaag. Die tweede Hilux word deur Nasser Al-Attiyah en navigator Mathieu Baumel gejaag en die derde bakkie deur Henk Lategan en navigator Brett Cummings.

(Foto: Verskaf)

Toyota se T1+ Dakar GR Hilux loop met ʼn 3,5 V6-turbopetrolenjin wat 266 kW en 620 Nm bied. Krag word deur ʼn Sadev 6-spoed opeenvolgende ratkas verskaf, wat krag na al vier wiele stoot. Die wiele is 17” en die bande 37”. Die grootste bande nóg om in die Dakar gebruik te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Uitstekende resultate, maar moet nie dink die een wat jy koop is so sorgvuldig gebou nie. Dis dalk standaard toerusting, maar deeglik uitgesoek.

andre ·

Ek wonder of die Polos wat eerste en tweede in klas D klaargemaak het ook 4wielaangedrewe was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.