Padlangs: Berge en grasgroen velde…

Ons het laat in 2020 saam met Land Rover en Kingsley Holgate aan ʼn ekspedisie deelgeneem.

Ons het met ʼn vloot van Land Rover se fantastiese Defenders gery en die doel van die ekspedisie was om meer tyd met dié voertuie deur te bring, grootliks op grondpaaie – en om saam met Kingsley en sy span kos by twee minderbevoorregte skole uit te deel.

Ons vlieg Bloemfontein toe, en soos ons uit die lughawegebou stap staan die vloot Landy’s vir ons en wag.

Die D240 viersilinderturbodiesel is eerste aan die beurt en ons ry van Bloemfontein, 157 km ver tot by die Cranberry-restaurant op Ladybrand. Dit is vir my opvallend hoe pragtig die Oos-Vrystaat is. Ons land is dié seisoen werklik geseën met fantastiese reën.

Die D240 Defender beïndruk dadelik. Dit is fisiek dieselfde motor as die P400, dieselfde ruimte, bougehalte en gemak. Die D240 ry op kleiner wiele as die P400 waarmee ek voorheen gery het… die ritgehalte is fantasties. Die Defender verorber ʼn grondpad soos net een ander kar kan… en dis ʼn Ford Ranger Raptor. Daar is geen ander voertuig wat só sag op ʼn grondpad kan toer nie.

Op die tweede been vertrek ons van Ladybrand al óm Lesotho tot by Moolmanshoek waar ons ʼn paar behoorlike hindernisse aandurf voordat ons inkruip. Ek en my reisgenoot, Willem van de Putte van die Independent-groep, kan nie uitgepraat raak oor hoeveel ruimte daar is nie. Daar is rakkies en vakkies orals, USB en laaipoorte vir ʼn vale, voor en agter in die voertuig.

By Moolmanshoek ry die plaasboer en al sy personeel trots op pragtige perde. Hulle lei ons tot bó op ʼn berg. Ons is ʼn groot span, en elkeen voltooi elke hindernis versigtig. Dit is gedeeltelik te danke aan Sean Renton en sy span van die Land Rover Experience wat ons perfek deur die hindernisse lei, én dan die voertuig. Die Land Rover Defender skrik vir niks.

Die volgende dag begin ons darem nie té vroeg nie. Ons eerste stop is Carolina Primary School – sommer net een klassie langs ʼn grondpad in die middel van nêrens. Van gr. R tot matriek in een klaskamer. Sjoe. Ek het amper nie die inperking gemaak met my drie kinders by die huis nie, graad 1, 3 en 5. Wat nou van 30 – tussen graad R en 12. Nee wat… ons regering is besig om dié kinders te na te kom.

Die volgende stop is die Tshepong-gemeenskapsentrum op Clarens. Die sentrum doen puik werk om weeskinders in die gemeenskap te identifiseer. Hulle gaan ná skool na die sentrum waar hulle eet, huiswerk voltooi ensovoorts.

Daar laai ons tonne kos af wat vir amper vier maande vir die kinders een maal per dag ʼn billike bakkie pap kan voorsien.

Ons laat die kinders en soos die kraai vlieg, minder as drie kilometer verder, gaan smul ons aan ʼn heerlike enchilada. Ai. Daar neem ons afskeid van Kingsley Holgate en sy span. Hulle is besig om al óm die Suid-Afrikaanse grens te toer, én dan óm Lesotho. Die doel van hul Mzanzi Expedition is om meer as 250 000 maaltye, gesigsmaskers en handreinigingsmiddel uit te deel aan piepklein gemeenskappe al langs die grens.

Ons rusplek vanaand is Three Tree Hill Lodge aan die voet van Spioenkop. Die weer is heerlik koel, mistig en nat. ʼn Pragtige afsluiting vir die dag. Die laaste been is tot in Pietermaritzburg. Aan die Natal-kant van Lesotho is dinge steeds net só mooi soos in die Oos-Vrystaat. Grasgroen. Ek sal elke Suid-Afrikaner smeek… vat ʼn voertuig en ry ʼn goeie ent op ʼn grondpad. Dié dele van ons land wat ʼn mens van ʼn ander perspektief kan sien is asemrowend mooi!

Soos wat ons Pietermaritzburg inry val ʼn paar dinge op. Drie dae, byna 1 000 km – ʼn groot gedeelte daarvan op grondpaaie, en daar is nie ʼn krummeltjie stof in die kajuit nie. Daar was nie een tegniese probleem of pap wiel nie… en die 20 of só van ons het pas ʼn lewensveranderende ontdekkingsreis voltooi.

Die Land Rover Defender is duur, ja, maar dis ʼn fantastiese ryding, en op die plekke waarheen hy jou kan neem kan daar nie ʼn randwaarde geplaas word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.