Padlangs: Drie bergpasse, ʼn kloof en Klaarstroom…

Suzuki het ʼn wyle terug vir my gevra of ek sou belangstel in ʼn driedag-reistog saam met hulle. As die wiele rol, is ek altyd in – so natuurlik is my antwoord dadelik: “Ja!”

Dié een is effens anders – daar is twee van Suzuki se Ignis-modelle en vier motorfietse, Suzuki se 1050 V-Strom. Ek het as jong man ʼn stokou Yamaha 125-fiets gehad waarmee ek werk toe en huis toe gery het. Soos ʼn ou apteekfiets. Dié is glad nie soos my ou fietsie nie.

Omdat ek nie ʼn motorfietsrybewys het nie, is ek ongelukkig beperk tot die Ignis. Dis nie ʼn slegte ding nie, want ek’t met verlede jaar se reistog met Suzuki die Ignis gemis. Dié jaar sal hy my nie ontduik nie.

Ons vertrek uit Grabouw, en stuur die Ignis in Barrydale se rigting. Die atmosferiese 1.2 viersilinder-Ignis skrik vir niks. Ons is drie volwassenes in die Ignis en die lugreëling loop, sonder ʼn probleem. Ek is gek na Suzuki se enjins – as jy meer krag wil hê, skakel net ʼn rat of twee terug en begrawe die versneller in die mat… sodra die omwentelinge bou, loop hy soos ʼn windhond.

Diesel en Crème bied vir ons middagete waarna die motorfietsryers ruil. Daar lê grondpaaie voor – so die meer ervare ruiters sal hier die leisels oorneem. Dis nou ʼn naelloop deur die Seweweekspoort tot in die Bosluiskloof waar ons oornag. Die manne waarsku dat die vorige week se reën moontlik die pad sleg verspoel het, en dat die bestuurders moet wakkerslaap.

By Bosch Luys Kloof oornag ons. Die sterre is eenvoudig asemrowend. Die pad tot hier het interessant geraak. Dele is sleg verspoel, maar die ou Ignis het nie ʼn enkele voet verkeerd gesit nie. Met sy 180 mm-grondvryhoogte plaas mens sy wieletjies op die hoogste hobbels, en hy wip en hop oor die terrein sonder om sy pens een keer te sleep.

Die uitsigte van die pragtige Karoo is ʼn belewenis soos ons die Bosluiskloof agterlaat. Daar lê nóg pragtige poorte en passe tussen ons en Klaarstroom. Ongelukkig was een van my kollegas, ʼn goeie vriendin, tydens die reis in ʼn botsing betrokke. ʼn Motor het voor haar motorfiets ingedraai. As mens ooit wil weet hoekom beskermingsklere absoluut ʼn voorvereiste is, is dit wanneer die ryer opstaan en rondloop, amper ongeskonde – drie steke in haar voet, twee gekraakte ribbes en ʼn hematoom in haar been.

Die Swartbergpas is ʼn pragtige plek en die Ignis én die motorfietse is in ʼn oogwink oor die pas en ons bevind ons voor sonsondergang op Klaarstroom.

Op Klaarstroom kommandeer ek gou iemand se motorfiets. Ek wil ook voel hoe voel dit. Een ding is vir seker: die verskil tussen ʼn V-Strom en my ou fietsie al daai jare terug is enorm. Ek is egter lus vir ʼn ou fietsie in die motorhuis vir wanneer die wind só waai. Ons gids, Danie is in groot moeilikheid by Margaret, die organiseerder, omdat hy toegelaat het dat ek die fiets steel. Gelukkig is die fiets sonder skade gebêre, en ons is té bly om ons kollega weer op die been te sien.

Greg Berghoff het ʼn besigheid op Klaarstroom. Hulle bly al so ’n paar jaar op Klaarstroom. Hier bou hy pragtige replikas en restoureer ou motors tot ʼn asemrowende standaard. Die bloedrooi Jaguar pronk te pragtig in die ruit van die skuur. Hier is ʼn paar ander voertuie – ʼn ou Chev-bakkie, ʼn DKW, ʼn Volla en ʼn ou Merc… almal pragtig.

Koos Roets, die fliekman, is ons gasheer vir die aand. Hy vertel vir ons fantastiese staaltjies van jare heen… almal in die skuur hang aan die man se lippe. Buite word ons deur ʼn groep jongmense van die dorp onthaal. Hulle is Suid-Afrikaanse rieldanskampioene. Dis fantasties om te sien… Afrikaans leef, en haal asem en groei, hier in die Karoo – selfs tussen die jonges. Lekker!

Aan tafel vertel Tumelo vir my van toe hy laas op Klaarstroom was en vir Steven ontmoet het. Steven is ʼn inwoner van Klaarstroom en is nie sonder streke nie. Hy’t al ʼn reusagtige boom probeer verwyder met ʼn chloorbom. Tweeuur in die nag. Die flits en die klank kon in dorpe ver heen gehoor en gesien word. Ek sou dit graag wou sien, maar Greg sê dit was verskriklik, hy was amper uit sy bed uit geblaas!

Die volgende oggend groet ons vir Klaarstroom en sy sjarme. Ons vat die pad terug George toe sodat ons betyds is vir ons vlugte. Gelukkig maak ons goeie tyd en kan vir oulaas oor die Montagupas ry – die laaste stukkie grondpad voor ons weer die dorp binnegaan. Halfpad oor die pas ontdek ek nóg ʼn pragtige juweel… die tolhuis.

Die tolhuis vertel die verhaal van een dame se toewyding. Nee wag, toewyding is een ding, dié dame het toewyding gemeng met hardnekkigheid. Sy’t die tolhuis gerestoureer. Dit is daarna in ‘n veldbrand verwoes en nou het sy dit wéér oorgebou. Dis ʼn fantastiese storie.

Net ná die tolhuis weer oop was vir sake, toe kom Covid-19. Met dié wat mense nie ingeprop wil wees in die tolhuisie op ʼn Saterdag nie, het die vriende van die tolhuis besluit dat hulle eerder elke dag sal oopmaak, sodat mense beter sosiale afstand kan hou. Indien jy jou in die George-omgewing vind, gaan maak beslis ʼn draai by die tolhuis op die Montagupas vir ʼn beker boeretroos met kondensmelk en ʼn pannekoek – dis watertandlekker!

In ʼn japtrap is ons onder die pas en ry rustig George binne. George is ʼn redelike dorp al, maar ná mens twee dae in die Karoo deurgebring het, voel George soos ʼn groot, raserige stad. Die Karoo is nie outomaties my keuse nie, maar die mense daar is bitter spesiaal – dis hartsmense.

 

Die grootste verrassing hier is die Suzuki Ignis. ʼn Klein voorwielaangedrewe luikrug, wat honderde kilometers oor wilde terrein afgelê het. Daar is dele van dié reistog wat mens beslis sou sê in ʼn hardebaard-4×4 afgelê moet word, maar dis eenvoudig onwaar. Die Ignis het hom só goed gedra, dat ons eie motorfietsman, Brian, by die huis teruggekom het en vir hom presies só ʼn Ignis aangeskaf het.

Die Ignis lyk só:

Suzuki Ignis 1.2 GL61 kW/ 113 Nm5.1 l/ 100 kmR198 900
Suzuki Ignis 1.2 GLX61 kW/ 113 Nm5.1 l/ 100 kmR229 900
Suzuki Ignis 1.2 GLX outo61 kW/ 113 Nm4.9 l/ 100 kmR246 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km-waarborg en 2 jaar/ 30 000 km-diensplan.

Die V-Strom lyk só:

Suzuki V-Strom DL650 XT645 cc V-twin216 kgR144 500
Suzuki V-Strom DL1050 XT1 037 cc V-twin247 kgR221 950

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Brian ·

Dankie vir die lekker lees. Ek herleef sommer weer my eie avontuur. Ek kan ook beaam dat ek dolgelukkig is met my Ignis. Wat ‘n ongelooflike klein voertuig!

andre ·

Ek hoop julle toets binnekort die nuwe Hayabusa. Ek geniet die Swift baie en hy is ook baie tuis op grondpaaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.