Padlangs met die Jimny: Botswana se bosveld-bekoring

Brendon en Leonora Staniforth

Maroela Media het al verskeie kere saam met Suzuki getoer, waaronder die Suzuki Safari’s waarvan die eerste een na die Kalahari en die tweede die ossewaroetes in en om die suider-Kaap was.

Tydens dié toere vra ek vir JJ, ons toerleier, as hy een toer vir die res van sy lewe kon aanbied, watter een sou dit wees? En sonder om te huiwer sê hy: “Botswana is uiters spesiaal.”

Toe die uitnodiging kom vir ʼn Suzuki Safari na Botswana kon ek nie vinnig genoeg RSVP nie … en ʼn paar weke voor die toer vat dit ʼn opwindende draai. Ons gaan nie meer van Kasane na Johannesburg terugvlieg nie, maar eerder uit Livingstone in Zambië ná ʼn vinnige draai by die waterval. Nou’s ek eers opgewonde, want vroulief was nog nooit in Botswana óf Zambië nie, en ook nie by die Victoria-waterval nie.

(Foto: Brendon Staniforth)

Ná ʼn kort vlug land ons in Maun. Uit by die lughawe wag ons Jimny’s vir ons en dis lekker warm buite. Twee van my kinders is bitter siek by die huis en my vrou is in ʼn toestand – so ons is op soek na ʼn simkaart sodat sy by die bloedjies kan inloer.

Ons stel koers vir Mababe – dit is 145 km op ʼn slegte grondpad. Die Jimny is tuis hier en vreet die myle op. Hy hop en wip oor die kwaaiste hobbels, maar ons maak goeie vordering. Vroulief het met die siekste kind kontak gemaak en is gerusgestel.

(Foto: Brendon Staniforth)

Ons kampeer by die Tshaa-gemeenskapsterrein en terwyl ons inry, sien ons die res van JJ se span – sy seun Justin, oom Piet, én ons word ook aan ʼn nuwe spanlid voorgestel. Philly is ʼn laaitie van Upington se wêreld wat in pragtige Afrikaans kom groet – sy pet afhaal met een hand en ʼn sterk bladskud met die ander. Dis lekker tussen ons mense.

Daar staan ses koepeltente en ʼn ent agter hulle staan ʼn houtstellasie met ʼn spoeltoilet, stort en ʼn donkie wat al vir ʼn paar uur warm word. Binne-in die tente is twee opvoubeddens en ʼn tafeltjie in die middel. ʼn Klomp kampstoele maak ʼn sirkel om die kampvuur so langs die oewer, en net daar loop ʼn pragtige rivier. Vinnig word ons deur Bertus, die paramedikus, die leviete voorgelees. Toe skoene moet te alle tye gedra word as jy nie deur ʼn skerpioen gesteek wil word nie – en só wys hy vir ons twee spoortjies in die sand waar die skerpioene hul sterte gesleep het.

Ons hoor die seekoeie in die rivier nurk en skielik kom ons agter dít is nou waarlik kamp in die wildernis. Hier is geen elektriese heinings wat ons en die diere skei nie. Ons word met ʼn asemrowende sonsondergang en ʼn pragtige volmaan bederf. Die volgende dag ry ons twee draaie en kyk wild. Terwyl ons afdraai, staan ʼn olifant rustig vir ons en kyk en ons sien ook heelwat bokke en buffels.

Vroegmiddag is ons terug in die kampterrein en só sien ons ʼn reuseplathond in die rivier afdryf. Ek skat die krokodil by die vyf meter.

Die middag gaan drink ons ʼn paar biere en kyk die sonsondergang langs die rivier. Man, dis nog ʼn rowwe dag in Afrika. Dis met die terugkeer kamp toe dat almal op hol gejaag word. Seker 500 m van waar ons gesit het, en nie eens ʼn kilometer van ons kamp af nie, lê drie leeuwyfies in die pad. Hulle is honger. Môre moet ons vroeg vertrek. Die pad is 167 km van Mababe, deur Chobe en die Savuti tot by Mwandi View. Dit gaan omtrent nege uur neem.

Weereens hop die Jimny soos ʼn duikertjie oor die gras, grond en sand. Dis asof hy nie sukkel soos die groter, swaarder voertuie nie. Hier en daar kies ek laestrek om bietjie minder stremming op die koppelaar te plaas wanneer mens in die dik sand wegtrek – maar die meeste dele van die roete word in hoëstrek afgelê. Hier teen middagete het ons puik vordering gemaak en daar is net so 80 km om te gaan. Ons het ʼn afspraak by Mwandi View met die sonsondergang en kan nie laat wees nie. Gemoedere loop hoog en almal is effens gatvol. Dit is lank agter die stuur, en die sand is nie grappies nie.

(Foto: Brendon Staniforth)

By Mwandi word ons met ʼn pragtige sonsondergang bederf. Almal spuit Tabard dat dit hop … dit ís ʼn malariagebied. Aandete is heerlik, maar ons is pootuit en skuif vinnig bed se kant toe. Môre begin nóg vroeër, want almal is erg gretig om na die waterval te gaan. JJ wil verwagtinge bestuur oor die grenspos, en slegs as alles daar glad verloop, sal ons die waterval kan haal, andersins is dit reguit lughawe toe.

Die wiele rol stiptelik om 06:30 vir die 75 km tot in Kasane. Daar parkeer ons die Jimny’s en neem ʼn pendeltuig tot by die spiksplinternuwe brug wat oor die Zambezirivier gaan tot in Zambië. Daar gaan ons in ʼn japtrap deur doeane, en klim in ʼn Zambiese pendeltuig wat ons na Victoria en lughawe toe neem. Lou is die drywer en hy en JJ doen al dekades lank sake saam.

(Foto: Brendon Staniforth)

Ek en Leonora is uit die veld geslaan oor die grenspos. Dit is nuut, skoon en georden. Indrukwekkend vir Afrika. Die waterval is pragtig. Daar vloei heelwat water. Dis Leonora se eerste keer by Victoria. Ek’t vroeër die jaar vir haar ʼn nuwe kamera gekoop en sy neem kiekies dat dit klap. Dit maak my hart bly, en dis toe dat ek weereens besef: Ons is Afrikane. ʼn Voertuig is ʼn kaartjie of toegang tot die mooiste ervarings en besienswaardighede.

Stel ʼn emmerskoplysie op, kry ʼn paspoort en vat die pad saam met lekker mense. Lesotho is ʼn klipgooi van Gauteng af, Botswana is pragtig en nie uitermatig duur nie en Zambië voel vir my besonder vreedsaam. Ek was drie jaar terug in Zimbabwe, en sou nie noodwendig aanbeveel dat mens soontoe gaan nie … die korrupsie is net té erg, maar te danke aan die brug wat die plaaslike mense Bonazazi genoem het (dit staan vir Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe), is dit nie meer nodig om deur Zimbabwe te gaan om by die Victoria-waterval uit te kom nie.

Dalk is dit ouderdom, maar ek besef ál meer hoe ʼn groot voorreg dit is om in Suider-Afrika te toer.

Ons het altesaam 354 km oor vier dae gery. My handrat- Suzuki Jimny GL het 8,6 ℓ/100 km oor die hele toer gehandhaaf … dít wil gedoen wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.