Padlangs met die Jimny: die Karoo, die Kalahari, riviere en die see

(Foto: The Palm Tribe)

Dit gaan tans uiters goed met Suzuki en hy verdien dit aangesien hy eerlike produkte teen billike pryse met goeie naverkopediens bied.

Ek het ʼn tydjie gelede gevra wanneer ons die Jimny van Indië af begin kry. Ek moes geweet het dat daar iets in die mou gevoer word toe ek nie regtig ʼn antwoord kon kry nie.

Die eerste Indiese Jimny’s het intussen hier aangekom. (Lees meer daaroor hier). Dié artikel gaan nie so seer oor die Jimny of sy prys nie maar eerder oor sy hart, ʼn pragtige deel van ons land, ek en my vrou, ʼn lekker groep mense, ʼn toergids en 1 200 km… in ʼn Jimny!

(Foto: The Palm Tribe)

Die uitnodiging was duidelik. Van Donderdag tot Sondag – ʼn Suzuki Safari. Ons sou ʼn bietjie met die Jimny gaan toer. Ná ʼn kort vlug van OR Tambo na Upington en ʼn mens is skielik in ʼn ander wêreld. Dele van die Noord-Kaap kom uit ʼn tien jaar lange droogte, so vanuit ʼn vliegtuig lyk dit soos Mars.

Vier klein Jimny’s wag vir ons in die parkeerterrein. Ek en vroulief wil graag ʼn outo hê – dit maak die ernstige 4×4-dele makliker. Ons ry in ʼn konvooi van Upington tot op Pofadder waar nog twee Jimny’s vir ons in die gietende reën wag! Manna uit die hemel. Op Pofadder ontmoet ons vir JJ, ons toergids vir die volgende vier dae. Hy self ry ʼn Jimny.

(Foto: The Palm Tribe)

Ons eet gou middagete en spring dadelik weg. Van Pofadder is die eerste stop Pella. Daar vind ons ʼn pragtige Rooms-Katolieke kerk. Waarskynlik die enigste Afrikaanse Rooms-Katolieke kerk op aarde? Dié kerk is in die 1800’s met die hand deur twee Franse sendelinge gebou. Soos enige klein dorpie in Suid-Afrika het die gemeenskap egter sy uitdagings.

Van Pella gaan ons eers Bobbejaanspieëlpas toe. Ná die pas, toer ons vir ʼn stukkie langs die Oranjerivier. Dis vreemd. Ek het ʼn verskriklike liefde vir reis en daar sien ek Namibië… net daar, anderkant die rivier en my paspoort lê by die huis. Ai. Ons ontmoet vir oom Adam Basson – die Bloubul. Hy bly in ʼn klein staning… ʼn soort plakkershut wat mense in die area bou om in te woon as hulle skape en bokke in die veld oppas.

Ons groet oom Adam en stel koers vir Karsten Boerdery, die grootste dadelplaas in die Suidelike Halfrond. Ná die reën het die vorige kamp onveilig geraak, so die manne van Karsten het toestemming gegee dat ons op hul grond kamp. Dit is ʼn ware belewenis so in ʼn kloof, niemand anders om jou nie en wat lyk soos ʼn miljoen sterre! Ek kamp graag, met my karavaan en ʼn mooi ingerigte ablusieblok. Dié kamp se stort leer my ʼn les of twee, want toe ek die pompie agter in die Jimny inprop nadat ek aan die tou getrek het, spuit die stortkop bó uit die stort uit tot agter in die Jimny. Na ʼn paar gevleuelde woorde is alles onder beheer gebring en die Jimny drooggemaak.

Die volgende oggend word ons bederf met laat ontbyt in die gastehuis op die plaas. Soos ons deur die plaas ry kan mens sien hier word geboer, nie gespeel nie. Daar word vir ons meer vertel oor die plaas en dan is dit tyd om te proe. Die dadels is heerlik. Ons koop ʼn boks dadels en ʼn pakkie dadelballetjies om huis toe te neem. Die balletjies het egter nie die volgende dorp gesien nie.

Die volgende aand slaap ons by Houthoop. Dit is naby Kleinsee. Nog ʼn plaas waar JJ oor die afgelope 30 jaar sterk bande met die mense gebou het. Houthoop sal vir twee dae ons tuiste wees. Die teerpad van Pella deur Springbok tot in Kleinsee is lank, maar elke keer as ʼn mens net begin verveeld raak dan wys JJ vir ons een of ander besienswaardigheid. In ʼn baie kort ruk sien ons soveel plekke en dinge dat dit voel of jy sommer vinnig in vier verskillende lande was. Daar is ʼn stuk van so 20 km wat besig is om in rooiduin te verander. Daarná ʼn stukkie wat presies soos die Kalahari lyk… dan Springbok en ʼn bergpas wat net klip en droogte is… en toe die see. Sjoe.

Saterdag, die tweede laaste dag, toer ons nie baie ver van Houthoop af nie. Ons gaan ʼn duinroete ry al langs die see op ou De Beers-grond. Daar word steeds gemyn hier… net ʼn paar dae voor ons aankoms het onwettige myners vasgeval. Daar is drie wrakke hier langs die kus. Twee van hulle het in die laat 1940’s hier gestrand. Albei is 20 jaar oud en was op hul laaste vaart toe hul hier gestrand het. Die geroeste oorblyfsels gee aanleiding tot fantastiese foto’s. Nóg ʼn indrukwekkende ding van die dag is hoe die Jimny lag-lag die roete, sand en duine, aanpak.

Die volgende dag keer ons terug Upington toe, maar nie voordat ons die aand ʼn reuseseekosaandete in Houthoop geniet het nie. Ons eet ons vingers stompies en gaan slaap oorversadig. Die Sondag vat ons ʼn ander grondpad terug Springbok toe oor die Wildeperdehoek- en Messelpad-pas langs die Buffelsrivier. Dis fantasties om te sien hoe die kameeldoringbome nou vrek weens die rivier wat sterk afgekom het voor die blommeseisoen.

Té gou is ons in Springbok. Daar gaan twee van die groep wegbreek. Een lot ry terug Stellenbosch toe, en die ander gaan eers ʼn draai maak by Augrabies. Die vier ander Jimny’s val in ʼn konvooi en stel koers vir Upington se lughawe. Die pad is lank, warm en winderig… so 130 km/h toer vir groot afstande is nie die Jimny se tuiste nie, maar bring die spoed terug na 110 km/h toe en wees rustig – dan sal mens lag-lag Kaïro toe kan ry.

Altesaam 1 227 km, 12 mense, ses Jimny’s, 8,7 ℓ/100 km en ʼn duisend herinneringe. Ons woon in ʼn pragtige land… klim in die motor, draai af op daai grondpad en gaan toer. Dit is kos vir die siel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Oorspronklik was hy 5L/100km, toe nou nie so lig op petrol nie.

quartus

Ons leef in n pragtige land, ja, maar dit is ongelukkig nou in ANC hande

Bernard

Lekker storie – goed geskryf. As Jimny-eienaar weet ek die verbruik op duine, ens in 4×4 sal nogal hap aan die 40 liter tenkie. Ruil my GLX auto vir niks