Padlangs met die Jimny: Grondpaaie en kleindorpie-bekoring

Ek het dit al baie gesê en geskryf – Suid-Afrika is ʼn bitter mooi land. Wanneer mens die land van hoek tot kant deurtoer, begin mens ʼn idee kry van hoe groot dit ook is. Nie net is dit mooi en groot nie, maar ons het alles. Bosveld, woestyn, strande, woude en stede … alles.

Suzuki is besig met ʼn reeks toere, of eerder safari’s. Ons was reeds aan die Weskus met ʼn Suzuki Safari. Die jongste een was in die suidelike deel van die Wes-Kaap – tussen George, Calitzdorp, Oudtshoorn en Knysna. ʼn Hoekie van ons land wat nie net pragtige landskappe huisves nie, maar ook fantastiese stories en bitter interessante mense.

Ons is die oggend van ons vertrek douvoordag wakker sodat ons 06:00 kan vlieg. ʼn Lieflike vlug George toe en met ons aankoms wag sewe Jimny’s, in ʼn verskeidenheid van kleure, in die parkeerterrein vir ons. Wit, silwer, grys, ivoor en geel. Vroulief wou aanvanklik die presiese witte gehad het waarmee ons laas getoer het, maar daar is net twee outo’s. Ek besluit dat ons maar ʼn handrat sal gebruik en neem die grys een.

Ons eerste halte is op Heidelberg. Ek skrik my melk weg en dink hulle bedoel die een in Gauteng. Ná ek amper flou val, verseker hulle my dis net so 160 km weg. Daar geniet ons ʼn heerlike ontbyt – maar die lekkerste van alles is die Afrikaans. Almal praat Afrikaans – al die kelners, die mense by die vulstasie – almal. Dis lekker.

Op Heidelberg blaas ons die wiele af na 1,2 bar sodat die Jimny lekker op die grondpaaie kan toer. Ons eerste bestemming is Van Wyksdorp. Ons moes bietjie van die roete afwyk omdat daar ʼn reuseveldbrand in gedeeltes van die Langebergreeks gewoed het.

Ons gaan besoek die winkelsentrum op Van Wyksdorp. ʼn Pragtige klein dorpie met die interessantste storie oor sy polisiestasie. Dekades terug is ʼn tender uitgesit om die polisiestasie op Van Wyksvlei te vergroot. Die bouer begin en naderhand kla die mense weer by die regering oor wanneer hulle nou die groter stasie kan verwag. Die regering volg op met die bouer en hy sê die mure is heuphoogte en hy stuur foto’s as bewys. Só volg die kaptein van die stasie weer op met die regering oor die bouery en die regering volg op met die bouer. Só besef hulle die bouer is besig om te bou op Van Wyksdorp en nie Van Wyksvlei nie. Nou sit Van Wyksdorp met ʼn enorme gebou en meer polisie as wat nodig is om hom vol te maak. Die resultaat is ʼn dorpie met bitter min misdaad.

Calitzdorp Country House is die volgende halte op Calitzdorp. Die kamers is pragtig, maar weereens is dit eerder die mense wat beïndruk as die geboue. Die gastehuis word bedryf deur Andrew en Nell, man en vrou. Aan die etenstafel vra Nell vir JJ die toerleier of ek die man van Maroela Media is. Hy verseker haar dat ek inderdaad is en sy bedank my vir ons werk en verseker my dat sy elke oggend Maroela lees. Dis ʼn lekker gevoel.

Nell het vir aandete die lieflikste lamskenkel sonder die been gemaak, wortels en boontjies aan die kant, met ʼn kapokgroentegereg wat van geelpatats gemaak is. Heerlik.

Aan tafel, net voordat ek kamer toe gaan om te rus voor môre se trek, wonder ek hoekom ons in my jong dae nie meer tyd in die Karoo deurgebring het nie. Dis ʼn fantastiese wêreld met briljante geskiedenis en die interessantste mense en stories.

Ons volgende halte is De Denne Gastehuis naby Oudtshoorn. Ek kan nie wag nie. Dag 2 volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Suzuki moet rerig ‘n turbodiesel vir die Jimny maak. Een wat nie omgee om Parafien ook te verbrand nie. Want as jy oor die landsgrense gaan, dan gooi hulle allerhande snaakse goeters in die brandstof om dit bietjie te “rek”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.