Padlangs met Ford se allesdoener

(Foto: Brendon Staniforth)

Talle Suid-Afrikaners ry groot sportnutsvoertuie. Ek praat van dié wat op ʼn leerraam-onderstel gebou word, onder andere Ford se Everest, Toyota se Fortuner, Isuzu se MU-X en Mitsubishi se Pajero Sport. My woonbuurt is vol van die goed – almal met mamma en ʼn paar kindertjies in op pad skool toe.

Is dit dan al waarvoor dié voertuie goed is? Beslis nie. Ons was onlangs saam met Ford op ʼn sloertoer. Ons het dalk ʼn bietjie te veel gesloer en toe verpas ons ons vlug. Ek het aanvanklik kopgekrap oor wat Ford hiermee wou bereik aangesien ons al met die Everest gery het.

Dit is eintlik heel eenvoudig. Die Ford Everest is ʼn fantastiese voertuig. Die Sport- en Limited-weergawes, wat met vierwielaandrywing toegerus is, staan vir absoluut niks terug nie. Ons roete het oor 1 200 km gestrek – van die Kaapstad Internasionale Lughawe tot by die Wijnland Auto Museum. Oom Les maak voertuie vir die filmbedryf bymekaar. Hulle toor regtigwaar met geroeste wrakke wat dan in flieks op die grootskerm gesien kan word.

Ná die museum is ons eerste stop Matjiesfontein. Die jammerte is dat ek al ʼn klomp keer in my lewe die pad tussen Kaapstad en Johannesburg padlangs aangedurf het, maar nog nooit hier afgedraai het nie. Dit is voorwaar ʼn pragtige dorpie. Ons eet ʼn heerlike middagete, beurtkrag ten spyt, waarna ons die pad oor die Rooibergpas tot by Rooiberg Lodge vat.

 

Die Karoo betower tans. Die streek het heelwat goeie reën gehad en ʼn mens kan dit sien. Voordat ons by Rooiberg uitkom, is dit eers die Huisrivierpas op die R62. Dit het gereën en ek is die passasier. In die eerste draai wonder ek of hy gaan sit. Ek’s nie oortuig nie. Die twee Everests voor ons klou soos nete. Ek is steeds nie oortuig nie. My rymaat draai die stuur en die Everest vlieg om ʼn paar draaie soos ʼn sierskaatser. Ek sal nie ontken dat ek in ʼn stadium redelik benoud was nie. Nadat ek agtergekom het dat die Everest doodeenvoudig in ʼn liga van sy eie is wat padhouvermoë betref, het ek begin ontspan. In sy klas is die Everest ongeëwenaard wat padhouvermoë en bakrol op teer betref.

Ek is later agter die stuur teen die Rooibergpas af en toe is dit Willem se beurt om vastrapplek te soek ná die Everest bietjie boude uitswaai. Ek sal wel sê die vastrapbeheer het alles heeltemal onder beheer.

(Foto: Brendon Staniforth)

ʼn Klompie sinkplate en los klippe het die Everest ontsetel, maar die stelsels bring alles vinnig weer terug en veilig. Só besef ek dat die Everest Sport se maniere op ʼn grondpad net só indrukwekkend is as op teer. Fantastiese ritgehalte selfs op die enorme 20 duim‑wiele.

Goodyear EfficientGrip 2-bande word nou op die Everest gepas. Goodyear se belofte is 25% meer kilometers op die nuwe band, 4% korter remafstand op ʼn nat pad en 7% op ʼn droë pad. Bandvervaardigers is deesdae in ʼn stryd gewikkel om bande te ontwerp wat alles kan doen. Die band moet 20 duim wees, sag en stil ry, maar moet ook kan 4×4 en ʼn grondpad kan aandurf sonder om ʼn pap wiel te kry. Ek dink ons vra ʼn bietjie baie, maar ek sal wel sê die nuwe band op die Everest is werklik fantasties.

Die volgende oggend begin moeilik. Ek hou van stort, maar nie in koue water nie. Soos ʼn beer met ʼn seer poot strompel ek af ontbyt toe met die hoop dat ’n koppie boeretroos die situasie sal beredder. Knorrig sluk ek my ontbyt af en gelukkig kom sê die mense dat die gasverwarmer herstel is. Ek haas my terug kamer toe en vat ʼn lieflike warm stort. Nóú is ek reg vir die dag.

Ons ry nog so stukkie van die Rooibergpas, eet middagete by Diesel & Crème op Barrydale op die R62 en eindig in Montagu. Het jy al ooit ʼn melkskommel by Diesel & Crème gedrink? Indien nie, en jy’s ooit weer op dié pad, stop gerus. Die Nutella-melkskommel is hemels. Op die laaste stuk van die R62 voor Montagu kyk ons of die Limited met sy dubbelturbo baie sterker is as die Sport met sy enkelturbo. Skrams, maar hy kan hom nie wegry nie. Dit maak die Sport ʼn reusewinskoop.

(Foto: Brendon Staniforth)

Op Montagu gee Marchelle van Zyl vir ons ʼn toer van die pragtige dorpie… op fietse. Ons staan voor DF Malan se huis, of is dit eerder ʼn paleis? ʼn Pragtige huis wat nou in privaat hande is. Hy staan al amper 20 jaar leeg, maar daar is beslis iemand wat die tuin versorg. Marchelle wys ons ʼn oom se gastehuis. Hy het sy motorhuis in ’n klein museum omskep met meer as 2 000 modelkarretjies – almal Ferrari’s. Dis ʼn fantastiese versameling om te sien. Nog ʼn ding van Montagu – elke huis het ʼn asemrowende roostuin… dit is voorwaar pragtig.

Dit is egter op die derde dag waar dinge bietjie skeefloop. Ons ry vanaf Montagu terug N1 toe, dan na Sutherland – die koudste dorp in Suid-Afrika. By die Boorgat eet ons ʼn reusepizza. Daar is beurtkrag toe ons daar instap, en dit gooi die mense omver. Die kos vat lank en tussen ons en die lughawe lê die Oubergpas, die Tankwa en 340 km. In ʼn stadium kry ek ʼn pap wiel. Die enigste een tussen die ses voertuie oor 1 300 km. Indrukwekkend vir ʼn padband. Helaas, ons ry nog die buitewyke van Kaapstad in toe ons vliegtuig reeds opstyg.

Ons kry akkommodasie vir die aand, en die enigste plek wat krag en kos het, is by Grand West. Ek eet maar langtand aan ʼn heerlike bord calamari – nie oor die kos sleg is nie, maar die hartverskeurende pryse! Dan praat ons ook nie van die prys van ʼn bottel wyn nie.

Dis met dié wat ek besef. Die Everest het ons nie een keer in die steek gelaat nie. Eskom het, maar die Everest het die myle opgevreet, al 1 300 daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Jare terug het een van die dokters waar ek gewerk het, hierdie opgeblaaste bakkies, Sandton 4×4’s genoem. Deesdae ry elke gym-mamma een, met die verkeerde rede. So ek stem volhartig saam met die artikel, koop ‘n voertuig en gebruik dit tenvolle vir waarvoor hy gemaak is. Ons Ford Raptor word gebruik op elke terrein waarvoor hy gemaak is, dis baie pret.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.