Padlangs: Ranger XL opgeknap

Ford het iewers tydens die deurmekaar inperking sy meer bekostigbare bakkie, die XL, opgeknap met mooi sierwiele en ʼn paar tierlantyntjies. Ford het ʼn truuk in die mou … sy naam is Gideo Basson en hy beplan gewoonlik hul avonture en reistogte as dit kom by voertuie aan die media bekend stel. Gideo is ʼn man met ʼn asemrowende kennis van Suid-Afrika, ons paaie en plekke – en hy’t dié keer geensins teleurgestel nie.

Ons het op dag een Hoedspruit toe gevlieg. Dit was die eerste keer dat ek soontoe vlieg. Ek is seker daar is ʼn goeie aantal lesers wat Hoedspruit goed sal ken van hul weermagdae af. Dit is nou nogal vreemd om daar te land, mens taxi vir ʼn ewigheid van die lang aanloopbaan só al verby die loodse wat mooi onder groenigheid weggesteek lê.

Ná ʼn vinnige ete wag ʼn vloot Ford Ranger XL Sports vir ons. Die Ranger XL Sport is ʼn doodgewone XL onder die vel. Dit sluit in ʼn 2.2-TDCI-viersilinderturbodiesel, 118 kW en 385 Nm gepaard met ʼn 6-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas en vierwielaandrywing met laestrek en ʼn ewenaarslot.

Die bakkie spog met Ford se SYNC 3-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, twee lugsakke – ABS, EBD en vastrapbeheer. Ford se klimaatbeheer hou dinge koel in die kajuit, en die sitplekke is met ʼn lekker duursame lap oorgetrek.

Op die pad is dit vinnig duidelik dat die Ranger ʼn lekker reismaat gaan wees. Ek en Justin Jacobs van Avontuur Afrika is vol kattekwaad van die eerste kilometer af. Ons ry in die Blyderivierkloof in. Dit is regtig asemrowend mooi dié tyd van die jaar. Dit is grasgroen. Die drie rondawels lyk heeltemal anders van hier onder by die dam … dis asemrowend mooi. Ons sien ʼn paar seekoeie in die water dobber, krokodille – de lot.

Dag twee begin in die Blyderivier-omgewing – maar vandag is daar vir ons ʼn reuse-ervaring. Ons gaan oor ʼn bergreeks ry – op grond, met die Orrie Baragwanath-pas. Die toneel wat op ʼn mens daarbo wag, is asemrowend. Ek het dit al gereeld gevra. Mense, klim in jul bakkies … ry daai roete, vat daai grondpad – dit is regtigwaar die moeite werd.

Ons eindig die aand in Marble Hall. Die teerpaaie tussen Hoedspruit en Marble Hall is plek-plek amper slegter as die grondpaaie. Die Ranger knip nie ʼn oog nie.

Die Ranger het hom voorwaar fantasties gedra. Ons het 9.1 ℓ/100 km gehandhaaf oor die 800 km.

Die Ranger bly uiters gemaklik, en bied ʼn puik balans tussen ʼn dubbelkajuitbakkie en ʼn leefstylgesinsmotor waarmee sulke ontdekkingsreise voltooi kan word.

Die Sport-pakket voeg R16 500 by die prys van ʼn gewone Ranger XL. Die lyk só:

Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL enkelkajuitR396 700
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL outo enkelkajuitR412 200
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL superkajuitR418 600
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL outo superkajuitR432 100
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL dubbelkajuitR449 400
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL 4×4-enkelkajuitR458 000
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL  4×4-superkajuitR471 000
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL outo dubbelkajuitR471 900
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL 4×4-dubbelkajuitR500 800
Ford Ranger 2.2 TDCi Hi-Rider XL 4×4- outo dubbelkajuitR522 300

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.