Padtoets: Dié Honda sukkel…

Die Honda CR-V. Foto: Verskaf

Ek haal my hoed af vir die Japannese. Hulle bou uiters betroubare voertuie. Die meeste van hulle is ongelukkig in die laat twintigerjare tot nou deur ietwat van ʼn droogte as dit kom by inspirerende rygoed. Van hulle is onlangs genees van dié siekte… selfs Honda het onlangs een van die mees asemrowende Civic Type R’s ooit bekendgestel.

Dis wel ʼn jammerte dat die CR-V nie dieselfde revolusionêre resep gevolg het nie. Die CR-V is nie lelik nie, is goed gebou, sy binneruim is netjies… maar hy laat mens effe koud. Die atmosferiese 2.0-viersilinderpetrolenjin voel hier bo op die platorand asmaties, en as mens hom aan die sing wil kry moet mens 6 500 r/min gaan besoek om toegang tot 113 kW te kry. Die effe maer 189 Nm is beskikbaar teen 4 300 r/min. Indien dit ʼn klein sportiewe luikrug was sou ek heeltemal tevrede gewees het, maar mens wil nie aldag jou sportnutsvoertuig só ry nie.

Die Honda CR-V. Foto: Verskaf

Daar is nóg ʼn probleem. Honda se palwisseltransmissie (CVT). Nissan en Subaru het nou al hulle transmissies só geprogrammeer dat dit ratwisseling naboots. Honda sʼn is heeltemal reg as mens regtig net rustig rondrits, maar sodra jy die 113 kW wil besoek en jou voet in die mat begrawe, dan klim die omwentelinge en die geraas tot ʼn eienaardige vlak. Aan die positiewe kant is die krag dan daar en die CR-V tel sy tekkies op en hol.

Dit klink of ek die motor haat… maar dis regtig nie die geval nie. Dit is ʼn goeie ryding, maar in ʼn mark waar die Volkswagen Tiguan bestaan, lyk dit vir die Honda nie goed nie. As ons die Tiguan uit die prentjie haal, behoort die CR-V beter te vaar saam met sy atmosferiese mededingers van Toyota, Nissan, Hyundai, Mazda en Kia.

Die Honda CR-V. Foto: Verskaf

Die CR-V se spesifikasievlak is goed en daar is niks waarna mens verlang nie. Ritgehalte en padhouvermoë is ook in die kol. Een ding wat vir my uitstaan as ʼn goeie punt is die stuurgevoel van die CR-V. Die Honda voel uiters stabiel en vas op die pad, en dit verbeter die ervaring.

Honda het ʼn indrukwekkende waarborg van 5 jaar/200 000 km. En daar is ʼn oplossing vir die asmatiese enjin – Honda se eie 1.5T-weergawe, maar daai model is skrikwekkend duur. Vir baie mense gaan die handelsmerk dit in Honda se guns kan swaai, en dis puik – solank hulle lekker ry. Gaan toetsbestuur self een en kyk of ek verkeerd is.

Die reeks lyk só:

CR-V 2.0 Comfort113 kW/189 Nm7.3 ℓ/100 kmR427 300
CR-V 2.0 Elegance113 kW/189 Nm7.3 ℓ/100 kmR482 800
CR-V 1.5T Executive AWD140 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR590 600
CR-V 1.5T Exclusive AWD140 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR633 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Rav4 2.0 GX outo107 kW/187 Nm7.4 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R395 300
Hyundai Tucson 2.0 Premium outo115 kW/196 Nm9 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R404 900
Mazda CX-5 2.0 Dynamic outo121 kW/210 Nm6.8 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R424 000
Kia Sportage 2.0 EX Plus114 kW/192 Nm8.1 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R474 495
Volkswagen Tiguan 1.4TSI Comfortline outo110 kW/250 Nm6.1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R489 900

Tussen dié mededingers is die Toyota regtig ʼn winskoop, al is sy spesifikasievlak effens laer as die ander. Die Volkswagen is die enigste turboaangejaagde model, en die duurste – maar net R7 100 duurder as die Honda, en my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marix ·

Dankie vir die berig in pragtige Afrikaans!
Ek hou ook BAIE van die Tiguan!

Vraagteken ·

Totdat hy jou in die steek laat. Duitse goed hou nie baie lank nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.