In die motorwêreld beskryf ʼn mens ʼn motor met ʼn alledaagse ontwerp met skrikwekkende krag ʼn sleeper. Ek dink Hyundai het sopas, sonder opset, hul eie sleeper bekendgestel. Welkom almal aan die doodgewone Hyundai Elantra.
Wel, dit is nie regtig doodgewoon nie. Dié Elantra steek ʼn redelik-sterk 1 591cc viersilinderturbo-petrolenjin onder sy kap weg. As ek sê redelik sterk, bedoel ek eintlik regtig sterk. Daar skuil 202 perde onder daai enjinkap, of in Suid-Afrikaans – 150 kW en 265 Nm. Die wringkrag gaan nie jou oë uit jou kop laat val nie, maar glo my – as ʼn mens net ʼn gewone Elantra verwag en die bomklapper onder die enjinkap gaan af, sit dit mens skoon aan die giggel. Ek en my vrou het die Elantra herdoop. Ons noem dit die Hyundai Surprise!
Die Elantra se enjin is aan Hyundai se tweelingkoppelaar-ratkas gekoppel. Die ratkas gedra hom goed en skakel lekker vinnig ratte oor. Dit is egter nodig, aangesien die enjin so haastig is.
ʼn Spoed van 100 km/h word van stilstand in slegs 7,7 sekondes behaal. Die Elantra is beperk tot 210 km/h. Verder is al wat vir jou die idee gee dat dit ʼn sportiewe Elantra is, die bloedrooi bekleedsel binne en ʼn Turbo embleem op die sierrooster. Ek het aanvanklik gedink dit gaan kitsch lyk – tóg nie. Dit pas by die motor. Dit sitplekke is uiters gemaklik, en die stuurkolom kan lekker verstel sodat ʼn mens gemaklik sit.
Padhouvermoë is heeltemal goed vir dié klas motor, maar as jy op sy senuwees klim met al die 202 perde begin die arme voorbande sukkel. Dit is wel normaal vir soveel krag op ʼn voorwielaangedrewe sedanmotor. Die Hyundai beskerm jou met ses lugsakke, elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer en ABS-remme.
Al die luukshede is in die kajuit ingeprop. Daar is sleutellose toegang, Bluetooth, klimaat en spoedbeheer, navigasie, outomatiese ligte en ruitveërs, en ʼn selfverduisterende truspieëltjie. Die Elantra het ʼn 458 ℓ kattebak en goeie beenruimte vir agterste passasiers. Deur en deur ʼn lekker gesinsmotor, met ʼn tweede persoonlikheid waarmee pappa (of mamma) vriende mee kan word as hul bietjie brandstof in hul are het.
Die Elantra Sport is maklik om op te som. Dit is nie belaglik duur nie, bied fantastiese verrigting – en beter spasie as van die warmerige luikrugmotors op die mark. Hyundai se waarborg is verskriklik sterk, en – die element van verrassing as jy by die ligte wegjaag laat mens weer 18 voel! Ek is gek oor Surprise!
Die reeks lyk só:
Elantra 1.6 Executive | 93kW/ 155Nm | 6.5ℓ/100km | R299 900 |
Elantra 1.6 Executive outo | 93kW/ 155Nm | 6.9ℓ/100km | R314 900 |
Elantra 2.0 Elite | 115kW/ 195Nm | 8.3ℓ/100km | R349 900 |
Elantra 1.6 Turbo Elite Sport | 150kW/ 265Nm | 7.9ℓ/100km | R399 900 |
Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg en ʼn 5 jaar/ 90 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Model | Krag | Ekonomie | 0 – 100km/h | Topspoed | Waarborg | Prys |
Ford Focus 1.5T Trend outo | 132kW/ 240Nm | 6.1ℓ/100km | 9 sek | 220km/h | 4 jaar/ 120 000km waarborg 4 jaar/ 80 000km diensplan | R330 900 |
Honda Civic 1.5T Sport | 127kW/ 220Nm | 5.9ℓ/100km | 8.2 sek | 200km/h | 5 jaar/ 200 000km waarborg 5 jaar/ 90 000km diensplan | R442 900 |
Audi A3 sedan 2.0TFSI outo | 140kW/ 320Nm | 5.6ℓ/100km | 6.8 sek | 250km/h | 1 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R468 000 |
Vinnige sedanmotors buite die premie-mark is dungesaai. Die Elantra Sport sit tussen die Honda en die Audi in terme van verrigting. Al die mededingers kan nie op die Audi se vlak speel in terme van binneruim kwaliteit nie. Indien ʼn vinnige sedan op jou inkopielys is – kyk maar na almal, maar ek glo die Elantra is ʼn ware wenner teen die prys.
As ek moet kies tussen Hyundai, Mercedes,Audi, of enige van die luukse motors staan Hyundai no1 hulle is die ander ver vooruit in alles. HYUNDAI BO!!!!!!!!