Padtoets: Dié Subaru nie sommer enige stasiewa

Die nuwe Subaru Levorg (Foto: Subaru)

Stasiewaens het ʼn slegte naam. Ek dink dit kom van die jare toet toe ʼn stasiewa regtig groot en lelik was. Dit het my altyd laat dink aan ʼn lykswa. Dit is tog nie deesdae die geval nie. Die eerste mooi stasiewa, in my opinie – was die Audi RS2 van 1994. Die RS2 was die produk van ʼn kort samewerking tussen Audi en Porsche.

Deesdae is al die Audi-stasiewaens mooi. En daar is nou ʼn nuwe outjie op die blok, die nuwe Subaru Levorg. Hy is nog nie beskikbaar in Suid-Afrika nie, maar sal wel hier bekendgestel word. Dink aan die ouer Impreza WRX-wa, jip – dis hy.

Die nuwe ontwerp is vir my regtig mooi en ʼn reuseverbetering op die lelike luikrug-Impreza. Die binneruim is tipies moderne Subaru, en Japannees. Dit is doelgerig en netjies uitgelê. Die plastiek is eerder duursaam as hard en onaangenaam. Dit sitplekke is gemaklik en die kajuit geheel en al ergonomies uitgelê.

Die nuwe Subaru Levorg (Foto: Subaru)

Die tegnologie aan die binneruim is waar die nuweling beïndruk. Subaru het ʼn nuwe funksie wat hulle EyeSight noem. Dit is ʼn stereo-kamerastelsel wat in samewerking met die spoedbeheer werk, en ook aktiewe veiligheidstelsels. Indien jy die spoedbeheer gebruik, sal die voertuig nie nader as ʼn sekere volgafstand aan die voorste kar kom nie. Sodra daai voertuig nie meer in die pad is nie, sal die voertuig weer versnel na die gestelde spoed. Ek’t die stelsel een oggend op pad werk toe uitgetoets, en die stelsel bring die Levorg tot stilstand indien die verkeer stop. Sodra die verkeer weer begin beweeg, dan versnel die voertuig weer so saam die verkeer. Indrukwekkend. Die stelsel het ook baanbeheer, dit wil sê daar is waarskuwings en ʼn klein piepgeluid wat jou laat weet dat jy uit jou baan uit beweeg. Indien die stelsel dink dis nodig, sal die stelsel ʼn noodstop kan doen sonder die bestuurder se hulp.

Subaru gebruik nou slegs palwisseltransmissies in hul voertuie. Ek hoor al die motormanne gal braak, maar die enigste vervaardiger wat die palwisseltransmissie bemeester het, is Subaru. Dit ry soos enige doodgewone outomatiese ratkas. As jy baie rustig ry, klim die toere tot by so 2 000 r/min, en die ratkas doen die res. As jy haastig is en die versneller in die mat begrawe, dan werk die ratkas meer soos ʼn gewone outo. Hy is geprogrammeer om ratwisselings na te aap. Die 2.0 bokser-viersilinder-turbopetrolenjin bied 197 kW en 350 Nm. 0 – 100 km/h word in 6.6 sekondes afgelê en hy sal aanhou hol tot 240 km/h.

Die nuwe Subaru Levorg (Foto: Subaru)

Een ding waaroor ek nie gaande is in die nuwe Levorg nie, is die feit dat die vering nie die tipiese sagte Subaru-eienskap het nie. Subaru-vering was altyd sag, en dit het die Subaru toegelaat om op slegte paaie soos ʼn besetene, maar ongedeerd, te kon ry. Ja, daar was bakrol – maar op alledaagse paaie, met hobbels en kinke en krulle het jy nie nodig gehad om jou te bekommer dat die Subaru se vering nie sal kan byhou nie. Die Levorg ry op nuwer 18”-wiele met laeprofielbande. Dit, gepaard met die harder Bilstein-vering, beteken dat mens draaie met graagte kan aanpak, maar as die pad sleg raak, gaan jou niere nie daarvan hou nie. Subaru sê vir my die facelift Levorg wat in Suid-Afrika bekendgestel sal word, se vering is sagter gemaak.

Die jammerte is dat Suid-Afrikaners nie mal is oor ʼn stasiewa nie. Deesdae koop ons net klein luikrugmotors, sportnutse en bakkies. Die Levorg is basies ʼn sportnuts sonder die hoër vering. Daar is Subaru se wêreldberoemde simmetriese allewielaandrywingstelsel, sitplek vir vyf en ook vir brakkie in die kattebak. Ons haak wel vas by die hoog sit, en grondvryhoogte. Indien jy wel reis en grondpad ry, beslis – koop ʼn Forester, maar as jy nooit grondpad ry nie, is die Levorg regtig ʼn veelsydige gesinsmotor, met naelloopskoene – en sou dit ooit sneeu, het jy die allewielaandrywing – mens weet nooit met vandag se weer nie.

Die Levorg lyk só:

Levorg 2.0GT-S197 kW/ 380 Nm8.7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan

Die Levorg se prys is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.