Padtoets: JMC Boarding Euro IV 2.8 TD Lux

Die JMC Boarding Euro IV 2.8 TD Lux (Foto: JMC)

JMC het Maroela Media onlangs gekontak en gevra of ons sou belangstel om die jongste JMC Boarding te toets. My laaste ervaring met ʼn enkelkajuit werkesel was in die laat 90’s met ʼn 2.4D Hilux LWB op ʼn plaas net buite Pretoria. Ek het toe besluit, ʼn wildboervriend wat tans self ʼn enkelkajuit bakkie gebruik om mee te boer sal vir my die regte insette kan gee. Ek het vir Kallie ingespan om ʼn bietjie met die bakkie te werk en dan vir my terugvoer te gee.

ʼn Mens hoef nie baie ver terug te dink om te onthou dat alle bakkies eintlik werkesels was nie. Bakkies is deesdae sag en meer leefstyl georiënteerd. Maar nie die JMC Boarding nie. Plat op die grond met ʼn lang asafstand en ʼn reuse-laaibak agterop – as werkperd lyk dit belowend.

Die kajuit is gemaklik en ergonomies genoeg uitgelê hoewel die materiaal van die binneruim te hard is vir hedendaagse standaarde. Die chemikaliese reuk in die kajuit is te sterk en onaanvaarbaar. Dit is nie die eerste Chinese voertuig waarin ek ry wat dié reuk het nie. Dit is die plastiek waarvan die paneelbord, deurkaarte en vloerbedekking gemaak word wat so stink. Die spieëltjies kan nie van binne verstel word nie, iets wat in die verlede moontlik nie gepla het nie, maar deesdae is ons meer gewoond.

Die JMC Boarding Euro IV 2.8 TD Lux (Foto: JMC)

Die instrumente is lekker duidelik, maar is vir my te helder in die nag. Nes die instrumente is die hoofligte ook lekker helder. Die radio kon nie stasies in Pretoria opvang nie – maar wel RSG en moet nie te veel van die klankkwaliteit verwag nie. Die flikkers en ruitveërs se skakelaars skakel met ʼn harde klapgeluid aan en ek het elke keer gedink ek het dit afgebreek. Die ratkastonnel is baie breed en daar is dus nie baie ruimte vir jou linkerbeen langs die koppelaar nie – seker iets waaraan mens sal gewoond raak.

Die ritgehalte in die Boarding is vir my bietjie van ʼn raaisel. Die agtervere is kliphard. Dit moet so wees om behoorlik vrag te kan dra, maar dan is die voorste vering heeltemal te sag. Dit het vir my gevoel of die voorste skokbrekers gedaan is – seker onmoontlik op ʼn bakkie wat maar 5 000 km afgelê het? Voor voel dit soos ʼn Cadillac en agter soos graniet. Die stilering is ook nie waffers nie en die enjin dreun nogal in die kajuit op die oop pad teen hoë snelheid.

Die JMC Boarding Euro IV 2.8 TD Lux (Foto: JMC)

Gepraat van die enjin. Die 2.8-turbodieselenjin voel eintlik heel goed op die pad. As jy voet in die hoek sit is daar lekker wringkrag wat die Boarding aanhou stoot tot bo 140 km/h, heeltemal verbasend en indrukwekkend lig op diesel. Hoewel die ratkas positief tussen sy ratte wissel voel hy tog bietjie grof.

Dit is moeilik vir my om die Boarding op te som. Dit is ʼn goedkoop en eenvoudige opsie. Die Boarding kos R185 000. Tog is dit baie geld as die bakkie nie gaan hou nie. Ek dink indien die Boarding as ware werkesel gebruik word, gaan hy dalk nie lank hou nie. As ek aanlyn kyk vaar die Boarding nie so goed met tweedehandse waarde nie. Ek dink as jy ʼn bakkie nodig het wat hard kan werk en langer hou gaan een van die mededingers jou ʼn beter opsie bied. Die Boarding is ʼn tree agteruit teenoor die indrukwekkende Vigus wat ons laas getoets het. JMC – bring eerder die Vigus in ʼn enkelkajuit.

Die reeks lyk so:

Boarding 2.8 TD88 kW/ 245 Nm7 ℓ/100 kmR174 880
Boarding 2.8 TD Lux88 kW/ 245 Nm7 ℓ/100 kmR184 880

Daar is tans ʼn aanbod vir R10 000 kontant terug op ʼn nuwe Boarding. Die reeks word gedek deur ʼn drie jaar/ 100 000 km waarborg.

Die kompetisie lyk so:

Nissan NP300 Hardbody 2.5TDi98 kW/ 304 Nm8 ℓ/100 km6 jaar/ 150 000 km waarborgR229 900
Isuzu KB25058 kW/ 170 Nm7.9 ℓ/100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R236 500
Ford Ranger 2.288 kW/ 285 Nm6.6 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborgR239 900
Toyota Hilux 2.4GD110 kW/ 343 Nm7.1 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R272 100

Tussen die kompetisie is dit slegs die Isuzu en Toyota wat diensplanne het. Die Isuzu is wel verskriklik stadig en lui, maar dien as werkesel al vir jare. Vir die geld – as jy ʼn werkperd soek glo ek nie jy sal die Isuzu kan breek nie. As ek bietjie meer geld gehad het sou ek die Toyota koop, die Hilux het homself al oor dekades bewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wicus ·

MY PERSOONLIKKE OPINIE IS AS JY NA HOM KYK GAAN HY NA JOU KYK

Daan Erasmus ·

Kyk gerus na die laaste paar jaar se Motor van die jaar uitslae. Dan sal jy sien motor joernaliste is so geloofwaardig soos Zuma. Glo my ek ry self ‘n JMC. Stok ou tegnologie maar rateltaai. Vergelyk appels met appels.

Koos1 ·

Brendon, ek is baie bly jy het die “LUX” model gekry om te toets, want as hulle “LUX” op die bakkie sit en jy moet die spieëls buite stel, dan wonder ek of die “gewone” een hoe genaamd ‘n spieëljie aan die linker kant sou hê!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.