Padtoets: Jongste Kia Sportage die beste?

Die Kia Sportage 1.6 GDI. Foto: Verskaf

Motorjoernaliste word regtigwaar baie bederf. Wanneer daar ʼn nuwe toetsmotor by die kantoor opdaag, is ʼn mens altyd gretig om te sien watse speelgoed hy in het.

Die splinternuwe Kia Sportage 1.6 GDI is Kia se intree‑Sportage. Aan die buitekant lyk hy net soos enige ander Sportage, dalk met effe kleiner wiele. Andersins, doodgewone Sportage. Die binneruim is ook soos enige ander Sportage, behalwe dalk die materiaalbekleedsel. Moet wel nie dat dit jou afskrik nie, die sitplekke is uiters gemaklik.

Ek sê materiaal is ʼn duisend maal beter as leer van ʼn swak gehalte… veral onder die Afrika-son. Verder het die Sportage al die nodige luukshede soos elektriese vensters, spoedbeheer, lugreëling, wat vir my beter werk as van die klimaatbeheerstelsels wat tans beskikbaar is, en Bluetooth.

Die Kia Sportage 1.6 GDI. Foto: Verskaf

Die kajuit is lekker ergonomies uitgelê en alles voel goed aanmekaar gesit. Daar is ʼn magdom veiligheidstelsels soos ABS met EBD, ses lugsakke met ISOFIX‑ankerpunte vir ʼn babastoel, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, afdraandbeheer en parkeerhulp.

Dit bring ons by die enigste nadeel van die Sportage. Die kombinasie van die atmosferiese 1.6‑viersilinderpetrolenjin en die 6-spoed‑outokas laat die Sportage van tyd tot tyd effe pap voel. Die enjin bied 97 kW en 161 Nm wringkrag – wat nie te versmaai is nie, maar dít gepaardgaande met die lang ratverhoudings in die outo is eerder die probleem.

Daar is egter ʼn oplossing. Die ratkas is ʼn tiptroniese tipe – so ʼn mens skuif net die rathefboom oor, skakel ʼn rat of twee terug, klim die bult en as jy oor is, skuif die rathefboom terug na D… so maklik soos dit. ʼn Groot voordeel van dié enjin is die feit dat dit ʼn GDI (Gasoline Direct Injection)‑enjin is met direkte brandstofinspuiting. Dit bied twee groot voordele: direkte brandstofinspuiting bied baie beter wringkrag én brandstofverbruik as enjins met gewone brandstofinspuiting.

Die Kia Sportage 1.6 GDI. Foto: Verskaf

Die 16”‑wiele waarmee die 1.6 GDI toegerus is, kom in 215/70/16. Dit is ʼn lekker groot profiel, en bied fantastiese ritgehalte. ʼn Mens moet deesdae vêr soek om karre te kry wat so lekker sag ry. Die sagte rit kom nie ten koste van padhouvermoë óf bakrol nie. Die Sportage ry op sy lekkerste teen so 140 km/h op die snelweg. Net jammer dis teen die wet.

Ek het vir ʼn rukkie met myself gestry oor dié Sportage. Ons kla alewig oor hoe duur karre is. Dán, as ʼn vervaardiger vir ons ʼn goedkoper model bied, dán huil ons weer hy is nie sterk genoeg nie. Ek dink die Kia Sportage 1.6 GDI bied ʼn puik oplossing vir 95% van die publiek.

Ja, daar is mense wat meer krag wil hê – en hulle sal daarvoor moet betaal. Nege-en-negentig persent van die tyd, as ʼn mens in die verkeer drentel op pad werk toe, gaan jou Sportage perfek werk… en dit doen glad nie skade dat dit só mooi aanmekaar gesit is nie.

Die reeks lyk só:

Kia Sportage 1.6 GDI Ignite 6-spoed outo97 kW/161 NmR379 995
Kia Sportage 2.0 Ignite Plus 6-spoed handrat115 kW/196 NmR389 995
Kia Sportage 2.0 Ignite Plus 6-spoed outo115 kW/196 NmR403 995
Kia Sportage 2.0 CRDI Ignite Plus 8-spoed outo131 kW/400 NmR453 995
Kia Sportage 2.0 EX 6-spoed outo115 kW/196 NmR459 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX 8-spoed outo131 kW/400 NmR509 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX AWD 8-spoed outo131 kW/400 NmR536 995
Kia Sportage 2.0 EX Plus 6-spoed outo115 kW/196 NmR499 995
Kia Sportage 2.0 CRDI EX Plus 8-spoed outo131 kW/400 NmR549 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/90 000 km‑diensplan met 5 jaar padbystand.

Die kompetisie lyk só:

Haval H6C 2.0T City outo140 kW/310 Nm9,8 ℓ/100 km5 jaar/ 100 000 km‑waarborg

5 jaar/60 000 km‑diensplan

R359 900
Peugeot 3008 1.2T Active Limited Edition96 kW/230 Nm5,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

4 jaar/ 60 000 km‑diensplan

R378 900
Mahindra XUV500 2.2CRDe W8103 kW/330 Nm6,5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

5 jaar/100 000 km‑diensplan

R383 499
Ford Kuga 1.5T Ambiente110 kW/240 Nm6,2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

6 jaar/90 000 km‑diensplan

R391 000
Renault Koleos 2.5 Expression126 kW/233 Nm8,1 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km‑waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R399 900
Toyota Rav4 2.0 GX127 kW/ 203 Nm6,8 ℓ/ 100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

Ses dienste met diensplan

R416 400

Tussen die mededingers bied die Haval ʼn reusewaardeproposisie. Die Renault Koleos en Toyota Rav4 is fantastiese pakkette teen ʼn klein verhoging in prys. My raad is – kyk na almal, een gaan beslis jou hartsnare roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Die Haval H2 1.5T outo lux is beslis ‘n kyk en toetsbestuur werd. Mensig, BAIE kar en speelgoed vir R60k minder.

JWC ·

Baie waar Koos! Net daardie 1.5 liter enjin wat maar aan die dors kant is…. as die Chinese dit kan regstel, is die Haval eintlik ‘n baie goeie produk!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.